Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck страница 16

Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck

Скачать книгу

beampte wink ’n meer senior kollega nader. Geluide van ongeduld uit die ry agter hom: “This is insane!” sê ’n Amerikaner aspris hard.

      Die senior beampte kyk uitdrukkingloos na die rekenaarskerm terwyl sy met lang naels deur sy paspoort bly blaai.

      Die man loer na sy polshorlosie en let daarop om sy asemhaling egalig te hou. Die oomblik wat hy dit regkry om sy perspektief na ’n groter geheel te verskuif, is dit asof gemoedelikheid van hom na die amptenare uitkring. Die senior beampte se gesig verhelder in ’n glimlag, terwyl die junior lyk of hy uit ’n katatoniese waas gewek is.

      “O,” knik die senior beampte. Haar hele liggaamshouding verander sigbaar. “O, ek sien. U is ’n gereelde reisiger.” Sy maak ’n geïrriteerde gebaar na haar kollega, vou die Suid-Afrikaner se dokumente netjies op ’n stapeltjie en laat gly dit deur die gleuflaai na hom toe terug. “Dankie vir u geduld, Meneer. Ons moes net baie noukeurig wees, want twee vrouepassasiers met ’n soortgelyke paspoort het onlangs aandag getrek. Geniet u reis en kom veilig terug!”

      Junior knik instemmend en lig twee vingers in ’n byna-wuif.

      Wat eet jou?

      “Wat wil jy my vra? Vra dan!”

      Ons is nog ’n hele ent voor Klawer se One Stop. My kleinsus se bruin hare hang oor haar skouer. Dit is weer lank soos toe sy klein was en sy en Ma na die kind- en volwasse weergawe van dieselfde mens gelyk het. “Ek’s bly jy het jou hare weer laat groei. Daai borselkop-look van Demi Moore was ook net so lank sexy en daarna het jy net hard en verbitterd gelyk.”

      “H’m,” sê sy, maar vat nie die aas nie. “Presies die look waarna ek gemik het.”

      Vantevore kon my suster oor niks anders as die weermag praat nie, maar nou is sy in die gesondheidsbedryf. Wel, soort van. “Cutting-edge stuff,” lag sy wanneer ek haar uitvra. Hulle vervaardig medisinale dagga.

      Jare lank was sy ’n militaris en toe sy eers by die weermag aangesluit het, was Pa liries.

      Daar was meer foto’s van haar in aksie as gekoopte grade teen Pa se kantoormure. “Die beste PhD wat ek ooit gedoen het,” sou Pa altyd op die een naaste aan hom tik wanneer Fabula die dag bietjie bekaf was. Dit was Pa se gunstelinggraad van dié wat sekretaresses namens hom verwerf het.

      “Uitmuntende navorsing!” het Pa gereeld vir Fabula gelukgewens wanneer sy hul werk vir hom moes voorlees. In Amerika het Pa meer as een huis gehuur. Een rede was sodat Fabula in vrede kon swot – onmoontlik wanneer Pa naby is – of wanneer hy genoeg gehad het van die geroesemoes om hom. Hy het graag met dié huis gespog, want dit sou glo aan Dolly Parton behoort het. Heel moontlik het Pa net op ’n dag ’n beboesemde vrou met groot hare daar sien verbyry, maar wie sal weet?

      Die Dolly-huis is waarheen Pa vir my, Adriaanus en die poepholbrigade verban het wanneer hy onder druk was. Pa kón nie net afskakel nie. Dit is ’n begrip wat vir hom nie bestaan het nie.

      “Ander mense smag na vakansies, maar sy vakansie is die paar gulsige happe waarmee hy sy kos afsluk,” het my ma gesê. Pa het byna altyd soos ’n verhongerde dier geëet. Nie ’n aptytwekkende gesig om te aanskou nie. Nogtans was hy baie gesteld op die tafelmaniere van almal om hom. Eintlik was hy besonder beskaaf; praat van dele wat nie pas nie.

      My vlugtige vertoef by ’n afrondingskool in Switserland was nog ’n grap.

      “’n Dônnerse duur grap,” sou Pa voor gaste spog. Nietemin een hengse lekker ondervinding en blootstelling wat my insig in die mentaliteit van die boonste strata van die samelewing sou gee. Daar het ek van naderby gesien hoe onseker, arrogant, diep onnosel, totaal afgesny van die realiteit, of vol sports party adellikes en verspot rykes kon wees.

      “Eintlik nogal soos rehab,” skets ek dit vir my suster, wat vir ’n ruk so bar was dat ek benoud was om ’n kamer met haar te deel.

      “Wat verwag jy? Ek moes hoe lank my toiletsake byeenskraap met iets wat soos ’n koekskepper lyk en dit in versengende hitte in ’n ziplock in my rugsak saamdra.”

      “Yuck! In Afghanistan?”

      “I never want to think of it again. Daai kak is verby,” sê sy stadig en duidelik ingenome met haar Afrikaans.

      “Ons was net eleganter aangetrek en gegrimeer aan die ontbyttafel,” gaan ek voort oor my dae in die finishing school. “Vra my tog asseblief hoe om ’n granaat te sny sonder dat ’n korrel wegrol. Of hoe mens uit ’n limo klim sonder dat jou ghwar wys. Maar die afrondingskool wag seker nou nog dat die rekening vereffen word. Ek het die granate skaars bemeester of Mister Thompson kontak my om te sê Pa is opgesluit en dat dit na ’n langtermynsessie lyk.”

      “Hektiek! Vertel?”

      “My dear, ek’s bevrees als is gevries en jy sal jou slim uit die voete moet maak om jou verleentheid te spaar. Ek kon deur my kontakte ’n vliegtuigkaartjie vir jou reël.”

      Mister Thompson was oor my besorg. Die Skotse weergawe van ’n kort en koddige James Bondjie wat altyd net buite die grense van my lewe met ’n kierie vorentoe tree wanneer nodig.

      Ons was al ’n rukkie in die Dolly-huis voor Pa vir die eerste keer self na die huis kom kyk het. Dit was dekades voor Mr Price Home, en nie een van ons het al sulke reusagtige kunsplante gesien nie. Dus het Adriaanus hulle bly natmaak tot die water oor die wit-en-swart teëlvloer gestroom het. Dié plek was vir ons aanvanklik ’n bron van verwondering. Daar was meer spieëls as waarna ’n gesonde mens wou kyk en dié teen die plafonne was net vir die mans opwindend.

      Al die beddegoed was van swart sy. As jy nie uit jou bed gly nie, sit die lakens aan enige skurwe hakskeen vas en trek jy alles af wanneer jy opstaan. Bo-oor die spieëls in die gang en sitkamer was swart sebrastrepe, terwyl van die mure goudgeel was. Die sitkamerstel het ons aanvanklik stomgeslaan. Daar was ’n rooi-en-groen beblaarde bank met ’n ontwerp van rissies en koolkoppe. Ook deursigtige plastiekstoele en gestoffeerde rooi hoërugstoele.

      Pa was nog in die bespieëlde ingangsportaal toe hy al in sy spore vastrap: “Wat gat hier aan?” Met duidelike ongemak het hy opgekyk na sy eie beeld wat van verskillende hoeke af na hom aankom.

      Almal het gewag om Pa se reaksie op die cowboy te sien. Die byna lewensgrootte cowboy was ’n swart standbeeld van ’n ruiter met hoed en lasso op ’n perd wat op sy agterpote staan. Pa het die beeld soos ’n opgewonde skoolseun bewonder en so hittete of dit is gelaai. Ek kon dit sien aan die vinnige beweging van sy oë wat meet of die standbeeld in die gang af en in sy Mercedes sou pas.

      Die bewondering het nie lank gehou nie. “Nee, magtig!” het Pa gegril toe hy aan die cowboy raak.

      “Dis plastiek wat met velvet oorgetrek is, Boss,” het Adriaanus opgewonde uitgebars soos ’n man wat geheimenisse ontrafel. “My strikdas vir die matriekafskeid in Vanderbijl was ôk velvet. Ek ken van dié goed.”

      Adriaanus het die man-te-perd opgetel om te wys hoe lig dit eintlik is, al lyk dit swaar. “Dít was nou vir jou onverwags.” Pa het net daar op sy hakke omgedraai. Hy was nie geheel en al teen kômmin nie, maar volksvreemde kômmin het hom ongemaklik gestem.

      Wanneer

Скачать книгу