Jý is die kerk. Francois Kruger

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Jý is die kerk - Francois Kruger страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Jý is die kerk - Francois Kruger

Скачать книгу

werk Jesus eerder met motiewe. Om die Here jou God lief te hê, is nie ’n koue wet nie, maar ’n motief. Dieselfde geld jou soeke na die koninkryk van God as die enigste prioriteit en om dissipels van die nasies te maak. Dit word ’n dryfveer wat jou motiveer, eerder as ’n koue wet wat van buite af op jou afgedwing word.

      5. Outoritêre leierskap vs diensbaarheid

      Hier gaan dit oor die modernistiese oorbeklemtoning van die leier se status en gesag. Die leier word op ’n troontjie geplaas waar hy amper onaantasbaar is. Juis dít waarteen die kerkhervormers in die 16e eeu gestry het, is weer teruggebring.

      Die uitdaging is om ’n leier met ’n Jesus-karakter te wees. Dan klim jy van jou troontjie af en jy begin voete was. Letterlik! Voetewas is ’n mooi simbool van ’n bereidheid tot nederigheid en diensbaarheid.

      6. Kerkgerigtheid vs koninkryksgerigtheid

      Ek praat dikwels oor die probleem van kerkgerigtheid. In die meeste gevalle ontlok dit ongelukkigheid en sterk teenkanting. Mense se sensitiwiteit om kerkgerigtheid af te keur, verraai dat ons van die kerk ’n grootheid op sy eie gemaak het. Menigeen sal dan in vergelyking met ander kerke en denominasies laat hoor: “Ons kerk is ons trots!”

      Jesus het baie meer klem op die koninkryk as op die kerk geplaas. Koninkryksgerigtheid skilder ’n heel ander prentjie. Omdat jy dan God se werk onder alle mense op aarde raaksien, is dit nie vir jou ’n probleem om met mense van ander kerkgroepe hande te vat om God se saak te dien nie. Jy ontdek die bevryding om uit die kokon te breek.

      7. Verskraalde verlossingsleer vs geestelike groei

      Opkomende kerke beskuldig gevestigde (meestal gereformeerde) kerke daarvan dat hulle met ’n verskraalde verlossingsleer werk. Die meeste gevestigde kerke erken dit ook.

      Die gereformeerde belydenisskrifte het 450 jaar gelede ’n spesifieke oogmerk gehad, en daarom dra dit ook ’n spesifieke klem. As ons dit egter vandag uit hierdie raamwerk haal en sonder inagneming van die historiese konteks net so toepas, skep ons ook eensydige gelowiges en eensydige kerke. Die aanvulling van ons belydenisskrifte om die balans te herstel was nog nooit so dringend soos nou nie. Belydenisskrifte behoort immers vir die hedendaagse wêreld relevant te wees.

      Hierdie eensydigheid gaan oor die afwesigheid (en totale onder-beklemtoning) van die nuwe lewe in Christus; van lewensverandering en vernuwing; van aktiewe dissipelskap; en van geestelike groei om ’n missionêre mag te word. Dis asof ons Jesus al die jare net as ons Verlosser en Saligmaker gesien het en nie ook as ons Leermeester, Gestuurde en Stuurder nie.

      8. Denominasionalisme vs die koninkryk

      Hier gaan dit oor die waarde wat aan ’n spesifieke dogma gegee word. Natuurlik is die suiwer Bybelse dogma baie belangrik. Die tragiese is egter dat instemming tot die dogma die toegangs-kaartjie tot kerklidmaatskap word. Jongmense wat hul geloof bely, word deeglik in die spesifieke denominasie se leerstellings onderrig en ingelei en moet dan verklaar dat hulle dit aanvaar en daarby sal hou.

      Het deelword van ’n gemeente nie eerder met ’n lewende verhouding met Jesus Christus te doen nie?

      Probeer denominasies nie hul bestaan regverdig deur dogmatiese onderskeiding en verskille met ander denominasies op die spits te dryf nie? So ontstaan daar kritiese en veroordelende twisgesprekke, sonder om in ag te neem dat God ook in ander denominasies werk. In hierdie geval lyk die beeld wat die onbekeerde wêreld sien nie goed nie.

      9. Rasionalisme vs belewing

      Rasionaliste word deur hul verstand gelei. Moontlik is dit die Franse wysgeer, wiskundige en wetenskaplike René Descartes (31 Maart 1596 – 11 Februarie 1650) se styl wat nog nie heeltemal momentum verloor het nie. Rasionalisme plaas onmiddellik die erediens en spesifiek die dominee se preek op die voorgrond. In baie mense se denke het dit die belangrikste van kerkwees geword en sommiges stel dit selfs gelyk aan kerkwees. In dié geval is die preek die hoof- en ook die einddoel.

      Beklemtoon die Bybel nie eerder die nuwe lewe in Christus nie? Behoort die erediens nie eerder ’n konkrete ervaring te wees en minder van ’n intellektuele oefening nie? Is kerkwees buite die erediens minder belangrik as daarbinne?

      Ek weet dat Woordbediening baie belangrik en onontbeerlik is. In Efesiërs 4:12 leer ons egter dat dit nie die doel is nie. Goeie preke help ons om by die hoofdoel uit te kom. Dit is maar ’n deel van ’n groter proses. Die einddoel is, soos in Efesiërs 4:13 beskryf word, om soos Jesus te wees. Beide aspekte word in hoofstuk 10 van hierdie boek uiteengesit.

      10. Stelselgedrewenheid vs verhoudingsgedrewenheid

      Hier gaan dit oor stelsels wat kerke oor die jare vir hulself geskep het. Dit kan maklik gebeur dat die instandhouding van hierdie stelsels die hoofdoel van ’n kerk word.

      Gevestigde kerke het jare lank danksy die bevolkingsaanwas gegroei. Toe begin die getalle egter daal, onder meer omdat daar ’n afname in die geboortesyfer was. Die stelsels het ewe skielik onder druk verkeer en die begrotings het nie meer geklop nie. En wat gebeur toe? Tragies genoeg het ’n nuwe stelselgedrewe missionêre gevoel begin ontwikkel.

      Hierteenoor is ’n Christus-gesentreerde kerk verhoudingsgedrewe in plaas van stelselgedrewe. Waar stelsels onpersoonlik is, is verhoudings persoonlik en warm.

      Die twee modelle

      ’n Probleem wat dikwels voorkom, is dat kerke steeds in wese op die linkerkantste model staan, maar dan probeer om ’n nuwe gesig op te sit. Hulle glo ’n bietjie duikklopwerk laat hulle meer na die regte ding lyk.

      Die skuif van die linkerkantste na die regterkantste model is ’n radikale skuif. Dit behels dat ’n aantal bestaande lewenswaardes tot op die grond toe afgebreek word alvorens daar na ’n heel nuwe fondament toe geskuif en van nuuts af gebou kan word. Sonder die krag van die Heilige Gees gaan die skuif nie plaasvind nie. En sonder gebed gaan die krag van die Gees net ’n mooi teorie bly.

      Kyk mooi na die linkerkantste model. Daar is nie plek vir Jesus nie. Hy kry hoogstens ’n tweede of derde plek – of Hy word ’n voetnota. Wat hierdie model beskryf, is nie ’n kerk nie; dalk eerder ’n organisasie of ’n klub. As ons dit ’n kerk sou noem, verkondig ons ’n leuen. Vir jare het ons hierdie leuen in stand gehou net omdat ons gaaf wou wees en nie mense wou ontstel en onsself ongewild wou maak nie. Hoe lafhartig! Hoe pateties lafhartig!

      Dit is nie nodig om gevestigde kerke te verlaat nie. ’n Passie vir die Groot Skuif het alreeds posgevat en is besig om baie vinnig te versprei. Dis baie opwindend om deel daarvan te wees.

      Dit is die uitnodiging, maar ook die uitdaging aan jou: kom wees deel daarvan!

Mensgesentreerd Christus-gesentreerd
1. Kerk as die middelpunt Lidmaatskap Volg die kerk 1. Jesus as die middelpunt Dissipelskap Volg Jesus
2. Wat beteken die kerk vir my? Ek wil bedien word Huisbesoeke Konstantyn (sien hoofstuk 16) Verbruikersmentaliteit Passiewe meerderheid Demokraties 2. Wat beteken ek vir Jesus? Ek is hier om te dien “Mekaar”-opdragte Liggaamsbelewing Geaktiveerde gawes Christokraties
3. Die kerk bestaan ter wille van homself Na-binne-gerigtheid Klub (tribalism) Sunoesia 3. Die kerk bestaan ter wille van die nood van die wêreld Na-buite-gerigtheid

Скачать книгу