Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray страница 6
“Hoe lank duur haar vakansie?”
Andrea begin haar stadigaan vererg, noudat die egste skok verby is.
“Nee, sy het onbepaald vakansie. Ek bedoel . . .”
“Wat my vader bedoel, señor, is dat ek op die oomblik nie werk het nie en dus saam met hom gekom het vir die volle tydperk wat hy hier sal wees.” Koel ontmoet haar blik syne oor die lengte van die saalagtige vertrek. “Gee u om?”
“Ja.” Stilte. Die een hand wink na ’n stoel. “Sit, señor.” Hy gaan ook sit en ignoreer Andrea waar sy nog steeds by die deur staan asof sy geplant is. Hy spreek haar pa aan asof sy nie teenwoordig is nie. “U dogter sal onmiddellik moet teruggaan.”
Dries Smit lyk verleë en ongemaklik. “Sy . . . sy sal nie lastig wees nie, señor . . .”
“Daar bestaan nie ’n vrou wat nié lastig is nie. Ek ken hulle.”
Andrea sluk. Sou die mansmens wil beweer dat sy dalk lastig met hóm sal raak? Sy voel die bloed na haar kop toe styg.
“Die soektog na Bonito se skat word in die grootste geheim gedoen. Vanselfsprekend was net ons twee veronderstel om daarvan te weet.”
Dries Smit se oë sak. “Ek is jammer. Ek het nie besef . . . dis só ’n groot geheim nie.”
Die vraag kom skerp: “Ek hoop nie jy het meer mense daarvan vertel nie – dat jy spesifiek na die skat kom soek?”
“Nee. Nee! Ek weet darem van beter, maar . . .”
“Jou dogter het jy wel vertel. Dis jammer. Daarom moet sy dadelik teruggaan na waar sy vandaan gekom het.”
“Hoekom?” werp Andrea die vraag vinnig tussenbeide.
Hy bly haar steeds ignoreer en antwoord haar vraag asof haar pa dit gestel het: “Vyf en sestig miljoen dollar is nie kleingeld nie, señor. Veral as iemand uitvind dat dit ék is wat na die skat laat soek, gaan dit geweldige belangstelling wek, veral plaaslik. Ons gaan toegesak word deur nuuskieriges en belangstellendes – mense wat sal wil aas indien die skat gekry word. Veral leeglêers wat nie werk het nie, wat nie geregtig is op die skat nie . . . Voordat jou dogter haar mond verbypraat, moet sy liewer terug.”
Haar bene dra haar ’n paar treë nader. “Maar ek kan my mond in Suid-Afrika ook verbypraat.”
Sy oë bly op haar pa. “In ’n ander land sal dit afgemaak word as ’n grap; ’n fabel wat nagejaag word. Hier in Costa Rica en op Kokos weet ons dis geen fabel nie. Die skat ís daar; dit moet net gevind word.”
Dries Smit kyk sy dogter verskonend aan, kyk dan half pleitend op na sy gasheer. “Maar as sy belowe dat sy haar mond sal hou . . .”
“Daar bestaan nie ’n vrou wat haar mond kan hou nie, señor Smit. Dit behoort die lewe jou darem seker al te geleer het. Dit sal my nie verbaas as sy dit reeds uitgebasuin het nie. Vra haar gerus.”
“Andreatjie, jy . . . jy het mos niemand op pad hierheen vertel wat ons hier kom maak het nie, het jy?”
Andrea sluk. Ag, wel, die Spaanse señorita op die vliegtuig tel nie. Sy is maar net ’n toeris wat ’n paar dae hier kom vakansie hou. Sy het seker al klaar vergeet wat sy op die vliegtuig gehoor het.
“Natuurlik nie! Pa ken my . . .” Haar blik gaan woedend na die man agter die lessenaar. “Die hele ding is maar net dat don Alonso bang is ek is ook teen die einde van dié wat wil aas, een van die leeglêers wat nie geregtig is op die skat nie. Ek wonder net hoeveel reg het hý daarop.”
“Andrea!”
Vir die eerste keer kyk die don direk na haar. “Ek is die enigste een wat werklik reg daarop het, señorita. Ek is ’n direkte afstammeling van Bonito.”
“Die seerower?”
“Die seerower, señorita.”
“Maar dit was ook nie sý eiendom nie, was dit? Dit was alles gesteelde goed, dan nie?”
“Andrea!”
“Laat haar gerus klaar praat, señor. Ja, señorita? Jy wou sê?”
“Ek het net gewonder hoekom alles so in die strengste geheimhouding moet geskied. Het u ’n permit van die regering gekry?” Die gesig is geslote en sy kry nie ’n antwoord nie. Sy vervolg: “Of is dit ’n geval dat u nie die helfte van die skat aan die regering gaan oorhandig nie?”
“U het gelyk. Bonito was mý voorvader en, gesteelde goed of nie, sy skat behoort aan mý. Ek is nie van plan om die helfte daarvan aan die regering te gee nie.”
“Maar dis oneerlik!”
“Ek sien dit nie so nie. En wat u daarvan dink, señorita, kan my nie skeel nie.” Hy wend hom tot haar pa. “U weet nou wat die stand van sake is, señor. Is u nog bereid om na die skat te gaan soek?”
Dries Smit se oë gaan onseker na sy dogter wat hom kwaai aankyk, en hy sê op sy verleë manier: “’n Paar miljoen is ’n paar miljoen, Andreatjie.”
“En tronk is tronk, Pa! Hierdie man gaan Pa in die moeilikheid laat beland. Hy het Pa gekry om die vuilwerk vir hom te doen. Word Pa betrap, sal hy voorgee hy ken Pa van geen kant af nie en Pa sal alleen gaan sit!”
“Ek verseker jou jou pa sal nie in die tronk beland nie.”
“Wat beteken die versekering van ’n seerower? Pa, ek dink . . .”
“Señorita, die oomblik wanneer ’n vrou begin dink, dompel sy almal om haar in die ellende. Jy is nie gevra om te dink nie. Jy is gevra om onmiddellik terug te gaan na waar jy vandaan kom.”
“Ek het op my eie koste tot hier gekom. Jy het geen seggenskap of reg om my hier rond te beveel of weg te jaag nie. Ek sal op Costa Rica bly solank ek wil en as ek so voel, sal ek Kokos toe ook gaan . . . of behoort die hele eiland aan jou?”
“Nee. Net ’n gedeelte. En kan jy my vertel waar kry ’n werklose meisie die geld om halfpad om die aardbol te kom?”
“Sy het . . .” begin haar pa ywerig verduidelik.
Maar sy val hom dwars in die rede en sê uit die hoogte: “Dis mý saak waar ek daaraan kom, maar ek verseker jou ek hét geld . . . én dis eerlike geld én dis baie . . . genoeg om jou dalk te kan uitkoop, don Alonso.”
“Dreatjie . . .”
“Ons het ’n ou gesegde wat sê alles wat blink, is nie goud nie, en hier . . .” Sy kyk met blitsende oë om haar rond. “Hier blink alles net ’n bietjie te veel om waar te wees. Jy is baie gretig dat daardie skat gekry moet word, nie waar nie? Ek wonder nou net hoekom?”
Sy frons is onheilspellend. “Hoekom?”
“Vir ’n man wat oënskynlik so diep in die botter sit, behoort . . .”
“In die botter sit, señorita?”
“Ja, dis ook ’n gesegde in ons taal.