Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck страница 12

Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck

Скачать книгу

siening is. Sou sy in die ruimtes van ons kontinent dalk tot nuwe insigte kom? Afrika is een van die min plekke op aarde waar jy nie heeltyd deur radar, saam met al die ander soorte bestraling, gebombardeer word nie.

      “Dit is so jammer dat selfs op die Suid-Afrikaanse platteland selfoontorings nou soos giftige naalde oral opspring en al die mooi versuur,” sê ek. “Meeste mense het geen benul dat ons besig is om die laaste skoon lug vir gevaarlike white noise te verruil nie en dat dit ’n toenemende gevoel van onverklaarbare rusteloosheid en lyfpyne, gewasse en kankers tot gevolg het.”

      My suster staan gebukkend by die venster. Sy maak of sy oordrewe gaap met haar hand voor haar mond. “Spaar my asseblief jou toespraak oor die gevare van 5G. Ek wéét. Oorsee is dit oral. Die bye vrek, die bome en voëls dood, maar steeds neuk die mensdom voort. Die New World Order wil van ons zombies maak.”

      Ek klap my tong. My suster dink als wat ek sê is conspiracy theories. Sy sal nog sien.

      Ons kyk vir oulaas na Pa se skoene wat oor die afritbord hang.

      “Goeie idee, maar sorrie om te sê, dit sal baie gou afgesteel word,” skakel ek die enjin weer aan.

      “Dit sal nice wees as iemand die skoene vat. ’n Tweede lewe. Pa sou daarvan gehou het.” Met die inklimslag bewonder sy haar handewerk opnuut.

      By Koringberg draai ons in. Hier het Pa eens skoolgegaan. Ouma Okahandja lê ook hier by haar man.

      Nadat ons Pa-hulle se stasiehuis langs die treinspoor opgespoor het, ry ons deur die paar strate en kom op Pa se ou skool af. Die reghoekige gebou is herkenbaar uit foto’s wat ek jare gelede al van ons pa se kinderdae en vorige besoeke gesien het. Hier het ons as dogtertjies by die begraafplaas raas gekry omdat Pa ’n preek oor ons familiegeskiedenis wou afsteek en ons aan die giggel was.

      Daar was toe nog nie ’n padstal nie, en ons het koffie uit ’n fles in die kar gedrink. Dit was winter en my suster het handskoentjies aangehad wat veroorsaak het dat haar beker gevaarlik bly gly het. Ek vra my suster of sy dit ook onthou. Sy is besig om na alle kante toe foto’s te neem.

      By Pa se verlate ou laerskool klim ons uit. Snaaks dat ons die skool nooit saam met hom besoek het nie. Bokant een deur is steeds ’n bordjie wat lui “St. 2” en ’n ander een wat sê “Prinsipaal”.

      Dink my suster ook wat ek dink? Hoe pynlik graag ek Pa nou hier by ons sou wou gehad het. Hoe lekker ons sou gelag het en hoe hy dit kinderlik sou geniet het. ’n Diepe weemoedigheid wurg aan my strot. Tot my verligting loop my suster rond om verder foto’s te neem, of miskien gebruik sy haar kamera om haar gevoelens weg te steek.

      Ek wil snik van verlange.

      Die verlede lewe hier. Kinderstemme en voetstappe beweeg teen die trappe en op die breë stoep by my verby. Ek vat aan die skool se verweerde naambord waar van die letters weg is en vee oor die duiwemisspatsels teen die mure.

      Dis moeilik om te glo ons is regtig hiér.

      My suster gaan verken die dorpie wat sy laas as dogtertjie gesien het, maar ek bly agter. Kon ek die gebou maar koop en iets liefliks daarmee doen! Hier waar Pa ’n kind was.

      Lank sit ek op die trap van Pa se ou laerskool. Ek korrel deur die tralies van ’n outydse gegewelde hekkie in die rigting waar die dorp se begraafplaas lê. Was dié trap hier toe hy as seuntjie soggens voor skool van sy donkie se rug deur die klaskamervenster na binne gegly het?

      Onder die bloekombome sien ek die groepie kaalvoetseuns met borselkoppe. Hulle drom om een kind saam en kort-kort loer iemand oor sy skouer. “Jy belowe, nè?” vra die een wat pas ’n muntstuk in my pa se hand gedruk het. Pa is die jongste versekeringsagent waarvan ek nog gehoor het. Die ander seuns betaal hom voor skool en dan vat hy die skuld en die slae vir wat hulle ook al dié dag doen.

      Voor ons reis het ons ’n afspraak gemaak met ’n tydgenoot wat nog op die dorp woon. “Ons het geweet wanneer julle pa weer by die hoof se kantoor vir sy hoeveelste pak van die dag aangetree het, want mens kon die gekap-kap van sy ysterskoene hoor,” sê die man toe ons by hom aangaan nadat my suster my op die skooltrap kom kry het.

      Die verteller se oë bly by ons borste vashaak. Elke keer wat sy oë dwaal, lek hy sy blouerige volprostaatlippe af. Ek oorweeg dit om hom met een emosielose kop-teen-tafelblad-beweging van sy spulsheid te genees.

      “Jou pa het baie pak gekry, maar nooit gehuil nie, tot die onderwysers agtergekom het iets rym nie.” Die hormonale ou man lag. “Seker die gedagte aan al die geld wat hy gemaak het. Jou pa was mos van kleins af lief vir die geklingel van sente in sy sak.”

      Sy oë dwaal weer.

      Lig op jou hemp, wil ek vir my suster sê. Sodat jy vir hom ’n prentjie kan agterlaat wat hy nie gou sal vergeet nie. Die flippen breë tepelringe wat my bralose suster dra, is een van haar dom aandenkings van die Amerikaanse weermag. Iets wat jy glo doen terwyl jy weke lank ledig in tente rondsit en diet soda drink en selfoonvideo’s neem van soldate wat die “Macarena” doen. Die ringe het die metaalverklikkers by elke liewe lughawe op ons terugreis na Suid-Afrika laat afgaan. My suster moes haar borste al aan soveel doeanepersoneel ontbloot dat een belustige oom op Koringberg nie ’n verskil sal maak nie.

      “Miskien moet jy vóór ons deur die verklikkers loop, jou hemp oplig,” het ek voorgestel nadat ons weer eens uit die rye geroep is.

      Die vlug moes letterlik vir ons wag nadat ’n botgesig vrouebeampte haar gevra het om haar tepelringe te verwyder. Toe hulle in ’n woordewisseling betrokke raak, is ons na aparte kamertjies vergesel en ondervra.

      “I served this country! I put my life on the line so that you and your family can live in safety,” hoor ek my suster deur die afskorting skree. A, die weermagtroefkaart. Nou wag ek dat sy haar rangnommer opsê en daarop aandring dat die beampte dit laat bevestig óf ons laat deurgaan.

      Om my irritasie te onderdruk, vra ek my ondersoekbeampte of ek iets kan gaan kry om te eet. Hy’s nie geamuseerd nie. “If you are a Namibian, why are you travelling on a South African passport?”

      My goeie liewe vlok. Is ék miskien die een met die tepelringe? Ek hét ’n bra aan. ’n DD, Boetman. Jy gee nou die verkeerde suster moeilikheid.

      Hoe verduidelik mens dié goed in ’n eerstewêreldland waar hulle nog voorgee hulle is nie so korrup soos in Afrika nie? “Een baie warm nag – mens kon die goggas teen die ligte hoor doodskroei – was ek besig om oor die grens na my tuisland toe terug te kom nadat ek by my oupa in Suid-Afrika gekuier het. Die Namibiese grensbeamptes vat toe mooitjies my dubbele paspoort en gebruik ’n pons om dit vol gaatjies te druk. Daarna het die vrouebeampte, stewig in haar uniform ingedruk, ook ’n skêr gevat en my dokument in stukkies begin knip. Dié het sy vir my met ’n vaak gesig terugbesorg in ’n gebruikte koevert met olierige vingermerke op. Die koevert het na kerriemince-vetkoek geruik. Terwyl hierdie proses aan die gang was, sou sy soms in haar verwoesting van my reisopsies vries en vra of ek enige bier in my voertuig het. Nee? Pons-pons. Biltong of dalk ’n koedoe? Wéér nee. Knip-knip. Hoe kleiner die stukkies van my paspoort geword het, hoe meer het haar gesig in teleurstelling gehang.”

      Ná Koringberg stop ons op die berg by Kardoesie om vir ons iets te ete te bestel. Ek gebruik die geleentheid om gou een van Pa se nommers te skakel, maar my suster betrap my. “Is jy wéér besig om hóm te bel? Is jou kop reg? Moet ek my meer oor jou bekommer as wat ek reeds doen? Die man is dood. Kapoet. Finis. Hy het die tydelike met die ewige verwissel. Jy besef dit, nè?”

      “Ag,

Скачать книгу