Jý is die kerk. Francois Kruger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Jý is die kerk - Francois Kruger страница 6
Die afbreekproses skep die indruk dat ’n gemeente nie “gesond” is nie. Daar is baie pyn in mense se gemoed, want die afbreekproses is pynlik. Dit is egter onvermydelik – selfs al veroorsaak dit ongelukkigheid in ’n gemeente en selfs ongevalle.
Dit vra egter groot eerlikheid van die leiers – om nie hier-agter te skuil as hulle voetfoute maak nie. Verkeerde optrede deur die leiers kan ook pyn veroorsaak. Dit is iets anders as God se afbreek- en opbouproses. Leiers behoort hul motiewe en geestelike integriteit eerlik te ondersoek.
God se skuifproses in ’n mens se lewe vra van jou om baie eerlik met jouself en voor God te word. Dit vra dat jou geestelike oë sal oopgaan en om te erken dat sekere dinge in jou lewe dalk ’n ander oorsprong as Jesus Christus het.
Die probleem is normaalweg nie om op Jesus te bou nie, maar om al die ander dinge af te breek. Dit is pynlik om ontslae te raak van gebruike (selfs jare lange gebruike) wat nie werklik uit Christus gegroei het nie. Te veel mense skram weg van hierdie uitdaging. Ons het te lief geword vir sekere gebruike net omdat ons sentimentele verkleefdheid daaraan so sterk is.
Ek dink ook aan wat my pa en oupa my geleer het: om ver genoeg terug te gaan. Dít is die groot uitdaging! ’n Mens moet teruggaan tot by die persoon, Jesus Christus. Enige poging wat stop vóór jy by Jesus uitkom, is nie goed genoeg nie.
Deur mense daaraan gewoond te maak dat dit genoeg is om fatsoenlik en ordentlik te lewe, het ons ongelukkig oor die jare iets van ’n verkeerde kultuur in ons kerklike lewe gevestig. Mense dink dis voldoende om net met die regte kerklike gebruike te konformeer. Hulle glo as hulle gereeld die eredienste bywoon en hul dankoffer gee, hoef hulle eintlik nie iets meer te doen nie. Tensy jy as ’n leier gekies word, want dan moet jy begin werk. Ons het jare lank nie die radikale karakter van Christenwees genoeg beklemtoon nie. En hier kla ek myself aan.
Om vierkantig op Jesus te bou beteken jy word oorgemaak – nuut gemaak. Die Heilige Gees vat jou terug na die heel begin en van daar af doen Hy alles oor.
Ek weet die afbreekproses is moeilik. ’n Mens raak gewoond aan ’n sekere manier van dinge doen, want dit het so deel van ons godsdiens geword. Die goeie nuus is egter dat ’n praktiese en persoonlike verhouding met Jesus Christus ’n mens se hele waardestelsel herskryf. Wanneer ’n mens die onoortreflike waarde van hierdie verhouding besef, plaas dit onmiddellik alle ander sake in ’n nuwe lig. Baie ander dinge word minder belangrik, selfs verwerplik – soos Paulus in Filippense 3 skryf.
Jou Koning stel jou sodoende in staat om vorige sentimente te herevalueer, en ’n totaal nuwe perspektief te kry. Dit is soos om ’n kers aan te steek om beter te kan sien terwyl die son helder skyn. Dis mos belaglik! Die sonlig oorweldig eenvoudig alle ander ligbronne sodat hulle oorbodig word. Net so word alle ander hoekstene oorbodig.
Fundamentalisme is om aan ’n klomp wette, reëls, regulasies, gebruike, konvensies, uiterlike vorme, seremonies en tradisies vas te hou asof dit onveranderlik is. Kom ons speel klaar met fundamentalisme en hou liewer net aan die lewende Christus vas. Die Heilige Gees gaan ons hiertoe in staat stel!
2. Die beginpunt
2
Die beginpunt
Hierdie hoofstuk behandel Jesus as Verlosser en die individu se geloofsverantwoordelikheid. Die beginpunt lê by die enkeling.
Daar is al baie gedebatteer oor die vraag: Waar begin die skuif na ’n Christus-gesentreerde kerk? Of anders gestel: Waar begin kerkwees?
Baie mense voel dit moet by die sinode, teologiedosente en by die kerk se leierskorps begin. Die meeste mense stem egter saam dat dit op ’n persoonlike vlak begin. Ek dink dit is wat die Bybel ons ook leer.
Kyk byvoorbeeld na die gemeente in Filippi. Hoe en waar het dit begin? By ’n enkele persoon – ’n vrou. Haar naam was Lidia. “Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak” (Handelinge 16:14).
Verandering begin altyd op ’n persoonlike vlak, met ’n innerlike hartsverandering as die beginpunt. Daarna volg verandering op gemeentelike vlak. Mense se harte moet eers verander voordat strukture kan verander.
In Filippi was Lidia een van die eerstes wat in Jesus geglo het. Sy het geluister hoe Paulus die fondament lê en hoe hy hulle vertel het van Jesus, uit wie alle ander dinge voortspruit.
Daar was ander mense wat ook gelowig geword het. Hierdie gelowiges het mekaar opgesoek en gereeld bymekaargekom en mekaar versterk en gedien. So het daar ’n kerk gevorm.
Kom ons dink bietjie dieper na oor hierdie beginpunt.
Na my mening is dit gevaarlik om Jesus bloot as ’n voorbeeld en nie ook as ’n Verlosser te sien nie. Dit gebeur dan dat jy bloot, soos ’n mimiekkunstenaar, Jesus se voorbeeld volg. Sommige opkomende teoloë in Amerika maak hulle dalk hieraan skuldig.
In die vorige hoofstuk het ons na Jesus as die enigste fondament gekyk, en dat ons óp daardie fondament moet bou.
Die woordjie “op” word ook op ’n ander plek in die Bybel gebruik. Ongelukkig kom dit nie in die Afrikaanse vertalings voor nie. Dalk is dit van groter betekenis as wat ons nog ooit besef het.
Toe die tronkbewaarder in Filippi vir Paulus en Silas vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” was hul antwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin”1 (Handelinge 16:31). (Die Griekse vertaling gebruik die woord “epi”, wat “op” beteken).
Die woord “op” is ’n tipiese en geliefde uitdrukking van Lukas. Lees byvoorbeeld Handelinge 9:42, 11:17 en 22:19. In al drie hierdie gevalle staan daar letterlik, volgens die Grieks, “Glo op Jesus”, alhoewel dit nie in die vertalings so na vore kom nie.
Normaalweg word die woord “in” gebruik – “Glo in die Here Jesus …”, maar Lukas stel dit anders, heelwaarskynlik omdat hy Jesus Christus as ons verlossingsbasis in gedagte het.
Die beeld van die fondament kom dadelik in ’n mens se gedagtes op.
Begin by hierdie punt om op Jesus te bou:
• Om jou sondelas óp Hom te laat rus.
• Om al jou skuld óp Hom te laat neerkom.
• Om óp Hom te steun vir jou ewige saligheid.
Jesus as fondament is meer as bloot ’n voorbeeld. Hy is die enigste Verlosser en verlossingsbasis wat daar is.
Die Heidelbergse Kategismus stel dié belangrike vraag: “Word alle mense deur Christus verlos?”
Die antwoord hierop is: “Nee, net dié wat in Hom glo met ’n ware geloof.”
Die tronkbewaarder in Filippi het hierdie geloof gevind.
In Handelinge 16:16–34 lees ons dat Paulus en Silas ’n waarsêersgees uit ’n slavin, wat baie geld vir haar eienaars ingebring het, gedryf het. Toe sy hierna nie meer vir hulle kon geld inbring nie, het haar eienaars Paulus en Silas laat arresteer. Hulle is ná 39 houe aan ’n spesifieke tronkbewaarder oorhandig, wat hulle toe in die binneste sel opgesluit en hul voete in die houtblok vasgeklem het.
Teen