Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan страница 16
“Waarom doen jy dit nie?” vra sy omgekrap. “Omdat ek nie lyk soos die ander nie? Omdat my vel dieselfde kleur as joune is?”
Hy bal sy vuiste en is bly dat daar nie van die ander slawe by is om te hoor hoe sy met hom praat nie. Toe sy op haar knieë gegaan het, het hy vir ’n oomblik gedink dat haar wil geknak het, maar dit het nie. Haar opstand bly onder die oppervlak sluimer.
“Omdat ek jou uiteindelik jou regmatige plek wil gee,” sê hy vol ingehoue woede. “Eendag wil ek jou jou vryheid gee, maar ek kan dit nie doen voordat jy die wette van die beskawing aanvaar het nie!”
“Die wette van die beskawing is nie dieselfde as dié van die slawe nie!” Haar blou oë skiet vuur. “In my posisie mag ek gebruik en misbruik word, maar as ’n vry mens word ek beskerm!”
“Ek beskerm jou,” sê hy, en sy stem is skielik weer rustig en diep, al woel die woede onder die oppervlak. “Ek het jou gekoop om jou te kan beskerm teen wat Lantini met jou beoog het.” Sy aantreklike gesig is hard soos graniet. “Het jy al vir ’n oomblik gedink wat jou lot dáár sou wees? Jy sou op ’n slawemark verkoop word. Hulle sou jou klere uitgetrek het sodat jy deur almal bewonder kon word en ’n goeie prys vir jou gekry kon word. Dalk sou jy iewers in ’n harem beland het waar die een of ander sjeik jou kan gebruik wanneer hy daarna voel!”
Leia sidder liggies. Niemand het haar ooit vertel wat die werklike lot van wit slavinne is nie. Miskien het niemand geweet nie.
Hy kyk af na haar ietwat bleek gelaat. “Ek stel jou voor ’n keuse: Wil jy verkoop word, of wil jy hier bly en probeer om na my raad te luister?”
Sy sluk hard. “Ek wil bly.”
’n Glimlag speel om sy mondhoeke. Hy weet goed genoeg dat dit nie die einde van hul konfrontasie sal wees nie.
“Nou goed, ek aanvaar dit so. Jy kan maar gaan.”
Sy probeer aan iets dink om te sê, maar sy kan nie. Dan draai sy vinnig om en hardloop van hom af weg.
Hy lag sag. Dit is net ’n wapenstilstand dié. Oor ’n paar dae of miskien ’n week, sal daar wel weer iets opduik om die vonk in Leia aan te steek. Sy het die vuur van die jeug aan haar kant, maar ook die lis van ’n vrou. Die lag verdwyn uit sy oë … Sy is ’n vrou, bo alles is sy nog ’n verruklike vrou …
Leia se goeie voornemens duur nie baie lank nie. Solank as wat die onsigbare kettings haar aan La Liberté en aan De la Fontaine verbind, sal die opstand in haar bly.
Sy kan ook nie aan Beatrice se gedurige teenwoordigheid op die landgoed gewoond raak nie. Daardie venynige hou met die karwats het sy nog lank nie vergeet nie.
Teen hierdie tyd het sy egter al deeglik besef dat sy niks aan haar situasie kan verander nie. Opstandigheid bring net meer moeilikheid. Daar is vir haar geen hoop om ooit hier uit haar gevangenskap weg te kom nie.
Terwyl sy gebukkend in die wingerd werk, hou sy Beatrice en die graaf uit die hoek van haar oog dop. Hulle staan ’n paar treë van haar af en gesels gedemp. De la Fontaine lyk vandag ontspanne en lag af en toe oor iets wat die meisie sê.
Leia byt op haar tande. Sy beny Beatrice haar sorgelose bestaan. Sy beny haar haar mag as ’n ryk, blanke meisie. Hul wêrelde verskil soos dag en nag en tog, wie weet, sou sy dalk ook iemand soos Beatrice kon gewees het as die skip nie byna twintig jaar gelede langs die kus van Afrika gestrand het nie.
Sy merk dat Beatrice skielik in haar rigting kyk en sy verstyf. Sy hoop net nie dat die vroumens weer moeilikheid gaan soek nie. Sy weet nie of sy haarself sal kan beteuel nie, en as sy opstandig raak, sal sy weer gestraf word.
Beatrice staan ’n tree of wat nader en beskou haar ingedagte.
“Jy kan van dié een ontslae raak, Jacques,” sê sy asof sy van ’n perd praat. “Jy weet tog self dat jy nie veel nut vir haar het nie.”
Leia kyk nie op nie, maar so tussen haar werkery deur loer sy na die graaf wat met ’n strak gesig bly staan.
“En hoekom moet ek?” wil hy weet.
“Jy behoort ’n goeie prys vir haar te kan kry,” gaan Beatrice ongeërg voort. “Jy het my tog belowe dat jy vir my daardie pragtige merrie by monsieur Du Toit sal koop.”
“Ek het nie nodig om my slawe te verkoop om ’n perd te kan bekostig nie, Beatrice.”
Sy haal haar skouers liggies op. “Ek sou dink dat dit ’n goeie ruil sal wees.”
Leia veg teen haar woede. Dis vernederend om na dieselfde waarde as ’n perd geskat te word. Haar hande ruk liggies terwyl sy die trosse druiwe uitdun. Ek sal haar nog eendag vermoor! dink sy wrewelrig.
Beatrice lag. “Het sy dan die plek van jou hanslam ingeneem, Jacques! Ek weet ek het gesê dat jy haar miskien nie moet verkoop nie, maar ek het daaroor nagedink. Sy bring vir jou meer moeilikheid as wat nodig is.”
“Daaroor sal ek self besluit,” sê hy.
Beatrice kyk op na hom. “Lantini is terug in die Kaap en hy het na haar verneem. Hy kan ’n enorme bedrag vir haar kry en is bereid om haar by jou terug te koop.”
“Lantini is ’n vark,” sê hy met gevoel. “Ek onderhandel nie meer met hom nie.”
Sy betrag hom skewekop. “Dis nie goeie besigheid nie, Jacques. Lantini meen dat haar waarde vermeerder het noudat sy met die beskawing in aanraking was.”
“Ek dink nie ons hoef verder hieroor te praat nie,” sê hy kortaf en draai om om weg te stap.
Beatrice volg hom. “Jy kan dit darem net oorweeg,” sê sy vies. “Vierduisend dukate vir een artikel is nie te versmaai nie.”
Leia kan nie hoor wat hy antwoord nie. Die woede kook in haar. Die vrou se koelbloedigheid maak haar blind van woede. Eendag is eendag …
Die woede bly kook en borrel in haar. Sy rig dit teen alles en almal om haar. Tot teen Bako wat sy lot met gelatenheid aanvaar. Ook teen die graaf De la Fontaine wat hom aan ’n listige vrou soos Beatrice kan steur.
Teen sononder loop sy en Bako saam terug na die slawehuisies. Hy ken teen hierdie tyd daardie onnatuurlike glinstering in haar oë en wonder wat weer gebeur het. Hy het die graaf en Beatrice de Boudelaire by Leia gesien, maar hy kon nie hoor wat hulle praat nie. Daarna was die haat weer vlak in Leia se oë.
“Die vrou is onbelangrik, Leia,” sê hy paaiend. “Solank die graaf aan jou kant is, is jy veilig.”
“Sy is listig, Bako,” antwoord Leia bewend. “Sy sal hom nog eendag oortuig dat ek net een van sy … besittings is.”
“Kan jy nie sien dat sy jou wíl kwaad maak nie? Sy weet baie goed dat, as jy in opstand kom, jy weer gestraf gaan word. Bly net stil en alles sal oorwaai.”
“Hy kon anders opgetree het,” sê sy bot. “Hy kon my as iets anders as … ’n artikel beskryf het.”
“Hy het dít sekerlik nie gedoen nie.”
“Nee, maar hy het dit ook nie weerspreek nie. Hy verskil