Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray страница 7
“Ek wil jou oor niks spreek nie, maar daar is baie waaroor ons moet praat, nie waar nie? Ek was ontsettend besig die afgelope weke, maar dinge begin nou stadigaan vorm aanneem. Van nou af sal daar meer tyd vir ons twee wees.”
“Vir ons twee?”
“Ja, matrone. Vir ons twee.”
Anmar lyk weer bleek. “As u klagtes oor my het, moet u dit voor die hospitaalraad lê, dokter.”
“Ek sien kans vir jou sonder om die hospitaalraad se hulp in te roep.” Die groen oë is meteens nie meer fronsend en skerp nie, maar opsommend. “Jy sál pragtig lyk in gedempte lig.”
“Ek . . . skuus?”
“Nee. Net ’n gedagte. Iets wat tant Liefie gesê het. Nou ja, matrone, ons praat later. Ek is besig om te onderhandel vir nog ’n vennoot. Ek het alle hoop dat dit suksesvol sal wees, en dan sal ek tyd hê vir die belangrike dinge wat tot dusver noodgedwonge agterweë moes bly.”
Vir die eerste keer vandat sy haar oë die eerste maal op hom laat rus het, glimlag hy. En hy lyk skielik so jonk, so heeltemal anders as die man met wie sy tot dusver te doene gekry het, dat sy voel hoe haar hart meteens saamruk. Terselfdertyd lyk hy ook weer so bekend, so pynlik bekend, dat haar gesig werktuiglik verstrak.
Teen haar eie reëls in stap sy reguit na haar woonstel sonder om af te draai na die eetsaal. Dis een van haar strengste reëls: alle verpleegsters moet alle etes bywoon. Maar die afgelope tyd het sy self al hoeveel keer oortree. Somber staar sy voor haar uit terwyl sy vir haar ’n koppie tee maak.
Hy sê dat hy haar nóú eers onder hande wil begin neem. Besef hy dan nie dat hy reeds haar hele bestaan só ontwrig het dat sy soos ’n vreemdeling in die vertroude hospitaalgange voel nie? Ook haar private lewe het hy totaal beduiwel.
Hy het skielik hier aangekom met ’n paar oë en ’n mond wat vir haar so hartverskeurend intiem bekend was dat sy elke keer as hy voor haar verskyn het intuïtief teruggedeins het van die herinneringe wat dit in haar wek. Elke keer as sy hom die hospitaalgange sien afstap het, moes sy haar staal teen die vloed van herinneringe wat haar wou oorval. Selfs die manier waarop hy sy kop skuins draai wanneer ’n swart haar moedswillig oor die hoë voorkop val as hy vooroor buk om ’n pasiënt te ondersoek, het haar heeltemal oorstuur.
O, so baie dingetjies aan hom het die verlede weer skielik teruggeplaas in die hede. En netnou, toe hy skielik met haar geglimlag het, was dit asof ’n ysterhamer haar hart getref het daar waar die letsels van gister se wonde nog lê, ou wonde wat sy net begin glo het uiteindelik heeltemal genees het. Nou weet sy dat die genesing net bolangs was; dat daar êrens, diep binne-in, nog ’n rou kol lê.
Watter groter ontwrigting beoog hy nóg vir haar? Wat kan hy nog meer doen om die skaduwees van gister terug te bring?
Nie vir die eerste keer nie speel sy met die gedagte om liewer te bedank en weg te gaan. Hy vind haar ’n hopelose matrone en was brutaal genoeg om dit sommer reguit in haar gesig te sê. Hy het haar nou al so uit die hospitaalbedrywighede uitgewerk dat sy kwalik nog haar salaris verdien. Elke dag voel sy meer nutteloos en oorbodig. Kruisrivier se hospitaal kan nou voorwaar sonder haar dienste klaarkom.
Voordat hy gekom het, was sy die spil waarom die hospitaal gedraai het. Sy was hier en daar en oral. Niemand sou droom om sonder haar ’n operasie te doen nie. Ernstige gevalle het haar persoonlike aandag geniet. Haar vinger was gedurig op die pols van alles in “haar” hospitaal.
Nou is dit nie meer “haar” hospitaal nie. Dis Paul van Drüten s’n.
Hy het net eenvoudig hier ingestap en haar teruggejaag na haar kantoor.
Sy weet ’n matrone se plek is in haar kantoor waar sy grootliks administratiewe pligte het. Sy weet ’n matrone is net veronderstel om met pasiënte in aanraking te kom tydens haar saalrondtes. Sy weet al hierdie dinge. Maar Kruisrivier se hospitaaltjie is te klein om ’n matrone heeldag besig te hou met administratiewe pligte. Wat meer is, dit was vir haar, wat verkies het om eenkant te leef, noodsaaklik om met haar pasiënte kontak te hê. Dit was dié menslike kontak wat haar aan die res van die mensdom gebind het en haar nie in totale isolasie laat verval het nie.
Maar dokter Van Drüten het daardie dun draad onmiddellik geknip, en Anmar besef op hierdie oomblik dat hy nie net die skaduwees van gister teruggebring het nie, maar van haar ’n eensamer mens as ooit tevore gemaak het. Sy het nie eens vyf jaar gelede so oorbodig en verwese gevoel as juis vandag nie. En dis alles Paul van Drüten se werk.
Sy probeer onthou wat Oudokter haar alles van sy seun vertel het, maar dis asof die seun wat Oudokter geskilder het nie dieselfde mens kan wees wat soveel ontwrigting in haar lewe gebring het nie. Oudokter het maar net, soos alle ouers, met die oë van ’n vererende vader na hom gekyk, meen sy.
Maar dan . . . Dis net teenoor háár wat hy so dwars optree. In ’n korte paar weke het hy al byna sy pa se plek in die harte van Kruisrivier se mense ingeneem. Dat hy dieselfde slag het om met mense te werk en hul vertroue te wen as sy pa, is selfs vir haar duidelik. Die pasiënte eet behoorlik uit sy hand en die verpleegsters val omtrent oor mekaar om sy bevele stiptelik uit te voer. Selfs Karel Brits en Naas Faure luister wanneer hy praat. Nee, dis net met háár dat hy so krities en foutvinderig is. Net vir háár wat hy nie kan verdra nie.
Dat hy ’n goeie dokter is, moet sy toegee. Dat Kruisrivier nog nie só ’n snydokter gehad het nie, nie eens in Oudokter nie, dit weet sy. Dat sy kwalifikasies gans te hoog en gevorderd is vir die gemeenskappie van Kruisrivier, sal sy sonder skroom erken. Maar wat moeilik is om te aanvaar, is dat hy nie net as dokter nie, maar ook as mens baie gewild is op Kruisrivier, en beslis deur die vroulike geslag as aantreklik beskou word.
Iets in haar skram weer weg. Sy het al twee keer sy motor op ’n Saterdagaand voor die verpleegsterstehuis sien stilhou. Elsa Dreyer het elke keer byna eksoties gelyk as sy haar verskyning maak, en teen wil en dank moes Anmar toegee dat Paul van Drüten self imponerend vertoon . . . en die leegheid binne-in haar het ’n eindelose put geword.
Sondagaand wink tant Liefie heftig met die handjie toe sy die gestalte in die deur gewaar wat vanuit die saal op die stoep uitloop.
“Ek het nie gedink jy sal dit maak nie, Dokkie.”
Hy buig laag oor haar en fluister: “Ek het soos die duiwel gery om hier te kom. Ek is bevrees ek het die spoedbeperking vanaand hopeloos oorskry. Al iets gewaar?”
“Ja. Sy is nou net by daardie privaat kamer se deur in,” wys tant Liefie die gang af en gril van pure lekkerte. Sy het nog altyd van sulke geheimsinnigheid gehou. Maar terselfdertyd wil die nuuskierigheid haar opvreet. Hoekom sal Dokkie soos die duiwel uit die stad uit jaag om die matrone voor te lê op haar nagtelike ronddwalery? Sy hou hom terug toe hy dadelik wil beweeg. “Jy gaan nie met haar raas nie, Dokkie. Raai, sy was gisteraand hier by my ook en sy het proppers hartseer gelyk.”
“Hartseer?”
Sy stem is skerp en tant Liefie hou ’n waarskuwende vinger op. “Sjuut! Wil jy die hele saal wakker hê? Ja, hartseer. Haar oë het geblink toe sy vir my sê: ‘Ek sal nie meer lank hier wees nie, maar ek hoop tante sterk mooi aan en word weer heeltemal gesond’.”
“So? Het sy gesê waarheen sy gaan en wanneer?”
“Nee, ek wou nog vra, maar sy het weer vinnig weggestap. Raai, die Dreyer-sustertjie vertel vir almal wat wil luister hoe ’n beduiwelde mens sy is en so aan, maar ek het die gevoelentheid