Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray страница 7
Sy gesig verstrak weer toe een van die telefone lui. “Antwoord, en as dit daardie vroumens is, sê sy hoef nie haar suite te betaal nie. Haar verblyf hier is verniet in ruil vir haar diens. Maar ek wil haar nie môreoggend nog in Babel sien nie.”
Maar dis die nagoperateur se stem wat verskonend opklink: “Is dit meneer Toby? Meneer, ek het na u gesoek. Hier is ’n oproep van Kaapstad vir meneer Hammond. Hulle het my by die casino gesê hy is reeds daar weg. Die persoon sê dis dringend.”
“Skakel maar deur, Peter.” Hy verduidelik aan Midas: “ ’n Oproep van die Kaap. Die speurder …”
“Ek het vroeër vanaand al met hom gepraat. Hy kom môre terug … onverrigter sake.”
“In daardie geval … Wil jy die oproep neem, of nie?”
“Wie wil my hê?”
“Peter het net gesê die persoon sê dis dringend. Daar is hy nou.”
Hy frons skerp.
“Hallo? Hallo? Dis meneer Hammond se bestuurder wat praat. Kan ek help? U kan maar met my ook praat, meneer. Met wie praat ek nou?” Hy luister ’n oomblik. “In daardie geval moet u maar môre weer bel. Meneer Hammond is nie nou beskikbaar nie. Ekskuus? As u nie bereid is om u naam te sê nie, is daar niks verder te praat nie. Tot siens.”
Hy plak die foon neer. “Dis die een of ander laspos wat dink dis snaaks om hierdie tyd van die oggend die koning van Babel te skakel. Die soort mense wat jy darem kry …”
Hy ruk die gehoorbuis op toe die telefoon weer lui. “Peter, luister … O? Hy is nou bereid om sy naam te sê? Hoor eers wie hy is en waarom hy bel voordat jy hom deurskakel, anders …”
“Hy sê hy sal sy naam net aan meneer Hammond verstrek, meneer Toby. Maar dis van die grootste belang vir meneer Hammond.”
Midas steek sy hand uit. “Skakel hom deur dat ons klaarkry.”
“Ja? Ja, dis Midas Hammond. Wie praat? Ek praat nie met naamlose mense nie, meneer. Ek- … Ekskuus? Wat het jy gesê?”
“My naam is nie vir jou van belang nie, meneer Hammond. Maar die naam Sean Hammond is … nie waar nie?”
“Praat!”
“Wat is die inligting vir jou werd, meneer Hammond?”
“Dit hang af wat dit is.”
“En as ek jou kan sê waar Sean is?”
Toby sien Midas Hammond bleek word. “Dan … lewe hy!”
“Natuurlik lewe hy. En hoe! Wel, meneer Hammond?” Stilte en dan gaan die stem voort: “Ek sien jy het tyd nodig. Goed. Dink gerus na hoeveel dit vir jou werd is om jou seun terug te hê. Ek bel jou later vandag weer.”
“Wag! Luister! Verdomp, hy het neergesit!”
“Wie was dit?”
“Iemand … iemand wat weet waar my seun is.”
3
Die spanning is duidelik op Midas se gesig te lees toe Dick Louwrence voor hom kom staan.
“Jy sê jy kon geen enkele spoor in die Kaap kry nie, maar vanoggend vroeg het ek ’n anonieme oproep daarvandaan gekry.”
“Wat?”
Dick luister stilswyend en ’n krieweling gaan langs sy ruggraat af. Hy kry dit altyd wanneer hy weet hy beweeg in die regte rigting met ’n ondersoek. Dis daardie sesde sintuig wat elke goeie speurder moet hê.
“Het jy geen benul wie die man kon wees nie?” vra Midas dringend. “Hy het gesê hy sal later weer bel, maar tot nou toe is dit stil. As hy nie weer bel nie …” Hy wil nie daaraan dink nie. Vir die eerste keer in maande was daar reaksie op sy soektog. Ook Midas se sesde sintuig is goed. Hy weet hy het dié keer met ’n opperste skurk te doen. Hy gaan afgepers word. Maar hy weet ook dat sy stem oor die foon nie gelieg het nie. Daardie man weet waar sy seun is. En noudat hy die sekerheid het dat sy seun leef en opgespoor kan word, is daar geen keer aan hom nie.
“Wie het jy almal ondervra? Dit moet een van hulle wees,” wil hy weet.
Maar Dick vermoed uit jare lange ervaring dat dit nie die eerste afperser is met wie Midas te doen kry nie. “Dit kan enigeen van die honderde mense wees wat ek die afgelope maande ondervra het, meneer Hammond. Dit kan enigeen van ’n ander paar honderd ook wees – iemand wat gehoor het daar word gesoek na Midas Hammond se seun.”
Die donker oë flits na die speurder. “Maar my uitdruklike bevel was dat jy só moet navraag doen dat niemand snuf in die neus sal kry nie.”
“Ek het dit so gedoen, meneer Hammond. Nie een enkele keer het ek u naam gebruik nie. Maar mense kon afleidings maak. U en die man na wie ons soek, het dieselfde van. Iemand kon maklik wonder of daar nie ’n verband is nie, en die oproep het dit nou bevestig. Die persoon weet nou dié Sean Hammond na wie gesoek word, is die koning van Babel se seun. U moet baie versigtig wees, meneer. Die kans is goed dat dié man nie die vaagste benul het waar Sean hom bevind nie. Hy kan voorgee hy weet. Hy kan inligting verkoop wat dalk niks werd is nie. Dis ’n maklike manier om geld te maak – en hy weet u sal enigiets betaal om u seun op te spoor.”
“Dink jy ek is so onnosel dat ek nie reeds self aan so ’n moontlikheid gedink het nie? Maar dis ’n kans wat ek moet waag. Tog … ek het net die gevoel daardie man sal ons wel kan help.”
“Dan moet u net versigtig wees. Hy kan aan die begin die regte inligting terughou totdat hy voel hy het genoeg uit u gekry en dan eers die waarheid praat. Ek ken daardie soort mens. Hulle kry nooit genoeg nie. Daar is nog ’n ander moontlikheid …”
“Ja?”
Dick aarsel. Dit kan hom Midas Hammond se gramskap op die hals haal, maar hy besluit om op die man af te praat.
“Ons weet nie hoe ’n soort mens Sean is nie. Dit kan u meer kwaad as goed doen om hom op te spoor en groot skade beteken as die wêreld moet weet hy is u seun.”
Midas frons. “Wat bedoel jy? Wil jy te kenne gee my kind is die een of ander misbaksel?”
“Ek sê niks, meneer Hammond. Ek wil net u oë oopmaak. Ons sal baie versigtig te werk moet gaan met enige inligting wat ons kry. Ek het netnou gesê dit kan een van ’n paar honderd mense wees wat geskakel het. Maar tog het ek ’n vermoede uit watter rigting daardie oproep kan wees.”
“Ja?”
“Eerstens sal iemand met planne om u af te pers, nie lank gewag het om met u in verbinding te tree nadat hy gehoor het daar word na Sean gesoek nie. Dit moet dus iemand wees wat baie onlangs daarvan gehoor het. Ek het gisternag, net voordat ek u gebel het, teruggekom uit die swakker deel van die stad. Ek het my vasgeloop teen ’n bende wat The Bats genoem word. Hulle het my voorgekeer en gevra of ek iets daar verloor het. Hulle hou nie van vreemde mense wat skynbaar doelloos ronddwaal nie. Ek kon niks anders sê as dat ek na Sean Hammond soek nie. Hulle