Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse страница 5
Sy tel nog ’n brosjure op. As dit ’n paar skoene of ’n handsak was, sou die keuse soveel makliker gewees het. As Neil nie doodgegaan het nie, sou alles nóg makliker gewees het. As haar ma ook nie doodgegaan het nie, sou alles dalk anders gewees het. “As” is ’n sinlose woord, besluit sy. ’n Uitgebrande woord.
“Ons kan ’n paar gaan toetsbestuur,” laat haar pa hoor toe sy vir die soveelste keer die hopie bladsye van voor af deurkyk.
Toe hulle later die oggend by die eerste handelaar stop, is Cato se eerste gedagte dat Neil sou gesê het sy moet haar huiswerk deeglik doen. As jongmens verbeel jy jou daar is vastighede, maar eintlik is waarborge skaars. As sy destyds na Neil se werkverrigting en duursaamheid moes navraag doen, sou ’n handelaar hom waarskynlik as ’n topverkoper beskryf het. Haar verseker het sy sal baie duisende kilometers uit hom kry. As alles goed gaan, hoor sy haar ouma se gunsteling-woorde. As die Here wil. Daardie talisman wat jy in ’n sin inglip om nie die noodlot te terg nie. As die Here wil, sal enige van die voertuie haar dalk tevrede stel en waarde vir haar geld bied. Maar as die Here nie wil nie, is dit ’n ander saak.
Laatmiddag is sy moeg om dieselfde vrae by elke handelaar te beantwoord. Hoe moet sy weet wat sy van ’n voertuig gaan verwag? Hoe moet sy nou weet waarheen sy nog oral gaan ry? Dis nie asof sy ’n kaart het van vorentoe nie. Sy moet môre Stellenbosch toe ry. Dit is sover haar kaart op die oomblik strek. Sy het ’n to do-lys en dit sal help as sy haar eie vervoer het.
“Ek sal hierdie een neem.”
Haar pa en die verkoopsman kyk gelyk op asof hulle nie seker is hulle het reg gehoor nie.
“Ek hou daarvan dat dit nie so laag op die pad is nie. Die sitplekke sit lekker, ek hou van die donkergroen kleur en ek hou daarvan dat dit ’n four by four is.”
“Beplan u om dikwels veldritte te onderneem?”
Cato kyk na die jong verkoopsman. “Is dit ’n voorvereiste?”
Hy lyk skielik onseker. “Nee, seker nie. Baie mense koop viertrekvoertuie, maar gebruik dit hoofsaaklik in die stad. Ek het maar net gewonder.”
“Maar jy sal dit nie aanbeveel nie?”
“Ek dink dis ’n vermorsing van die voertuig se potensiaal. Jy koop tog nie vir jou ’n Blackberry-selfoon net om mee te bel of te SMS nie.”
“Nie?” Cato begin in haar handsak soek. “Wil jy vir my sê daar is meer funksies?”
“Cato.”
Sy glimlag vir haar pa en die verkoopsman. “Jammer. Dit was ’n grappie, maar ek is ernstig oor die Freelander. Is hierdie een beskikbaar, of moet julle een bestel?”
“Hierdie een is beskikbaar.”
Na aandete maak Elizabeth haar uit die voete met ’n verskoning van ’n hoofpyn, maar Cato weet dis om haar en haar pa geselskans te gee. Sy moet glimlag toe haar pa eerste na die praktiese uitvra. Finansies. Toekomsplanne. Huisvesting. Hy vra nie hoe sy voel nie. Miskien onthou hy nog te goed hoe hý gevoel het. Miskien is dit waarom hy nie werklik in haar oë kan kyk nie. Hy onthou dalk sy eie oë. Sy wil hom vra of dit beter raak, maar sy weet nie hoe nie. Sy wil vra of ’n mens op ’n oggend weer ’n plan het, ’n kaart, maar sy is bang hy sê nee. Daarom beantwoord sy maar net sy vrae. Sommige is makliker om te beantwoord, op ander kan sy net sê sy weet nie. En van hulle is daar verreweg die meeste.
Laataand in haar bed trek Cato ’n rooi streep deur die woord motor op haar lys. Haar voertuig met die goeie werkverrigting en baie potensiaal. ’n Voertuig vir alle omstandighede, maar veral nuttig by die steiltes of as die water diep raak. Sterk bakwerk om haar teen die wis en die onwis te beskerm. ’n Manlike voertuig met charisma. Sy wonder of hy ’n goeie humorsin het.
3
Jacob word wakker van ’n eentonige geluid, soos ’n by wat teen ’n ruit sukkel om uit te kom. Hy maak sy oë oop en kyk om hom, sonder om sy kop te veel te draai. Sy brein neem ’n rukkie om sin uit die beelde te maak. Oorkant die bed is dakhoogte vensters, met donkergroen gordyne wat dig getrek is. Regs en links is deure. Die een maak in ’n gang oop en die ander een lei na sy aantrekkamer en badkamer. Teen die oorkantste muur is ’n plat televisieskerm en voor die venster staan ’n groot rusbank en koffietafel. Hy het vergeet hoe groot die kamer is. Louise sê hy was nog altyd ruimtebedonnerd.
Hy sit regop en swaai sy bene van die bed af. Dis nie ’n by wat hy hoor nie, maar ’n grassnyer. Hy trek ’n kniebroek en T-hemp aan en loop stadig deur die huis. Sy ruimtebedonnerde huis. Georgie se kamerdeur is toegetrek en Jacob stap verder die gang af. Mathilda staan in die kombuis en toe hy agter haar praat, ruk sy om.
“Jy sal my hart laat staan!” Sy kyk op die groot muurhorlosie. “Slaap ook maar lekker laat, nè?”
Hy sit sy arm om haar skouers. “Ek is lankal wakker, maar het gelê en hoop iemand bring vir my koffie en ontbyt.”
“Lyk dit vir jou soos ’n hotel hierdie?”
“Waarom sny hulle so vroeg gras?” Jacob skink vir hom ’n beker koffie en stap daarmee op die agterstoep uit. ’n Entjie voor hom is twee werksmense besig om met ’n klein trekkertjie die groot grasperk te sny. Die swembad blink helderblou en hy trek sy T-hemp uit; toe hy klaar sy koffie gedrink het, duik hy in. Die water is kouer as wat hy verwag het, en vir ’n oomblik trek hy sy asem in voordat hy heen en weer begin swem.
“Gaan staan oumense se harte nie van sulke koue water nie?” praat ’n stem langs die swembad toe hy weer sy kop lig. Georgie sit op een van die gemakstoele met ’n beker koffie en ’n groot bak beskuit langs hom. Sy seunslyf is skraal en knopperig in die slaapbroek en T-hemp.
“Ek weet nie. As ek weer ’n oumens raakloop, sal ek vra.” Jacob lig homself uit die water en gaan sit langs Georgie. Hy sit sy arm om sy seun. “Ek hoop jy weet ek val nie vir die siekwees-verskoning van jou nie. Jy lyk vir my blakend gesond.”
Georgie staan op en gaan sit op een van die ander stoele, maar neem sy bak beskuit saam. “Jy’s nat.” Hy hoes ’n paar keer.
“Van wanneer af is jy allergies vir ’n bietjie water? En daai hoes klink nie baie oortuigend nie.” Hulle dans vanoggend om mekaar asof nie een die moed het om eerste te praat nie.
“Ek het vir die koshuisvader gesê jy was nou lank weg en ons het dringende sake wat ons moet uitpraat. En hy het gesê hy verstaan.”
“Het jy gisteraand met jou ma gepraat?”
“Nee, ek het aan die slaap geraak voordat ek haar kon bel. Ek sal haar vanaand bel.” Georgie vat ’n groot hap en kou stadig. “Is alles nou afgehandel … tussen julle twee?”
“Ja.”
“Wat van my goed wat nog daar is?”
“Sy sê sy het die meeste van die goed opgepak en dit sal saam met die res van die trek kom. Miskien kan jy van jou goed by haar los.”
“Sê asseblief vir my ek hoef nie elke vakansie heen en weer te vlieg nie.”
Jacob kyk in die donker oë oorkant hom. Behalwe vir die oë en hare is dit Louise se gesig. Hy het sy ma se goeie gene gekry. “Ons het besluit jy is oud genoeg