Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray страница 6

Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray

Скачать книгу

gelede het ’n vreemdeling by hierdie hospitaal ingestap, die roetine omvergegooi, vir suster Dreyer teater toe geroep, op ’n Sondagaand ’n keisersnitbaba in die wêreld gebring, teedrinkpouses afgeskaf, saalrondtes verander, operasietye verskuif en, les bes, tant Liefie van kop tot tone ondersoek en sodoende reggekry wat nie sy of enigiemand anders in veertien dae kon regkry nie. En op die koop toe het hy vir Kruisrivier “Dokkie” geword. As ’n nagedagte flits dit ook deur haar: En reeds so bekend geword by die personeel dat sy voornaam spontaan en natuurlik oor suster Dreyer se lippe kom.

      “Môre, tant Liefie. Ek kan sien dit gaan baie beter, nè?”

      Die grys kop knik en die kraalogies bestudeer die matrone noukeurig. “Môre, matrone. Nee, vandat Dokkie my onder hande geneem het, is ek sommer weer jollie. Jy moet dat hy na jou ook kyk.”

      “Na mý, tante?”

      “Ja. Jy lyk maar olikrig vir my, of hoe, sustertjie?” wend sy haar tot die saalsuster wat haar ooglede vinnig neerslaan. Dan keer die ogies terug, openlik nuuskierig. “En waar was jy dan vanmôre? Ek het Dokkie gevra, maar hy sê toe jy is besig. Gewonder wat van jou geword het. Gedog Dokkie het jou ook opgefieks. Hy laat die klomp darem nou ronddrawwe, sowaar. Rekent, ligdag vanmôre toe het hy die klomp al hier met skeermesse en goeters.”

      “Tante! Tante! Dis stout om so van die ander te skinder!” betig Elsa laggend en Anmar moet ook maar teen wil en dank glimlag.

      Dat Paul van Drüten beslis besig is om die hele hospitaal, van die matrone tot by die kok in die kombuis, “op te fieks”, word baie duidelik in die dae wat volg. Alles word anders en op ander tye gedoen, maar dit is vir Anmar duidelik dat haar personeel nie omgee nie. Veel eerder lyk dit asof hulle hierdie warrelwind wat die hospitaal getref het, geniet. Daar is ’n wakker gees onder die personeel en sy moet tot vervelens toe hoor: Dokter Van Drüten het gesê . . . Dokter Van Drüten wil dit só hê . . . Dokter Van Drüten reken . . .

      Ook by die vergadering van die hospitaalraad moet sy hoor: Dokter Van Drüten het voorgestel dat suster Dreyer se pos geadverteer word en dat sy permanent na die teater oorgeskuif word. Dokter Van Drüten het gedink dat . . . En so rammel dit aan – totdat Anmar soos ’n uitgewekene wonder wat haar doel en funksie dan nog is. Ook dokters Brits en Faure het oornag in die gewoonte verval om te sê: Matrone, hoor maar by Van Drüten hoe hy dit wil hê.

      Anmar het geen keuse nie. Sy is in die middel van hierdie stroom en moet teen wil en dank saambeweeg, maar dat sy dit net doen omdat die oormag teen haar te sterk is, is baie duidelik vir die groen oë om te sien. Dat sy nie ’n enkele woord onnodig met hom praat nie en hom waar moontlik vermy, is ook duidelik. Dat die gemoedelike gees van saamwerk en saamspan voor matrone se kantoordeur eindig, is vir almal duidelik, maar dat die nuwe superintendent hom geensins daardeur laat afskrik nie, is ewe opvallend.

      Daar word steeds op die fynere punte gelet, maar nou in ’n ontspanne, gemoedelike atmosfeer. Soms klink daar selfs ’n skaterlag uit een van die sale op, en dan weet matrone Cloete dat die superintendent in die omtrek is. Dan sorg sy dat sy in die teenoorgestelde rigting padgee. Maar nie altyd kan sy hom vermy nie, en die enkele kere dat sy wel verplig is om stil te staan en te luister, doen sy dit met neergeslane oë en ’n uitdrukkinglose gesig en haar “Goed, dokter” is so koud soos ’n Noordpoolwind.

      Niemand sal raai hoe die matrone die ou hospitaalroetine mis nie. Hoe sy verlang na die tyd toe sy saam met Oudokter geskrop en haar plek langs hom by die operasietafel ingeneem het nie. Hoe sy verlang om weer saam met die dokters op hul rondtes te stap en deel te hê aan aktiewe verpleging nie. Niemand weet hoe verskriklik eensaam en uitgesluit matrone Cloete in haar kantoor voel nie.

      Dis net snags wanneer sy rusteloos rondrol – iets wat deesdae meer die reël as die uitsondering is – dat sy maar opstaan en soos van ouds by die sale en privaat kamers inglip, dikwels sonder dat die nagsuster haar eens sien. Dis wanneer sy dan oor ’n pynverwronge gesig buk, ’n bietjie water aan droë, gebarste lippe bring, of sommer net ’n swak hand bemoedigend druk dat sy weer deel van haar hospitaal word, weer weet dit is háár wêreldjie hierdie; en dat sy haar nie deur Paul van Drüten daaruit gaan laat verdryf nie.

      Die nagpersoneel wat haar soms gewaar, vind dit nie juis vreemd nie. Hulle weet dat matrone soms gedurende die nag by die ernstiger gevalle kom inloer. Dis die een gebruik wat klaarblyklik die totale metamorfose vrygespring het.

      Anmar is dankbaar dat niemand dit nog nodig geag het om dokter Van Drüten van hierdie besoeke te verwittig nie, want sy is oortuig daarvan dat hy wel daarmee fout sal vind. Daar is niks, op die aarde niks, waarmee hy tot dusver nié fout gevind het nie.

      Anmar maak ook altyd baie seker dat daar nie die vaagste moontlikheid bestaan dat sy die superintendent miskien laatnag raakloop nie. Dit sou haar dus tot in haar siel geskok het as sy moes hoor wat tant Liefie een oggend aan ’n geïnteresseerde Paul van Drüten te vertelle het.

      “Jy sal haar nooit herken as jy haar snags hier moet raakloop nie, Dokkie. Bedags lyk sy so . . . hoe sal ek sê? So beduiweld en sonder gevoel. Maar snags is sy ’n ander mens, mooi en sag en . . . raai, ek wil al sê soos ’n engel. Miskien is dit maar die sagte lig wat haar so laat lyk, maar nietemin.”

      “Kom sy elke nag?” wil hy sameswerend weet.

      “Nee. Nie altyd nie. Maar veral Saterdag- en Sondagnagte. Dan kom sy gereeld.”

      Hy kom orent toe die suster in die saaldeur verskyn en kyk waarskuwend na tant Liefie. “Moenie sê dat tante my vertel het nie, hoor? En oom Gielie stuur groete,” sê hy harder toe die suster by hulle aansluit. “Ek het die ou ook nou op behandeling en tante sal moet sokkies optrek om by te bly wanneer ek met hóm klaar is. Hy jaag nou al wat weduwee is daar in die ouetehuis rond.”

      “Dit glo ek! En hulle sal hulle ook maar te graag laat vang, die lawwe ou goed!”

      “Hm. Ja. Dan is oom Gielie gelukkiger as ek. Ek is besig om my bene af te hardloop om ’n sekere persoon in die hande te kry. Ek sal dankbaar wees as sy net ’n slag sal gaan staan.”

      Anmar kom onwillig tot stilstand. Daar is ’n oproep vir hom in haar kantoor en terwyl sy iets met die saalsuster wil bespreek, het sy gedink om sommer self die boodskap te kom gee.

      Niemand het haar in die deur sien verskyn nie, want almal is diep geïnteresseerd in die gesprek tussen hom en tant Liefie. Sy kan duidelik sien hoe tant Liefie se kraalogies blink van nuuskierigheid.

      “Wie is sy, Dokkie? Ken ek haar? Hoe lyk sy?”

      “Nee, tante. Só maklik gaan ek myself nie verraai nie. Maar sy is pragtig, hoor. Ek wil amper sê soos ’n engel in gedempte lig.”

      “Nou wat beteken dit?”

      Hy skud sy kop en draai laggend om. “Probeer dit maar self uitredeneer.” Die glimlag verdwyn uit die groen oë toe hy haar gewaar.

      “Daar is ’n oproep in my kantoor vir u, dokter.” Sy draai dadelik na die saalsuster. “Suster, mevrou Viljoen se man het gebel.”

      Anmar maak seker dat ’n redelike tyd verloop voordat sy weer na haar kantoor terugstap, maar tot haar misnoeë sien sy dat hy steeds agter haar lessenaar sit toe sy binnestap, sy oë peinsend en opsommend.

      “My pa stuur groete. Ek het met homself gepraat. Dit gaan goed.”

      “Dankie. Ek is bly om dit te hoor.”

      Sy stap na die deur, maar toe sy haar hand op die knop sit, staan hy agter haar en heel besadig vra hy:

Скачать книгу