Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray страница 4
“Ek sal later weer kom. Sê vir hom ek is hier en ek stuur al my liefde.”
“Ek sal so maak.”
Dit word stil om hom.
“Toby …”
Hy is dadelik by. “Deksels, Midas, hoe laat jy my skrik. Ek dog jy slaap vas.”
“Nee. Ek het gelê en dink.”
“Jy het ’n besoeker gehad …”
“Ek weet. Sit. Ek het ’n opdrag.”
“In hemelsnaam, Midas, kan jy nie net ’n paar uur lank van Babel vergeet nie? Ek verseker jou elke steen staan nog stewig. Ek was in verbinding met Honolulu en die kontrak is …”
“Sit, Toby.”
“Nee! Jy is ’n siek man. Ek gaan nou loop. Ek het oor ’n paar minute ’n afspraak met die landskapargitek en die ingenieur oor die waterval. Ek belowe jou ek sal niks besluit sonder om jou te raadpleeg nie, maar …”
“Reël dat my kinders gesoek word.”
Stilte. “Wat?”
“Ek het twee kinders – ’n seun en ’n dogter. Hulle moet gekry word.”
Toby kan hom net ongelowig aanstaar.
2
“Dan is die storie tog waar.”
“Watter storie?”
“Dat jy kinders het. Ek het dit jare gelede gehoor, maar nooit regtig geglo nie.”
“Hoekom nie?”
“ ’n Mens assosieer nie kinders met jou nie. Maar wat het van hulle geword? Jy praat nooit van hulle nie …”
Hoe kan ’n mens van iets praat waarvan jy vergeet het? “Ek het kinders, maar ek weet nie waar hulle is nie. Hulle het saam met my eerste vrou verdwyn.”
Toby kyk af na die magnaat. Ja, alles waarmee Midas klaar is, verdwyn. So het die tweede vrou ook van die toneel verdwyn. Lana-Mari gaan binnekort dieselfde paadjie volg.
Toby kyk op, weet dat hy die vraag ongeuiterd moet laat. Want niemand vra sulke vrae aan Midas Hammond nie. “Hoekom” is nie ’n woord wat jy teenoor hom gebruik nie, want Midas skuld niemand ’n verduideliking nie. Hy vra dus net: “Jy wil hê hulle moet gesoek word. Weet jy waar ’n mens kan begin?”
“Durban. Dis waar ons paaie geskei het.”
“Hoe lank gelede?”
Hy moet dink; sukkel om ou kanale van herinnering weer oop te kry. “Dit was … vier-en-twintig, vyf-en-twintig jaar gelede. Die seun moet nou … ja, vyf-en-twintig wees en die dogter is so ’n jaar jonger.”
Toby maak vinnig sommetjies. Midas is nou ses-en-veertig. Sy seun is dus gebore toe hy een-en-twintig was. Die wêreld het Midas Hammond toe nog nie geken nie. Hy was nog Grant Hammond, die gefrustreerde seun van ’n derderangse hoteleienaar naby die hawe van Durban. Op twee-en-twintig was hy al die pa van twee kinders; op drie-en-twintig ’n geskeide man. Al wat hy toe gehad het, was drome … oor ’n stad van goud.
“Het julle mekaar nooit weer gesien nie? Wat was haar naam?”
“Bev. Beverley. Almal het haar Bev genoem. Nee. Sy was net so bly om van my ontslae te wees as ek van haar.”
Toby waag dit: “Maar jou kinders …?”
“Stink, vuil, nat goedjies wat onder my oë moes uitbly. Ek was net so bly om van hulle ontslae te raak as van die ma.”
Toby verberg sy skok onder neergeslane ooglede. Hy is self nie iemand vir babas en vuil doeke en ’n geordende, geroetineerde gesinslewe nie. Kinders is by hom ook taboe. Maar as hulle eers daar is … Jou kinders is tog jou kinders. Vandag soek Midas na syne.
Toby het ’n vermoede waaroor dit gaan. Meteens is dit nie meer so vreemd dat Midas Hammond ná ’n kwarteeu daardie stink, vuil lasposte wil opspoor nie. Vir die eerste keer kom dit baie duidelik deur: Midas Hammond is ook net ’n mens. Ná die hartaanval weet hy hy moet sterf soos enige ander mens. Dit kan sy aardse koninkryk nie keer nie.
En Toby het meteens die moed om te vra: “En jy het nooit weer met hulle kontak gemaak nie? Nie eens met jou kinders nie?”
“Nee. Wat mý betref, het hulle van die aardbol verdwyn.” Die wenkbroue trek saam. “Dit tref my nou … Dit is eintlik snaaks dat Bev nooit weer met my kontak gemaak het nie, veral nadat die wiel in my guns begin draai het.”
“Het jy dan nooit onderhoud vir die kinders betaal nie?”
“Nee.” Snaaks, noudat die paadjie van sy geheue weer oopgekrap is, onthou hy skielik so baie dinge. Selfs hoe Bev gelyk het daardie dag toe sy hom finaal verlaat het. Sy het op die onderste stoeptrap van sy pa se hotel omgedraai en na hom gekyk, die seuntjie aan die hand en die baba op die arm. Hy onthou selfs haar woorde:
“Ek bid die Here dat nie ek of my kinders ooit weer ons oë op jou sal hoef te lê nie.”
En sy antwoord: “Aangesien dit die enigste gebed is wat jy nog ooit in jou lewe gebid het, sal Hy dit seker verhoor.”
Hy het hardop gelag toe sy woedend na die taxi geloop het. Toe het sy en die kinders weggery … en op daardie oomblik het hy gedink: Wat ’n verligting …
Toby staan op. “Ek sal dadelik begin.”
“Kry die beste speurders. My kinders móét opgespoor word, Toby. Dit maak nie saak wat dit kos nie.”
Toby knik.
Hierdie dag in Midas Hammond se lewe staan uit bo al die ander. Dis soos ’n string pêrels met ’n diamant in die middel. En ’n diamant sny die gisters oop, die toegekalkte herinneringe, die harde eelte om die verlede.
Midas onthou ’n paar blou ogies voor hom, ’n geel kuifie, hoor ’n stemmetjie … Nog ’n paar ogies wat vas terugkyk … ’n klein handjie. Die ou man was gaande oor die eerste kleinseun. Toe vernoem hulle hom maar: Sean. Die dogtertjie … Sy het die een of ander buitensporige naam gekry, Bev se smaak. Maar almal het na die kleintjie as Babie verwys … agter Sean se gebrabbel aan. Ma was toe reeds dood. Pa het kort ná Bev en die kinders se weggaan gesterf … met ’n bouvallige hotel en ’n Babel in die hart. Van toe af het die wiel begin draai.
Dit was eers vyftien jaar later dat hy die tweede keer getrou het. Van sý kant was daar geen sprake van liefde nie. Liefde het vir hom ’n ander betekenis as vir ander mense: die bed. Sodra die bed leeg en opgemaak is, is dit ook die einde van die liefde.
Dit was egter baie handig om ’n multimiljoenêr vir ’n skoonpa te kry. Veral in daardie stadium. Met so iemand agter hom, het mense hom toegelaat om te waag. Die