Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse страница 4
“Sterkte met al jou planne,” groet haar buurman toe die vliegtuig se wiele die grond raak en sy knik.
“En wat van: ‘Hou moed, beter dae sal kom’?”
Hy skud sy kop. “Ek lieg gewoonlik nie so vroeg in ’n verhouding nie.”
Sy glimlag en verlang meteens na haarself.
Jacob kyk Cato agterna toe hulle die lughawegebou binnestap. Hy het êrens gedurende die nag vir homself gevra wat hy sou doen as hy op nege-en-twintig ’n wewenaar geword het. Toe sy huwelik nog in een stuk was. Egskeiding of die dood. Is die een genadiger as die ander? Aan die een kant bly die huis staan. Geen rysmiere wat die hout stelselmatig wegvreet nie. Geen swart muf en rot nie. Die huis verloor net een van die inwoners. Foto’s kan bly hang. Getrou aan die belofte, tot-die-dood-ons-skei. Herinneringe verouder soos goeie rooi wyn en teel aan soos konyne. ’n Heilige word gebore. Aan die ander kant, ’n huis wat om jou intuimel. Tot almal in die huis verplig is om pad te gee. Een vir jou en een vir my. Wat nie gedeel kan word nie, word andermanseiendom. Herinneringe word abstrakte prente. Onverstaanbaar en makaber. ’n Bespotting van beloftes soos tot-die-dood-ons-skei. Nou sit hy met ’n bouval wat nooit heeltemal gesloop kan word terwyl daar kinders is nie, maar beslis geen beskerming meer teen die elemente bied nie. Voos van skietwonde waardeur die wind honger huil.
Hy sien hoe ’n jong man Cato help om twee tasse van die vervoerband af te haal. Sy glimlag ’n dankie en begin die trollie in die rigting van die skuifdeure stoot. Sy loop regop, kop omhoog soos iemand wat weet waarheen sy gaan. Haar skouerlengte hare wip-wip effens. Dis net in die skraal skouers dat hy die styfheid kan sien. En hy weet nie of hy haar beny of jammer kry nie. Miskien ’n bietjie van albei.
Cato kyk na die kennisgewings teen die muur. Het sy iets om te verklaar? Dalk ’n paar gedagtes. Miskien moet ’n mens nie ’n ander land met soveel gedagtes en herinneringe binnekom nie. Dalk kan sy dit in ’n sak toeknoop en vir die stug doeanebeampte gee. Verder kan sy aan niks dink om te verklaar nie.
Haar pa staan voor teen die reling, haar stiefma ’n tree agter hom. Nog ’n woord waaroor die taalvaders nie baie mooi besin het nie. Die woord “stief” beloof vanaf die eerste aanhoorslag nie juis iets goeds nie.
Carel Wessels lyk netjies in sy donker langbroek en strepieshemp, sy rug regop asof hy homself staal vir iets wat kom. Cato sien hoe sy blik oor haar gesig gaan. Ouers het so ’n manier om na hulle kinders te kyk. Veral as hulle nie weet watter vrae om te vra om by die regte antwoorde uit te kom nie. Dan soek hulle vir tekens wat iets sal verklap.
“Pa.” Sy stap tot teen sy regop lyf en sy arms vou effe onhandig om haar, maar hy hou haar ’n lang oomblik vas sonder om iets te sê. Dan glimlag sy vir die vrou agter hom. “Hallo, Elizabeth.”
Die twee vroue soen mekaar vlugtig op die wang.
“Is dit al jou bagasie?” Haar pa beduie na die volgelaaide trollie.
“Die res kom met die skip, as dit nie sink nie.”
Haar pa neem die trollie by haar en hulle stap saam buitentoe. Die wegtrek is stil. Die grense van intimiteit onseker. Cato bekyk die woonbuurte weerskante van die pad. Hoe kan so baie dinge verander en tog so dieselfde bly? Waar is die regstelling? Die skoolterrein waar hulle verbyry lyk selfs meer vervalle as ’n jaar gelede. Die honde agter die draadheinings lyk steeds basterig en benerig, snuffelend, altyd honger.
“Het julle ’n voorspoedige vlug gehad?” Haar pa kyk nie om nie.
“Ja, eintlik heel rustig. Die vrou langs my het plek vir haar baba nodig gehad, toe bied hulle my plek in besigheidsklas aan, so ek kan eintlik glad nie kla nie. O ja, en raai langs wie beland ek toe? Jacob Alheit.”
“Het jy nie dalk sy handtekening gevra nie?” Elizabeth kyk oor haar skouer.
“Ek het hom eers vanoggend herken.”
“Pierre en Martie het gebel om te hoor of jy al hier is,” verander haar pa die onderwerp.
“Ek sal hulle vanaand bel.” Haar skoonouers woon in Johannesburg. Cato wonder of sy nog kan praat van skoonouers.
Hoe verder hulle van die lughawe af ry, hoe netjieser word die woonbuurte en hoe hoër die mure. Die vloek wat met besittings gepaardgaan. Mure, slotte en kettings. Kameras en elektriese stroombane. Waghonde en waaksaamheid, want daar is altyd iemand wat minder as jy het.
Die plataan voor die huis hang reeds swaar aan die nuwe blare. Die grasperk, danksy die boorgat, is welig groen. Alles lyk so normaal.
“Welkom by die huis,” laat haar pa hoor toe hy die motordeur vir haar oophou en toe sy langs hom staan, rus sy hand vlugtig op haar skouer.
Die huis ruik bekend. Dis nie meer haar ma se reuk nie, maar ook nie net Elizabeth s’n nie. Dalk ’n simbiotiese samesyn tot voordeel van haar pa. Haar kamer het nuwe gordyne en ’n nuwe duvetoortreksel. Sagte room met spatsels liggroen. ’n Rustige, koel kamer. Daar is lankal nie meer oorblyfsels van haar kinderjare nie. Wat nie deur die jare weggeggooi is nie, het in bokse saam met haar getrek. Sommige besittings is waarskynlik vir ewig verdoem tot ’n bestaan in karton. Hulle vae teenwoordigheid is tog ’n troos, en die gedagte om daarvan ontslae te raak is ondenkbaar.
“Elizabeth het tee gemaak,” praat haar pa om die deur en sy stap saam met hom kombuis toe. Verby mure met familiefoto’s, laggende kindergesigte, moerige tieners. Van haasbek tot rebel in ’n kwessie van twee rye foto’s.
Soos in haar kamer is daar oral tekens van vernuwing en verandering. Smaakvol. Subtiel. ’n Huis vir grootmense.
Hulle gaan sit by die kombuistafel waar Elizabeth koppies uitgepak het en besig is om ’n kaaskoek te sny. Cato knik toe Elizabeth vra of sy wil hê. Die kinderagtige drang om Elizabeth te straf vir alles wat verkeerd in haar lewe was, het saam met die jare verdwyn. Kos was so ’n gerieflike wapen en etenstye ’n slagveld. ’n Stuk koek of sny brood het die potensiaal gehad om ’n gesprek aan flarde te ruk.
Nou neem sy die bordjie koek en knik ’n dankie. Is dit die swaarste vorm van straf? Om so op jou eie woorde teruggelei te word. Elke seermaakwoord, elke dreigement en elke onnadenkende uitspraak op ’n dag ’n skerppunt plaveiselsteen onder jou eie voete. Sal dit saak maak om te sê sy het nie geweet nie? Hoe weet jy op vyftien hoe dit voel om ’n weduwee te wees? Om ’n stiefma te word?
“Ek het vir jou ’n paar brosjures oor motors gekry,” onderbreek haar pa haar gedagtes. “Daar is deesdae ’n eindelose aantal modelle en make beskikbaar. Dit hang af waarna jy op soek is.”
Cato tel een van die blinkblad-brosjures op en blaai daardeur. Dan tel sy ’n volgende een op. Haar eerste motor was ’n tweedehandse Volkswagen Golf. ’n Studentemotor wat haar heen en weer karwei het. Sy het bitter min verwagtinge daarvan gehad. Solank dit geloop het, het sy nie oor werkverrigting, petrolverbruik of banddruk gewonder nie. Maar sy weet dit is dinge waarna Neil gekyk het. Verantwoordelik tot die dood toe.
“Wat dink Pa?” Wanneer laas het sy daardie woorde gesê?
“Dit hang af hoeveel jy wil spandeer en waarvoor jy dit wil gebruik. As jy net daarmee in die dorp wil rondry, sal ’n kleinerige motor