Terug na Eden. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Terug na Eden - Ena Murray страница 4
Dis Helgard wat antwoord: “My vrou het jou hulp nodig, dominee.”
Elise Retief kyk haar man pleitend aan. “O, Helgard, asseblief, jy kan nie nou nog so hardvogtig wees nie. Hier staar die dood ons almal in die oë met klein Helgard, en jy bly jou hart verhard.”
“As my hart verhard is, my vrou, is dit nie deur eie toedoen nie. Sal julle my asseblief verskoon?”
Hy stap ook sommer dadelik uit en Elise skud haar kop weemoedig. “Hy is so ’n dierbare mens, dominee. Maar in hierdie een opsig … Hy kan Nols net nie vergewe dat hy so totaal van ons weggebreek het nie.”
Helmut knik. Ja, hy weet. Ook met oom Helgard het hy al probeer praat, maar ook met hom het dit geen vrugte afgewerp nie.
“Dis nie om myself nie, dominee, verstaan goed,” was die ouer man se verweer. “Dit gaan om wat Nols my vrou aangedoen het. Ná hoeveel jare huil sy nog oor hom, verlang sy na hom, bid sy elke dag getrou dat hy sal terugkom.”
“Gaan dit werklik net om tannie Elise, oom?”
Net vir ’n oomblik het die oë weggeswaai, toe het Helgard hom weer byna uitdagend aangekyk.
“Nee. Dit gaan ook om wat hy Janneman aangedoen het. Jy dink nou dis om die kind, om klein Helgard, maar dis nie dit nie, dominee. Dit gaan daarom dat sy jonger broer pa moes staan vir die kind wat hý verwek het, en so ’n gemors van Janneman se lewe gemaak het. Janneman probeer baie hard om die ware feite weg te steek, maar ek is nie blind nie, dominee. Ek sien wat my seun deurmaak. Hy het in dieselfde hel beland waarin ek destyds was toe ek ook vir ’n ander man se kind pa moes staan. My seun het nie ’n vrou nie, dominee, en ek dink jy weet dit.”
Wat kon hy anders doen as knik? “Ja, oom. Ek weet dit en ek het met Hantie probeer praat, maar jy weet self wat die gevolg was. Hantie wou haar kind vat en loop.”
“Ja, ek weet. Ek wonder nogal waarheen wou sy gaan. Seker na Babel toe, agter Nols aan. Nee, dominee. Jy hoef my nie te sê dis verkeerd en ’n Christen moenie so voel nie. Ek is bitter, bitter teenoor Nols en ek kan dit nie verhelp nie. En moenie vir my daaroor preek nie, want g’n preek van watter predikant ook al sal daardie bitterheid uit my uithaal nie.”
“Nee, oom Helgard. Jy’s reg. Geen predikant kan dit vermag nie. Maar Gód kan. Net Hy alleen.”
Helgard Retief het swaar gesug, swaar gesluk. “Jy’s reg, dominee. Net God alleen. Mag Hy my genadig wees, maar … mag Hy veral vir Janneman genadig wees. My kind kry swaar … en ek kan daar niks aan doen nie. Ek kan net toekyk en voorgee ek sien niks raak nie. Dis die swaarste van alles.”
Verder as dit het hulle nie gekom nie.
Helmut wend hom nou na die ouer vrou en vra met deernis: “Wat hinder, tannie Elise?”
Sy skud die kop, veg teen die trane. “Maar weer Nols, dominee. En my gewete wat my, sedert daar finaal besluit is om te opereer, dag en nag rondjaag.”
“Tannie se gewete?”
“Ja. As klein Helgard moet sterf … Nols weet nog nie eens van sy bestaan nie. Is dit reg en regverdig dat Nols ’n seun het en dat die kind sterf sonder dat die man wat hom verwek het, ooit eens van sy bestaan bewus was. Ís dit, dominee?”
Sy oë sak. Dis ’n moeilike vraag … moeilik …
Hy hoor haar voortgaan: “Al was jy ook hoe sleg, al het jy ook watter fout in die lewe begaan … jou kind is jou kind … deel van jou. En Nols is nie regtig so sleg soos dit voorkom nie, dominee. Ek weet. Ek het hom grootgemaak. Hy was maar so sewe, agt jaar oud toe hy my seuntjie geword het. Ek weet diep in hom het Nols ’n goeie hart. Wat in hom verkeerd gegaan het en hom laat doen het wat hy gedoen het, weet ek nie, maar … Nols sal sy kind erken en wil ken as hy van sy bestaan moet weet. Hy is nie al een wat foute gemaak het nie. Ons, ek en Helgard, het ook. Dit was verkeerd om hom nooit die volle waarheid te vertel nie. Dit wás. Ek weet dit nou. Die vraag lê in my hart: Wie het teenoor wie die ergste misdryf – ons omdat ons hom nooit vertel het nie, of hy wat ons verlaat het?”
Helmut knik. “Dis ’n groot hartseer feit van die lewe daardie, tannie Elise … dat my foute dikwels die oorsaak is van ander se verkeerde optrede.”
“En bitterheid baar bitterheid. Nols is bitter teenoor ons, en nou is sy pa ook teenoor hom verbitterd.” Haar oë kyk hom smekend aan. “Dominee, ek is so bang ons, ek en Helgard, en hierdie keer Janneman, gaan weer ’n fout begaan deur Nols nie van sy kind te vertel nie en hom nie te laat weet wat klein Helgardjie se omstandighede is en van die lewensgevaarlike operasie wat vir hom voorlê nie. Wat as Nols hierdie dinge agterna moet uitvind? As hy dan moet dink Paradys se mense het onvergeeflik teenoor hom gesondig, weet ek nie of ek hom dit sal kan kwalik neem nie. Wat moet ek doen?”
Weer ’n moeilike vraag wat die predikant nie sommer kan beantwoord nie. “Ek sal eers hieroor moet dink, tannie Elise. Dink en bid. Ek sal eers leiding van Bo moet vra, want besef u watter geweldige implikasies dit vir almal kan inhou as Nols in hierdie stadium moet hoor hy het ’n kind?”
“Ek weet. Ek besef dit. Dit kan die grootste ongelukkigheid en hartseer vir ons almal inhou. En tog … hier diep in my hart knaag dit, besef ek Nols móét weet. Iemand moet dit vir hom vertel.”
Terwyl die dominee sy bystand aan sy vrou binne die huis gee, koers Helgard sommer ’n rigting in oor die werf, sien ’n silhoeët teen ’n koppie afgeëts staan, wend dan sy skrede daarheen. Sonder ’n woord neem hy langs Janneman op ’n ysterklip plaas, en ’n oomblik is dit stil tussen pa en seun.
“Dis droog.”
“Ja.”
“Ek het my netnou verbeel ek het ’n effense weerlig daar teen die kim gesien.”
“Nee, Pa. Dis wensdenkery. Daar’s niks. Daar is geen teken van reën nie.”
Stilte.
“Pa …”
“Hm?” ’n Suig aan die pyp.
“Die koste loop hoog. Hierdie afgelope vier jaar het die dokterskoste en Hantie se besoeke met die kleintjie aan die spesialis in die stad baie geld gevra. Dink Pa nie ek … ek moet maar eers vir my ’n werkie êrens probeer kry …”
“Is jy dan nou heeltemal laf? Ons is mos nie in die knyp nie, man! Watse twak …”
“Nee, ons is nie, maar ons is op pad daarheen.”
“Jy vergroot.” Hy beduie met die pyp. “Ons kort net reën.”
“Ons kort meer as reën om hierdie operasie te kan betaal. Ons kort ’n Babel se goud.”
Die atmosfeer is oombliklik elektries gelaai. Die woord Babel word nie voor Helgard Retief genoem nie.
“Moenie my kwaad maak nie, Janneman! Wat de duiwel bedoel jy met daardie woorde? Dat ons …?”
“Niks, Pa. Niks! Ek het maar sommer net gesê. Maar Pa weet wat ek bedoel. ’n Leweroorplanting kos derduisende rande wat ons …”
“Wat ons hét.”
“Maar