Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray страница 8
“Nee, ek wou maar net sê . . . Jy moenie te haastig wees nie, Dokkie. Die Dreyer-sustertjie praat al klaar asof jy háár property is, maar kyk almal maar eers goed deur, hoor? Leer ken eers dié enetjie wat snags so hier rondloop.”
’n Gerusstellende hand vou oor hare. “So is die plan, tante. En moet tante nie steur aan wat ander mense sê nie. Ek weet wat ek wil hê en ek gaan dit kry ook. Daar is sy nou. Totsiens.”
Hy glip soos ’n skaduwee deur die saal en bereik die deur net toe Anmar inkom. Tant Liefie kan die matrone se verskrikte asemteug duidelik hoor en sy glimlag ingenome. Tot haar grootste teleurstelling egter, du die dokter die matrone by die saal uit en druk die stoepdeur saggies agter hulle toe.
In die flou maanskyn kyk Anmar na hom op. Wat soek hy hier? Hy het die naweek vir sy pa in die stad gaan kuier. Hy was nie veronderstel om voor môreoggend terug te wees nie!
“Goeienaand, matrone.”
“Naand, dokter.”
“Is daar miskien fout met een van my pasiënte?”
“Nee. Nee, ek het sommer net na mevrou Greyling kom kyk. Ek het iets in my kantoor kom haal en toe . . . toe sommer gou daar ingeloer. Maar sy slaap rustig.”
“Ek is bly om dit te hoor. En die vorige kere?”
“Die vorige kere?”
“Ja, soos gisteraand en die ander aande wat jy deur die hospitaal dwaal? Het jy elke keer iets in jou kantoor kom soek en dan toevallig by die ernstige pasiënte ingeloer?”
Anmar swyg, kyk weg, so diep teleurgesteld dat sy meteens kan huil daarvan. Iemand het haar gaan verklik.
Sy begin aanstap en sy is bewus daarvan dat hy saamstap.
“En nou gaan jy my dit ook verbied, soos jy my reeds alles verbied het.”
“Ek is bevrees ek moet. Jy moet jou losmaak van hierdie hospitaal, Anmar.”
Sy hou haar kop afgewend. Duideliker kan hy dit tog nie stel nie. Sy voel meteens ontsettend moeg. Weke lank al skop sy vergeefs teen die prikkels; probeer sy haar man teen hierdie man staan, maar nou weet sy sy het verloor. Sy kan maar oorgee.
“Ek sal my bedanking die end van die maand indien.”
Hulle het buite om na haar woonstel gestap, en hy maak nou die deur vir haar oop, wag dat sy eerste moet stap en volg haar dan.
Sy skakel die hoeklampie aan en draai terug na hom. “Of as u verkies dat ek gouer moet gaan . . . Ek het uitstaande verlof.”
“Ek het jou nie om jou bedanking gevra nie. Dis nie wat ek in gedagte gehad het nie – altans, nie nou al nie.”
Sy vee moeg oor haar oë en sak in ’n stoel neer. Natuurlik, ja. Al beteken sy deesdae minder as ’n nul op ’n kontrak, moet ’n hospitaal darem ’n matrone hê. Haar pos sal eers geadverteer moet word. Sy sal nie kan gaan voordat hulle iemand in haar plek gekry het nie. ’n Mens gooi nie vuil skottelgoedwater weg as jy weet daar is nie ander water nie . . .
“Ek is seker suster Dreyer sal die pos maklik kan behartig saam met die teaterwerk. Sy is baie bekwaam – soos u van die eerste oomblik af self uitgevind het.”
“Ja, Elsa is baie bekwaam en ’n gebore teaterverpleegster. Daarom dat ek haar onmiddellik na die teater oorgeplaas het. Sy was bitter ongelukkig in die saal.” Hy vang haar blik. “Nee, jy het dit nie geweet nie en ook nie ondersoek ingestel oor die rede hoekom suster Dreyer jou blykbaar nie goedgesind is nie. Die eenvoudige rede was dat jy al die teaterwerk vir jouself ingepalm het en nooit daaraan gedink het dat iemand anders miskien ook bitter graag teaterwerk sou wou doen en dit eintlik sou verkies het bo saalwerk nie.”
Die grys oë is ysig en sy kyk na hom op, dink nie eens daaraan om hom te vra om te sit nie. “Is dít wat sy jou vertel het? Dat ek al die interessante werk vir myself ingepalm het?”
“So het dit vir haar en die res van jou personeel voorgekom. Die rondtedoenery saam met die dokters het nog ’n wanindruk geskep. Die susters het die gevoel gekry dat jy hulle nie vertrou om hul werk reg te doen nie. Jy moes altyd by wees. Ook die ernstige gevalle waarop jy jou persoonlike aandag afgedwing het. Dis alles dinge wat jou personeel anders vertolk het.”
“Maar hulle het dit verkeerd vertolk,” sê sy in heftige verweer en wonder vaag hoekom sy haarself voor hierdie man probeer verontskuldig. En tog hoor sy haar eie stem: “Ek het dit nie so bedoel nie. Ek wou help.” Sy beduie moedeloos met haar hand, maar dan glip die uitdrukkinglose masker wat ’n oomblik wou wegskuif terug oor haar gesig. Hy sal nie verstaan nie en sy kan nie aan hom verduidelik nie. Wat sal hy weet van eensaamheid, van mensverlatenheid, van ín ’n wêreld te lewe maar nooit werklik deel daarvan te wees nie?
“Ek weet. Ek weet dit nou. Aan die begin was ek ook mislei. Jy het dit nie juis maklik gemaak vir my om tot die regte gevolgtrekking te kom nie. Soos toe ek daardie Sondagaand op mevrou Swanepoel geopereer het. Ek het dit vir haar geestestoestand nodig geag om nie langer met die operasie te sloer nie. Hoekom sal ek ’n vrou wat al soveel jare op haar baba moes wag nóg ’n onnodige klomp ure in die grootste spanning en vrees hou as ek die angs net sowel dadelik kon verlig en haar kind in haar arms neerlê?”
Anmar kyk weg. Toe die stilte te lank rek, besef sy dat hy nog altyd daar is en dat sy oë nou weer op haar gerig is met daardie peinsende uitdrukking wat haar so ontsenu.
“Wil . . . wil u nie sit nie, dokter? Ek kan ’n koppie tee gaan maak.”
“ ’n Koppie tee sal baie welkom wees, want ek het myself nie langs die pad tyd gegun vir stilhou nie. Ek was te haastig om hier te kom.”
Sy knik net en stap deur na die kombuisie. En toe hy hier kom, was Elsa weg, dink sy. Sy het gesien hoe een van die jong boere van die distrik die teatersuster vanaand kom oplaai het. Elsa, soos sy, het hom nie vanaand al terug verwag nie.
Sy pak ook beskuitjies op ’n bord en stap terug na die sitkamer, sien dat hy gemaklik agteroor leun in een van haar diep stoele, sy oë gesluit. Sy plaas die skinkbord saggies neer en gaan sit, laat haar oë oor die vreemd bekende gesig dwaal, maar tog is dit meteens asof dit nie meer so seermaak nie.
Sy kyk al ’n rukkie in die groen oë vas voordat sy besef dat hy haar op sy beurt sit en betrag en elke wisselende gelaatsuitdrukking bestudeer.
“Wat is daar in my gesig waarvan jy nie hou nie, Anmar?”
“Ek . . .” Sy tel die teepot met bewende hande op. “Dis ’n verspotte vraag.”
“Is dit?”
Sy weier om op te kyk of uitgelok te word en hou haar besig met die tee. Dan, meteens, is daar ’n hand onder haar ken, word haar kop gelig.
“Daar is iets in of aan my wat jou elke keer, nes ek wil nader kom, laat wegdeins; innerlik terugtrek. Ek lees dit in jou oë. Ek moet weet wat dit is. Sê my, asseblief.”
“Dokter, u . . .”
“My naam is Paul.”
Sy probeer sy