Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck страница 17

Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck

Скачать книгу

keer Fabula hom gevra of gedreig het nie, as jy weer daar kom, lê die hele plek vol skietgoed en pypskoonmakers.

      “And where am I supposed to put all Boss’s research? Vat weg julle toys!”

      Fabula is saam met ons na Pa se gradeplegtigheid vir sy doktorsgraad en die geselligheid daarna, waar Pa nie geskroom het om aan haar erkenning vir haar aandeel te gee nie. Ewe vrolik het hy heildronk ná heildronk op haar en húl poging ingestel.

      Fabula het tradisionele Lemba-kleure aangehad, met groot bronsringe in haar hare ingeweef. Pa moes spesiaal ’n vrou, oorspronklik van Jamaika af, opspoor wat kans gesien het om volgens Fabula se instruksies dié dag lange taak aan te pak.

      Soos ’n lewende kunswerk is sy deur almal bewonder. Selfs Chana het Fabula gekomplimenteer oor hoe ongelooflik sy gelyk het. Ek het Chana nogal bewonder vir die wyse waarop sy skynbaar nie deur Fabula en Pa se intieme verstandhouding bedreig was nie.

      Maar dit sê ek nie vir my sus nie.

      My suster wil-wil haar verbeel dat sy by was, maar ons kan nie onthou watter jaar dit was nie. Sy krap in die tassie rond om te kyk of daar foto’s van die geleentheid is.

      “Got them!” Sy wikkel die pakkie foto’s uit ’n rekkie los. “Nah, I’m not on any of these. Moes voor my tyd gewees het. Jy lyk soos ’n teekoppie.”

      Ek vat ’n paar foto’s by haar aan en hou dit oor die stuurwiel vas. Op een staan ek met ’n poniestert bokant my oor langs die Lemba-skoonheid.

      Blykbaar was ek maer genoeg vir ’n moulose, gekartelde, goue rok, met ’n Madonna-handskoen sonder vingers aan een hand.

      “Genade!” trek ek my gesig. “Sulke dinge het gebeur. Dit was die tagtigs.”

      Iewers moet jy net vrede daarmee maak en aanbeweeg, troos Tintin my in die stem van my suster. Ons lag oor hoe verspot my uitrustings destyds was.

      “Ek hou van die blou oogskadu soos ’n reënboog bo elke oog. Very endearing.”

      Precious Cargo was Pa se kodenaam vir my kleinsus en uiteindelik het almal haar só begin noem. Nieteenstaande hoe ek kleintyd deur enige cowboy en crook kom haal is, was Pa heilig op háár veiligheid. Nadat my suster saam met haar bataljon ontplooi is, kon ek dikwels agterkom hy is diep ingedagte. Aan die een kant kon Pa nie ophou praat van sy jongste dogter se weermagloopbaan nie; terselfdertyd was hy ook stiller en meer teruggetrokke.

      Een aand tref ek Pa en Behrouz in die hoofhuis se kombuis aan. Behrouz maak vir hulle toebroodjies, en tussen hulle staan ’n tweeliter-melk wat nou-nou leeg sal wees.

      “Hulle beter goed na Precious Cargo kyk of ek keer hierdie plek om.” Pa het ’n melksnor. “Anders stuur ek vir jou en Fred om haar te gaan haal.”

      Behrouz vee self met die rugkant van sy hand ’n paar melkdruppels van sy swart baard en knik. Die baard het grys strepe bygekry sedert hy kort-kort by Pa in Amerika inval. Eens het Behrouz karaktervolle Oosterse klere gedra, maar deesdae sien ek hom net in sweetpakke waarin sy eens gespierde boudjies al poens trek.

      Pa was ’n bende van een. En ’n permanente entourage was nodig om in die bende se behoeftes te voorsien. Hoe Pa se vroue dit met sy ewige posse uitgehou het, begryp ek nie. Wie ook al met Pa getrou het, moes weet sy sou nooit alleen met hom in die huis wees nie.

      Nog ’n aand tref ek vir Pa in sy eie sitkamer se kroeg met sy ewige geel skryfblok aan.

      “Wat skryf Pa so?”

      “Ek is besig. Gaan slaap.”

      Hy wou nie deur my gesteur word nie. “Ek probeer uitwerk waar jou suster dalk gestasioneer kan wees.” Hy het op sy onderste lip gebyt. “Ons moet op bystand wees, ingeval …”

      Pa het dit gehaat om magteloos te voel. Om iemand vir eens in sy lewe nie te kon opspoor nie.

      “Ingeval wat?”

      Hy het nie geantwoord nie, net die staanlampie langs hom wat van ’n gegote rewolwer gemaak was, afgeskakel. ’n Ou truuk as hy nie wou hê mens moes emosie op sy gesig sien nie. Of as hy eenvoudig nie verder met jou wou gesels nie. Vir ’n oomblik was ons twee bekende vreemdelinge wat ongemaklik in dieselfde donker vertrek asemgehaal het.

      Voor Pa die lamp afgeskakel het, het ek ’n glas op die tafel by hom gemerk. Hy was nie maklik ’n alleendrinker nie. Wel Coke Zero. By die kratte, ja. As Mister Thompson by was, was dit wyn. En met Fred Enjin aan huis het die manne ge-Chivas Regal. Brandy en Coke is net in Pa se kroeg toegelaat as die besoekers Suid-Afrikaanse regeringsamptenare, spioene of eks-spesmagte was. Selfs Adriaanus moes vir hom ’n ander drankie aanleer.

      Lank, lank gelede, toe ek nog jonger was en Pa vir my nog goed vertel het, het ek hom gevra hoekom hy nie daarvan hou as mense onder ons dak brandy en Coke drink nie.

      “Is dit te kômmin, hè, Pa?”

      “Dit is omdat dit my aan mense herinner wat die grootste lafaards is wat ek al ooit ontmoet het. Mense wat nie skroom om iemand in ’n rolstoel te martel nie.”

      Knip-knip my oë en ek staan in die donker voor Pa, met ’n weemoedig kaal gevoel, asof my enigste bedekking ’n ongemaklike en harde stortgordyn is.

      Ek het Pa genuine jammer gekry omdat hy kon wonder waar sy een dogter haar geografies bevind, terwyl sy ander dogter, reg voor hom, lankal vermis word.

      “Dalk het hy nie eens besef hy het jou verloor nie,” sê my suster sag.

      Ek skrik. Ek’t nie besef ek het hardop gepraat nie.

      Sy draai skuins op haar sitplek: “Ek was die maklike dogter omdat ek minder getraak het, maar jy was die sensitiewe een. En jy was kleintyd groot genoeg om al die drama te onthou, ek nie. Sorrie.” Sy vat aan my arm.

      Onwillekeurig verwissel ek my arm se posisie.

      “Nou is jy nes Ma! Wat is dit met julle twee wanneer mens aan julle raak?”

      ’n Bus slapende passasiers, koppe ongemaklik teen die ruite, ry by ons verby. Heimlik is ek bly oor die onderbreking, want intimiteit met familielede maak my ongemaklik.

      As kind het ek gereeld met die Mainliner-bus tussen Namibië en Suid-Afrika gery en dikwels in die onderarmwalms van mans gesit wanneer die lugverkoeling op die koffie was. Daai tyd was die drankies op die bus nog gratis, onthou ek.

      “Ek was nooit jaloers omdat jy Pa se oogappel was nie,” sê ek ná ’n rukkie. “Dit het my eerder getroos dat daar iemand is met wie Pa opreg kon wees sonder om ’n show op te sit. Daar was ’n band tussen julle wat dalk vir ’n rukkie tussen my en hom bestaan het, maar ná die dag van die egskeiding in die prokureur se kantoor het dit nooit herstel nie. Ma en Pa het vriende gebly, maar ék en Pa het geskei.”

      ’n Hoesie los ’n spoegdruppel op die stuurwiel, wat ek afvee.

      “En dit was net ’n refleks. Ek het nie bewustelik my arm weggetrek nie. Seriaas.”

      ’n Paar kilometer verder herinner ek my suster aan ’n toneel toe sy so sestien jaar oud was. “Soek maar die foto,” beduie ek. “Dit moet daar êrens wees, want nadat jy beskonke uitgepass het, het ek jou

Скачать книгу