Danda. Chris Barnard
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Danda - Chris Barnard страница 6
Danda wil hulle nog terugroep, maar Kiki en Vlooi is reeds iewers tussen die bome in, albei ewe luidrugtig.
“Dan kan ek maar net sowel hier ’n spaan probeer prakseer, sê Danda vir homself. Of eintlik nie net vir homself nie. Hy het al geleer om hardop te gesels, al is daar nie ’n mens naby hom nie. As ’n mens die grootste gedeelte van jou lewe alleen was, leer jy later om sommer met die wind te gesels. Maar buitendien hou die diere ook daarvan om sy stem te hoor en partykeer lyk dit kompleet asof hulle verstaan wat hy sê. Veral Vlooi en Sindo. Ratel is maar dommerig en Kiki bly self nooit lank genoeg stil om te hoor wat iemand anders op die hart het nie.
Danda haal sy jagmes uit sy pofaddervelsakkie en begin rondsoek na ’n bakhoutboom. Bakhout is lig, sag genoeg om te kerf en redelik waterdig. Maar nadat hy minute lank sonder sukses gesoek het, kies hy maar ’n tak van ’n jongerige pypsteelboom.
Om met ’n jagmes so ’n tak af te knaag, vra nogal heelwat geduld en deursettingsvermoë. Later sit daar ’n yslike blaas in die waai van Danda se wysvinger. Maar aanhouer wen en uiteindelik tuimel die tak af grond toe – amper bo-op die arme Ratel. “Jy moet oppas daar onder,” sê Danda. “Netnou is jou ander been ook mank.” En soos gewoonlik beaam Sindo gewigtig.
Die tak word afgesleep rivier toe en op ’n breë sandbank, naby die aangemeerde vlot, sit Danda in die oggendson die jong takke en wegsny. Vlooi maak van die verposing gebruik om rotte uit te jaag, Sindo soek sprinkane, Kiki vlieg tussen die bome rond en Ratel lê lui in die son en steun van lekkerkry.
Danda sny die nuwe spaan aan die dun punt op ’n geskikte lengte af en roep die diere. Daar is nie nog tyd om dit netjies af te werk nie. Waar hy vanaand oorstaan, sal hy die tyd gebruik om die vatkant dunner weg te sny en die roeikant af te plat.
“Op is julle,” roep Danda. “Toe, maak gou. Op!”
Dié keer is Vlooi eerste op die vlot – gedagtig, waarskynlik, aan die feit dat hy netnou byna die hele vaart verpas het. Toe kom Sindo senuweeagtig by en daarna volg Ratel sukkel-sukkel. Oor Kiki bekommer Danda hom nie – hy sal wel agternagevlieg kom.
Die son sit al ’n hele ent bokant die horison en hy het nog skaars ’n kilometer afgelê. Teen dié pas gaan hulle nie vandag ver vorder nie. En hulle sal in elk geval ’n moordende pas moet volhou as hulle oor ’n week in die hawe wil wees.
Aanstoot, dus. Sonder genade.
En die rivier vat hulle.
Die lug is broeierig. So amper asof die dag reën beloof. Maar die wolke lyk nie juis daarna nie. Aan die ander kant is dit nog te vroeg in die dag om die wolke te glo. As dit moet reën en die reën is kwaai, kan dit natuurlik probleme skep. Wanneer die rivier die slag goed afkom, vat hy plek-plek sommer bome saam.
’n Uur of twee gaan dit goed. Die eilande word minder en die rivier loop gelyk en rustig. Maar soos die dag vorder, word die son warmer, en later sit Vlooi en Sindo op ’n hopie in Danda se klein skaduwee. Net Kiki en Ratel steur hulle nie veel aan die son nie. Teen twaalfuur maak Danda vir Sindo ’n lêplek onder die een olieseil en dit neem die nagapie nie lank om te snap wat van hom verwag word nie: hy kruip in die donker holte in en raak byna dadelik aan die slaap. Hy soek wel altyd avontuur, ja, maar as jy ’n halwe dag op ’n vlot drywe en jy is so bang vir water soos Sindo, raak dit te erg.
Hy weet nog nie wat daar alles vir hom voorlê nie, dink Danda. Dit is nog maar net die begin.
Af en toe wanneer Kiki verveeld raak, vlieg hy van Danda se skouer af, maak ’n groot draai oor die rivier, raak partykeer weg tussen die bome op die oewer, en kom dan weer terug. En almal beny hom dit. As Danda kon vlieg, sou hy ook kort-kort wanneer sy bene begin stram word of die son te warm bak, ’n draai wou vlieg tot in die groen skaduwees van die digte bosse langs die rivier.
Met die son sal hy beslis ’n plan moet maak. Dis eienaardig dat Ou-Faans nie daaraan gedink het dat die hitte hom in die middel van die dag gaan vang nie. Maar aan die ander kant: Ou-Faans is die son so gewoond, sy vel is al bruin en taai soos leer. Danda is self bruin gebrand, donkerbruin soos grond, maar dié soort stilsit in die son – dit vang hom.
Miskien moet hy vanaand ’n plan probeer prakseer. Vier dun pale, een op elke hoek; vier dwarslatte bo, van hoek tot hoek en met biesies aanmekaargebind; die een olieseil bo-oor: Dit sal baie help.
Twee-uur se stryk word Danda honger. Hy haal beskuit uit. En dadelik is Sindo wakker en op sy skoot. Vir die nagaap en die kraai en Ratel breek hy elkeen ’n beskuit in klein stukkies op. Vlooi en Danda kry hulle s’n heel. Ratel is nie dol oor beskuit nie, maar by gebrek aan beter eet hy maar ook saam.
Sindo, die klein vraat, vra nog. Maar Danda wil niks weet nie. “Ons gaan ’n week op hierdie vlot wees,” sê hy vir die apie, “en ons het skaars genoeg kos vir vier dae. Jy sal maar moet uithou, jong.”
Die kraai probeer ook ’n ekstra porsie bedeel, maar Danda hou voet by stuk. Hy is self so honger soos ’n bees, maar as hulle nou al begin toegee aan die hongerpyne, is hulle binne ’n dag of drie heeltemal sonder kos.
Die verste oewer lê en bewe in die hitte; party van die groot waterbessiebome lyk asof hulle dans. Links, op die naaste oewer, sien Danda af en toe ’n paar groot krokodille op die sandbanke lê en dut. Dan moet hy die hele tyd Vlooi se aandag in ’n ander rigting stuur, want as daar nou een ding is wat Vlooi nie kan verdra nie, is dit ’n krokodil. Eenkeer toe Danda en Ou-Faans langs die rivier na ou vinkneste gaan soek het, het Vlooi onverwags tussen die riete op ’n jong krokodil afgekom en homself buite weste geskrik toe die dier hom met die stert bykom. Van toe af is al wat krokodil is, wat Vlooi betref, sy lewe nie meer seker nie – hy loop hulle gereeld storm en besluit telkens eers op die laaste nippertjie om maar genadig te wees en die aftog te blaas. Meer as een keer het hy byna met sy lewe geboet.
As hy dié soort stuitigheid op die vlot probeer uithaal, kan dit maklik op ’n tragedie uitloop. En Danda het genoeg probleme gehad vir een dag.
Die middag verloop sonder voorval.
Die nuwe spaan werk verbasend goed en die rivier lewer nie veel probleme op nie. Ook die diere gedra hulle redelik, hoewel Vlooi teen laatmiddag ’n tweede keer die dag van die vlot aftuimel toe hy te opgewonde raak oor ’n bleshoender wat met die vlot se verbykom nie ver genoeg na sy sin padgee nie. Maar dié keer val hy gelukkig vorentoe af en Danda help hom op, waaroor hy uitermate dankbaar is – en hy betoon sy dankbaarheid deur al sy mede-passasiers sopnat te spat.
Danda kan nie besluit hoe laat hy ’n halt moet roep nie. Doen hy dit te vroeg, verloor hulle te veel vaartyd; wag hy te lank, moet hulle dalk op ’n ongeleë plek kamp maak en boonop in die donker vuurmaakhout soek.
Maar toe die son halflyf weg is agter die westelike oewer se bome, besluit hy die tyd het aangebreek. Die sononder-kant is dig bebos en by besluit om aan die oostelike kant slaapplek te soek. Dié kant is heelwat oper, maar het nogtans genoeg bome – en lekker sandbanke om teen aan te meer. Toe die rivier op ’n plek na regs wegswaai, mik Danda links, reguit op ’n mingerhoutbos af. Die draai van die rivier stoot hom byna vanself op die sand uit en toe die vlot teen die sand aanskuur, is al vier die diere gelyk op vaste grond. Of byna gelyk: Ratel is soos gewoonlik