Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray страница 8
Dis ’n oomblik stil. Dan kyk Midas Hammond op. “Wat ook al die geval is, Sean moet gekry word. Jy bly voorlopig in Babel. Ons sal verder planne beraam wanneer daardie man weer gebel het.”
Maar die onbekende man bel nie weer nie. Die dag gaan verby. Die aandskaduwees kruip nader, word verdring deur Babel se kunsmatige ligte. Die laserflitse speel, die gordyne trek oop, die dobbelwiele draai, telefone lui …
Toby voel bekommerd. ’n Mens vereenselwig nie moegheid met die dinamiese Midas nie. Maar teen die vroeë oggendure lyk Midas moeg. En gespanne, besef sy bestuurder. Die bekommernis eis sy tol. Dis nie goed vir hom nie. Hy het blykbaar heeltemal herstel ná daardie eerste hartaanval, maar as hy so voortgaan, is ’n tweede sy voorland.
“Gaan rus, Midas, ek sal jou wakker maak sodra …”
“Dis soos hulle maak, meneer Hammond,” laat Dick hoor. “Hy is besig om jou sag te maak. Hy sal waarskynlik nog ’n dag of twee wag voordat hy weer van hom laat hoor. Teen daardie tyd, hoop hy, sal jy enigiets sluk wat hy jou vertel en enige bedrag betaal. Die enigste manier om met daardie soort te werk, is om sy eie metodes te gebruik.”
“Wat bedoel jy?”
“Weier om met hom te praat wanneer hy bel.”
“Jy is mal!”
Toby frons: “Hoekom sê jy so, Dick?”
“As hy net ’n fortuinsoeker is wat nie regtig inligting in verband met Sean het nie, sal dit hom ’n bietjie ontmoedig. Maar as hy Sean ken of weet waar hy is, seker is sy kennis kan hom geld in die sak bring, sal hy weer bel. Hy sal dan ook besef dat hy nie te ver moet gaan nie. Midas Hammond is dalk nie só gretig om sy inligting te koop nie – nie teen elke prys nie. Dán kan ’n mens praat.”
Midas staan ’n rukkie en dink, vra dan amper teësinnig: “Wat stel jy voor? Watter prosedure moet gevolg word?”
“Toby antwoord as hy weer bel. As hy op ’n onmoontlike tyd bel, rus meneer Hammond en word onder geen omstandighede gesteur nie. As hy weer bel, is meneer Hammond net nie in Babel nie, is hy selfs ’n dag of twee oorsee. Hou hóm nou aan ’n lyntjie vir ’n dag of drie totdat hy ’n bietjie sag word en besef hy kan ’n paar duisend note deur sy vingers laat glip as hy met sy senuoorlog voortgaan. Daarna sal hy bereid wees om te onderhandel.”
“En as hy dalk tou opgooi en ophou bel?”
“Dan, meneer Hammond, kan jy amper honderd persent seker wees hy weet niks van jou kind wat jou tot nut kan wees nie. ’n Man wat seker van sy feite is, gooi nie so maklik tou op nie. Veral nie as hy ’n paar rand daarmee kan verdien nie.”
Toby draai na Midas. “Dick het gelyk. Hierdie vuilgoed moenie agterkom dat dit so belangrik vir jou is om Sean op te spoor nie. Nie só belangrik dat jy met jou sal laat speel en enige bedrag sal betaal nie. Doen wat Dick voorstel, Midas. Dis in jou eie belang en dalk in Sean s’n ook. ’n Ander gedagte tref my nou. Dis ’n moontlikheid waaraan ons nog nie gedink het nie. Hy en sy makkers probeer dalk om Sean te ontvoer en eis dan ’n losprys om só hul slag te slaan.”
Midas se mond vertrek. “Geluk met die briljante stukkie breinwerk, maar vir jou inligting – ek is dag en nag van daardie moontlikheid bewus, al van daardie eerste dag dat ek ’n speurder Durban toe gestuur het. Daar is baie moontlikhede, maar hoe sal ons weet watter een dit is as ek nie met die man mag praat nie?” Dan sug hy. “Goed. Dick het iets beet. Ek gaan slaap. Ek voel ’n bietjie moeg,” erken hy.
Hulle kyk hom agterna, en Toby laat hoor: “Daar loop die eensaamste mens op aarde. Ek het nooit gedink ek sal Midas Hammond ooit jammer kry nie … maar dis hoe ek nou teenoor hom voel.”
Dick kyk hom aan. “Ja, ek weet wat jy bedoel. Dit klink wonderlik om die koning van Babel te wees, totdat jy met hom kan plekke ruil … dan besluit jy daarteen. Wat maak die man juis nóú so behep met sy kinders?”
“Hy het nou eers ontdek hy is ook ’n sterflike mens … en dat daar niemand is wat Babel by hom kan oorneem nie.”
Dick frons. “Maar daar is jý, sy opgeleide personeel, talle ander …”
Toby glimlag effens. “Nie een van ons is ’n Midas nie, Dick. Nie een van ons kan een word nie. Daar is net een Midas Hammond … en dis hy wat Babel aanmekaarhou en sy voortbestaan verseker. Daarom wil hy iemand kry wat van sy bloed is – sy seun.”
Die speurder skud sy kop. “Ek hoop ter wille van hom ek is verkeerd, maar ek het ’n nare gevoel daar wag ’n ontnugtering op hom. Daardie mannetjie is nou al vyf-en-twintig en as hy enigsins iets van sy pa geërf het, sou hy nou al sy spoor getrap het. En ek vermoed dis een wat eerder na ’n tronksel as na die troon van Babel sal lei.”
“Wel, aan die feite kan ons niks verander nie. Ons moet Sean net opspoor, maar ek is bang, Dick. Midas het al sy hoop op sy kinders geplaas. Minstens een van hulle sal sy koninkryk moet oorneem. En as dit nie gebeur nie … Die woord nee ken hy nie. En dis ’n nee wat hy glad nie sal kan aanvaar en verwerk nie. Dit sal die einde wees: nie net van Midas Hammond nie, maar ook van Babel.”
Die koning van Babel is vas aan die slaap toe die verwagte oproep eindelik kom. Toby antwoord terwyl Dick by ’n ander telefoon inluister. Eersgenoemde staan sy man, klink baie ongeërg. Dis die man aan die ander kant wat effens onseker raak.
“Ek sê jou Hammond sal met my wil praat. Gaan maak hom wakker!”
“Dis buite die kwessie, meneer. Niemand steur meneer Hammond wanneer hy rus nie.”
“Luister, tjommie, Hammond gaan vir jou die hel in wees as hy hiervan hoor. Hy verwag hierdie oproep.”
“Hy het my geen bevele gegee oor enige spesiale oproep nie. Bel maar later weer.”
Hy glimlag effens toe hy die gehoorbuis neersit en Dick knik. “Gaaf. Nou weet ons meneertjie hy is nie só belangrik as wat hy dink nie.”
“Klink die stem nie miskien bekend nie?”
“Nee. En dis natuurlik vermom. Praat agter ’n sakdoek of iets. Ek dink jy kan oor drie ure weer ’n oproep verwag.”
So is dit ook. “Jammer, maar meneer Hammond het so pas oorsee vertrek. Natuurlik het ek hom vertel van u oproep, maar hy het gesê dit moet wag totdat hy terugkom. Hy het dringende werk om af te handel.”
Hy kry ’n tevrede lig in die oë toe hy die antwoord hoor en sê met ’n knipoog vir Dick wat by die ander telefoon inluister: “Ja, sy seun is seker belangrik, maar hoe belangrik weet ek nie. Hy kom al vyf-en-twintig jaar sonder hom klaar, dus … U moet maar oor ’n dag of drie weer skakel. Ons weet nie presies wanneer hy terug sal wees nie. Goeiedag, meneer.”
Dick glimlag tevrede. “Wanneer hy weer bel, kan ons miskien begin onderhandel.”
Twee dae later onderhandel Midas egter self. Die spanning lê geboogsnaar in hom en hy besef dat dit nie goed vir sy hart is nie. Hoe gouer hierdie saak na ’n punt gedryf word, hoe beter. Hy het nie tyd vir verdere speletjies nie.
“Ja. Dis Midas Hammond wat praat.”