Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux страница 21
Saterdag neem hy hulle dieretuin toe en kom moeg by die huis, bly toe hulle boontoe storm om met Leo en Boggom te gaan dieretuin speel. Hy loop na sy studeerkamer toe en voel gesteurd toe daar skaars ’n halfuur later ’n klop aan die voordeur is.
As dit nog ’n vriendin van Olivia is … dink hy boos en maak die deur oop.
Maar dit is nie. Dis ’n onbekende man van middeljarige leeftyd. Hy is korter as Nicolas en byna heeltemal bles, al is sy gesig bruingebrand en nie so oud nie. Hy is netjies geklee in ’n grys broek, oopnekhemp en sportbaadjie en hy glimlag warm toe hy Nicolas sien.
“Meneer Steytler?” vra hy en steek sy hand uit. “Ek is Andries Joubert.”
“Aangename kennis,” sê Nicolas, maar lyk verward. Iets omtrent die man se skerp blou oë wil bekend lyk.
“Olivia se pa,” sê die man en lag goedig. “Is sy hier?”
“Nee.” Nicolas skud sy kop asof hy nie behoorlik kan dink nie. Hoekom is hy verbaas dat sy ’n pa het? “Maar kom binne, asseblief. Olivia is weg vir die naweek.”
“Ag, ek wil nie pla nie,” sê meneer Joubert, maar stap tog agter hom aan. “Ek moes haar seker laat weet het dat ek in die stad sal wees.”
Nicolas gaan kry vir hulle elkeen ’n bier en hulle gaan sit op die stoep waar dit effens koeler is. Meneer Joubert vra hom uit oor Olivia en dis vir hom ’n verligting om haar met iemand te kan bespreek. Hy verseker meneer Joubert dat sy wonderlik is met die kinders, dat hy hom as besonder gelukkig beskou om haar te hê en dat die kinders ander mensies is sedert sy daar aangekom het.
Meneer Joubert gloei soos enige ouer as ander mense mooi dinge van hulle kinders vertel. “Sy het natuurlik jare se ondervinding,” merk hy dan op.
Nicolas kyk hom skerper aan. “Maar sy het géén ondervinding nie. Toe sy aansoek gedoen het, wou ek haar wegstuur juis omdat sy op ’n wildplaas gewerk het en –”
“Nee, nee,” val meneer Joubert hom in die rede. “Het sy jou nie vertel nie? Sy het haar twee broers grootgemaak.”
Nicolas sit terug in sy stoel, sy oë op die ander man. “Sy het nog nooit iets gesê nie.”
Meneer Joubert se oë kyk in die verte. “Sy was agt jaar oud toe haar moeder oorlede is. Dit was altyd net sy en ons … ons het gedink dit sal maar altyd net sy bly. En toe … toe is daar skielik nog een op pad – behalwe dat dit toe ’n tweeling is – en die geboorte was baie moeilik.” Hy vee met sy hand oor sy mond. “Komplikasies en my vrou was baie swak.” Hy swyg ’n ruk. “Sy is dood. My vrou se moeder het toe nog geleef en sy wou die tweeling vat, maar Olivia het vasgeskop. Sy het lank genoeg gewag vir hierdie twee boeties van haar en sy wou hulle hê. Gelukkig was daar ’n jong bruin vrou op die plaas – ’n juweel, ’n vrou deur die liewe Here vir ons gestuur – en tussen haar en Olivia het hulle vir Dries en Gerard grootgekry.” Hy gee ’n laggie. “Groot is die regte woord, jy moet hulle nou sien. Yslike knewels van sestien, en Olivia was altyd so ’n ou riempie.”
Nicolas byt sy lip. Hy sou haar nie so beskryf nie; fyn en delikaat miskien. Maar hy sê niks nie.
“Ek wou hê sy moet ballet neem,” gaan meneer Joubert voort. “Sy lyk mos sommer na ’n ballerina, maar sy het nooit regtig lus gehad nie. Was te veel van ’n rabbedoe.” Hy skud sy kop goedig. “Wat sy en daardie twee nie alles aangevang het nie. ’n Boomhuis gebou, ’n foefieslaaid langs die rivier. Glo my, ek het geweet van gebreekte arms en stukkende knieë, en dit was nie altyd die seuns nie.”
“Sy het vir my kinders ook ’n boomhuis gebou,” sê Nicolas. “Min of meer eiehandig.”
Meneer Joubert lag. “Ja, sy lyk so fyn, maar sy kan ’n trekker ook heelmaak.”
Nicolas is gefassineer. Dis asof stukke van ’n legkaart inmekaar begin pas.
“Maar sy is bang vir trou,” lag meneer Joubert. “Mens kan haar seker ook nie blameer nie, sy was so vroeg al verantwoordelik vir ander mense.” Hy lyk bietjie verleë. “Dis juis hoekom ek hier is. Om ring te koop. Ek gaan weer trou en ek wou haar kom vertel.”
“Dis goeie nuus,” sê Nicolas en wonder of dit waar is. As die nuwe vrou soos Yvonne is, wil hy nie Olivia se reaksie hoor nie. “Is dit iemand wat Olivia ken?”
“O ja. Ansie Neethling. Vrou uit die buurt, ook nou al ’n paar jaar weduwee. Die seuns is mal oor haar.”
“U moet my vergewe as ek so uitvra,” sê Nicolas. “Maar sy het nog nooit oor haarself gepraat nie. Het sy enige kontak met haar broers?”
“A ja a,” sê meneer Joubert verbaas. “Dis miskien dié dat ek so vrymoedig met jou sit en gesels. Dit voel vir my of ek julle almal so goed ken. Nee kyk, Olivia is ’n goeie briefskrywer, dis soos ’n dagboek, sommer pakke meer as briewe. En sy bel. Nog steeds soos ’n ma oor hulle bekommerd. Vat hulle vas ook. Het nou laas vir Dries goed die kop gewas omdat sy wiskundepunte so laag was. Nee, soos ek jou sê, jy moet jou nie deur daardie riempielyf laat bluf nie, Olivia kan raak vat en as sy dink iets is verkeerd of iemand is op die verkeerde spoor, is sy nie bang om hulle reg te sien nie.”
“Dit het ek al ondervind, ja,” sê Nicolas droog.
“Doen sy dit met jou ook?”
“O ja.”
Meneer Joubert sit sy glas neer. “Ek wil nie jou tyd langer mors nie. Ek moes natuurlik eers gebel het, maar dit het skielik gebeur, die planne van ons.” Hy kyk op na Nicolas, weer eens met ’n skugterheid gekombineer met ’n skerp blik, nes Olivia kan doen. “Sy klink gelukkig hier. Is sy?”
Nicolas sluk swaar. Nie op die oomblik nie, wil hy sê, maar hy knik net. Gelukkig hoef hy nie te antwoord nie, want die kinders, moeg vir hulle kamers, kom uitgestorm.
Hoofstuk tien
Nicolas wag Olivia in toe sy Sondagaand terugkom. Sy lyk somber en skrik toe sy hom in die portaal sien.
“Goeienaand,” sê hy. “Het jy ’n lekker naweek gehad?”
“Ja dankie.” Sy kyk vinnig op na hom. “Hoekom staan jy hier, is iets verkeerd met die kinders?”
“Nee, glad nie. Hulle is in die bad. Jou pa was gister hier.”
Sy kyk hom ongelowig aan. “My pá?”
“Ja. Hy het heelmiddag hier by ons gekuier.”
Sy laat sak haar naweektassie en staar na hom, maar haar gesig lyk skielik bly. “Regtig? Hoekom het hy nie gesê hy kom nie? Ek sou mos nie weggegaan het as ek geweet het nie.”
Hy vertel haar alles wat haar pa gesê het en hou haar krities dop toe hy kom by die nuus oor haar pa se troue, maar sy lyk net baie bly.
“Sowaar,” sê sy verwonderd. “Het hy uiteindelik so ver gekom om dit te doen! Ek sê al jare lank vir hom hy moet weer trou en tant Ansie is net die regte een. Van haar man dood is, karring ek aan my pa.”
“Jy het dus nie ’n probleem met ’n stiefma nie?”
“Sy’s