Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray страница 5
“Maar hoe weet Pa? Het Pa hulle al ontmoet?”
“Nee. Ek en señor Alonso het net oor die telefoon gesels. Maar ek is oortuig hy sal nie omgee nie. Al waarin hy belang stel, is die skat – en hoe gouer ons op Kokos kom, hoe beter.”
2
__
“Hasta la vista, señorita. Ek hoop julle kry die skat waarna julle kom soek!”
Andrea glimlag die lieflike meisie, ’n pragvoorbeeld van die Latyns-Amerikaanse skoonhede wat ’n mens in hierdie wêrelddeel aantref, breed toe. “Adios, señorita! Dankie vir u goeie wense. Geniet u vakansie.”
“De seguro! Natuurlik!”
Met ’n wuif van die hand stap die Smitte se medepassasier weg. Hulle het so pas op die lughawe El Coco in San José, hoofstad van Costa Rica, geland.
Terwyl Andrea haar pa na die ontvangtoonbank volg, kyk sy geïnteresseerd om haar rond, en sy moet weer haar pa bewonder. Sedert hulle uit Suid-Afrika weg is, het sy geleer om meer respek vir hom te kry. Dikwels het sy skaam gevoel. In die verlede het sy, om heeltemal eerlik te wees, altyd maar met ’n bietjie minagting aan haar pa gedink. Maar die afgelope dae dat sy pal in sy geselskap was, het sy ’n ander Dries Smit leer ken.
Soos die wêreldreisiger wat hy inderdaad is, het hy alle reëlings selfversekerd getref en hulle met gemak van die een land se lughawegebou na die ander deurgevoer. Wat baie gerieflik is, is dat hy – soos sy tot haar verbasing moes uitvind – ses tale magtig is.
Haar benoudheid om na die ander kant van die aardbol te reis, het ná die eerste dag sommer verdwyn. Met haar pa aan haar sy sou sy om die aardbol reis, wetende dat sy haar pad na Suid-Afrika sou terugvind. As sy op eie houtjie haar land moes verlaat het, sou sy só weggeraak het dat hulle haar nooit weer sou opspoor nie. Vir die meisie wat nog maar altyd in ’n klein wêreldjie geleef het, is dit ’n besondere ervaring om soos ’n wêreldburger te voel.
Ook vind sy in hierdie dae uit dat haar pa nie net ’n berese man is nie, maar dat hy met gesag oor baie onderwerpe kan praat. Hy is nie ’n geleerde man nie, maar hy is intelligent. Dikwels kom die gedagte by haar op dat dit ’n jammerte is dat hy nooit die geleentheid gehad het om verder te studeer nie. Sy kyk met ander oë na hom. Dit is so maklik om te oordeel en te veroordeel . . . Haar pa was een van agt kinders uit ’n arm gesin. Hoewel haar pa graag wou leer, moes hy uitspring en gaan werk om geldelik te help met die sewe ander kinders. Al wat hom gegun was, was drome . . .
Opreg bid Andrea nou dat hy hiérdie keer sy droom verwesenlik sal sien. Soos sy haar pa beter leer ken, weet Andrea nou dat sy skattejagtery nie soseer gaan om die materiële sy van die saak nie, maar eerder om iets te bereik; om erkenning te kry.
Terwyl haar pa na hul bagasie omsien, staan sy na die bedrywige menigte om haar en kyk. Sy sien die donker señorita wat langs haar gesit het deur die hoofuitgang verdwyn. Sy het heelwat inligting oor hierdie wêrelddeel van haar gekry.
Die Costa Ricaners is oorwegend van Spaanse afkoms, aangesien dit oorspronklik ’n Spaanse kolonie was. Natuurlik het daar intussen vermenging plaasgevind, oorwegend met Amerikaners, en hier is ook heelwat Wes-Indiërs. Die taal wat meestal gebesig word, is Spaans, met natuurlik Amerikaanse Engels wat ook baie gehoor word. Die señorita, baie duidelik van Spaanse afkoms, het Andrea vertel dat daar wel nog suiwer Spaanse families is – iets waarop hulle baie trots is. Ook is die band met Spanje nog baie sterk in hierdie families.
Andrea het vertel dat sy en haar pa op pad is na ’n Spanjaard met die naam Alonso en dat hulle op die eiland Kokos gaan bly. Die dametjie het haar vreemd aangekyk en Andrea het gevra: “Ken u dalk hierdie Alonso?”
Haar antwoord was ietwat droog: “Hierdie Alonso, señorita, is Alonso Juan Bonito de Vitoria – en almal in dié wêrelddeel weet wie hy is. Terloops, ’n mens praat nie sommer net van Alonso nie.” Haar oë het gevonkel. “Ek dink nie hy sal baie daarvan hou nie!”
Andrea was verbaas. “Word hy dan elke keer voluit aangespreek?”
“Nee, natuurlik nie. Maar hy is ’n belangrike man, van hoë aansien in Costa Rica. Nee, almal ken hom as don Alonso en so word hy ook deur almal aangespreek. Dis ’n eerbiedwaardige aanspreekvorm wat ons Spanjaarde het.”
“O, dankie dat jy my reggehelp het, señorita. Ek kon dalk ’n groot flater begaan het!”
Die meisie het vriendelik geglimlag, steeds met die vonkeling in haar donker oë, asof sy iets amusant vind. “Ja, en don Alonso is nie ’n man vir flaters nie. Hy is nog van die ou garde. Baie gesteld op wat mag en nie mag nie. Baie tradisievas.”
“O? Wel, ek sal gelukkig nie veel met die vername heer te doen kry nie. Dis hy en my pa wat sake gaan doen.”
“Watse soort sake?”
Andrea het gelag en vrymoedig vertel: “My pa gaan op versoek van A . . . ekskuus, don Alonso na die seerowerskat van Bonito op die eiland Kokos soek.”
Die Spaanse señorita was diep geïnteresseerd. “En jy? Waar pas jý in die prentjie?”
“Ek is glad nie in die prentjie nie,” het Andrea haar laggend verseker. “Ek is met vakansie en drentel sommer net saam met my pa. Bly jy ook op Costa Rica?”
“Nee. Ek is ook met vakansie.”
Sy hoor haar pa se naam word genoem en toe sy omkyk, sien sy ’n motorbestuurder voor haar pa staan. ’n Rukkie later ry hulle in ’n luukse motor deur San José en dan kies die voertuig koers na die buitewyke van die hoofstad. Eerlank ry hulle tussen koffie- en piesangplantasies deur en sy verneem van haar pa dat dit die twee belangrikste uitvoerprodukte van die land is. Soos dit wil voorkom, is don Alonso – op navraag van haar pa aan die motorbestuurder – een van die groot grondeienaars op Costa Rica. Die ou man moet skatryk wees, dink Andrea toe sy ’n rukkie later die Spaanse huis tussen die lowerryke bome sien verskyn. Dit lyk nie asof hy ’n seerowerskat nodig het nie. Maar . . . hoe meer die mens het, hoe meer wil hy mos hê. Hy is dus by al sy bekonkeldheid, soos die Spaanse señorita haar op die vliegtuig gewaarsku het, nog boonop ’n ou gierigaard.
Die Spaanse huishoudster ontmoet hulle by die voordeur en Andrea kan die verrassing op die vrou se gesig nie miskyk nie. Sy glimlag en volg haar pa deur die luukse voorportaal na ’n besonder breë dubbeldeur met pragtige houtsneewerk. Sy kyk verbaas om haar rond. Sy weet weinig van meubels, maar selfs sý kan sien dat dit kosbaarhede is wat om haar staan. As hy dit nie geërf het nie, moes die ou vrek al sweerlik vantevore op ’n seerowerskat afgekom het. Sulke goed is seker net in museums en oliesjeiks se paleise te sien.
Die dubbeldeur swaai oop en die huishoudster staan opsy sodat hulle kan binnestap. Dan gaan die deur weer geluidloos agter hulle toe. Ver voor hulle, ’n saallengte ver, staan ’n massiewe lessenaar. Die ou gierigaard staan op . . . en Andrea se bene weier meteens om haar nader aan hom te dra.
“Señor Smit? Baie welkom. U het veilig gereis?”
“Ja, dankie, don Alonso. Ek . . .”
Die donker oë kyk oor Dries Smit se skouer. “En wie is dit dié?” vra hy streng.
“O . . . e . . . dis my dogter, Andrea. Ek . . .” Hy kyk teen die man se donker