Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan страница 12
Op ’n stywe galop ry Beatrice van hulle af weg. Leia bewe soos ’n riet. Haar keel wil toetrek as sy aan die toekoms dink. Watter straf gaan die graaf nou weer bedink vir haar ongehoorsaamheid? Gaan sy dalk ook aan ’n wawiel vasgemaak word en om en om gedraai word totdat die kos in haar maag by haar mond uitspuit en dit voel of haar ingewande uit haar liggaam geruk word? Sy sidder by die gedagte. Nog net een keer het sy dit aanskou en sy het gesweer dat sy dit nooit weer wil sien nie.
Die slaaf wat dié straf gekry het, het gesteel, maar die graaf mag dalk besluit dat hy haar op dieselfde manier wil breek. Sy besef ook alte goed dat sy nooit weer dieselfde sal wees ná so ’n ondervinding nie. Dan sal sy die groot man met sy ruwe gesig en deurdringende groen oë vrees.
Bako raak aan haar arm. “Kom, ons moet liewer werk en dan sal jy makliker vergeet.”
Sy laat haar gedwee teruglei na haar skoffel.
’n Hele week gaan verby, en nog het die graaf geen woord gerep oor die voorval met Beatrice nie. Later begin Leia dink dat die meisie hom dalk niks daarvan vertel het nie, maar sy glo nie dat dit die geval is nie. Sy vermoed dat De la Fontaine wil hê dat sy moet wag en wonder oor haar straf. Sy probeer om nie daaraan te dink nie, maar telkens glip die vrees terug. As hy net iets wil sê …
Salvador Mendoza loop Leia die Saterdagmiddag by die rivier raak. Hy sien die skrik op haar gesig toe sy hom opmerk en besluit om met haar te praat. Tot dusver het hy nog net van die wit slavin gehoor en haar af en toe gesien, maar nog nooit met haar gepraat nie. Die geheim van haar herkoms knaag nog altyd aan hom.
“Bonjour,” groet hy en wonder of sy op die vlug gaan slaan toe sy stadig retireer. “Kan jy verstaan wat ek praat?”
Sy knik stadig. “Oui …” Dis die man wat my by die graaf gaan koop, dink sy ontsteld. Hoekom is hy hier by die rivier? Hoekom wil hy met my praat?
Mendoza kom sit op die gras. “Het Bako jou geleer Frans praat?”
“Oui …”
Hy kyk op na haar. “Kan jy onthou waarvandaan jy kom, Leia?” vra hy dan.
Sy frons liggies. Hoekom vra hy sulke eienaardige vrae?
“Non … ek weet net dat ek drie jaar oud was toe ek in ’n vaatjie op die strand uitgespoel het. Tembisa het my grootgemaak … Tembisa is lank gelede al dood …”
Mendoza knik en kyk weg oor die stil vloeiende water.
“Dan is jy nie tussen inboorlinge gebore nie?”
Sy skud haar kop. “Non.” Sy begin meer op haar gemak voel. Die man het geen kwade bedoelings met haar nie. Hy wil net praat, dis al.
Hy kyk na haar. “Kan jy dan niks onthou van die drie jaar voordat jy by Tembisa uitgekom het nie?”
“Ek kan nie. Dit was te lank terug. Net partykeer … partykeer dink ek dat ek iets onthou, maar dan gaan dit weer weg.”
Hy glimlag effens, en sy hou van die manier waarop sy gesig versag.
“Ek dink ek weet hoe jy voel, Leia. Ek ken ook ’n verlange na iets wat nooit sal terugkom nie.” Hy kyk af en wonder waarom hy so iets teenoor hierdie klein barbaar bieg. Baie teësinnig moet hy erken dat sy iets in hom roer. Sy hart gaan uit na haar omdat hy kan sien hoe die vrees en onsekerheid haar dag vir dag opvreet. “Baie lank gelede het ek ’n seun gehad. Hy het op ’n skip saam met sy jong vrou vertrek, en ek het hom nooit weer gesien nie.” Sy oë word dof. “Ons almal staan die een of ander tyd iets af waarna ons vir die res van ons lewe verlang.”
Leia knipper haar oë verwonderd. Hy is ’n ou man, dink sy, die lewe het hom al sag gemaak. Dis nog net hy en sy groot verlange na sy seun wat nooit sal terugkeer nie.
“Dan het ek minder as u verloor, monsieur.”
Hy kyk na haar en glimlag. “Jy weet nie werklik wat jy verloor het nie, omdat jy dit nooit geken het nie. Dis die drie jaar voor jy by die inboorlinge gaan bly het, wat belangrik is. Alles daarna is onbelangrik.”
“Nie Teka nie,” sê Leia en sluk hard. “Teka was my vriendin. Ons het baie dinge saam gedoen.”
Hy knik stadig. “Moontlik, maar so iets word ’n mooi herinnering, Leia. Dit word nie ’n pynlike, blywende verlange nie.” Hy staan op. “As ek jou goeie raad kan gee, moet jy liewer jouself aan die graaf onderwerp. As jy ’n goeie slavin is, sal hy jou baie goed behandel en dalk eendag jou vryheid aan jou teruggee.”
Leia frons liggies toe Mendoza wegstap. Vryheid? Wat beteken haar vryheid hier? Waar sal sy heengaan? Terug na die inboorlinge waar sy grootgeword het, kan sy nie gaan nie. Hier pas sy ook nie in nie.
Sy begin stadig aanstap na haar hut. Sy sien ’n beweging regs van haar en kyk vinnig in daardie rigting. Een van die blanke voormanne is ook op pad na die rivier en steek vas toe hy Leia sien. Dan kyk hy fronsend terug na die Spanjaard wat haastig aanstryk huis toe, en dan weer na Leia. ’n Lelike grynslag ontsier sy gesig toe hy weer aanstap na die rivier.
’n Koue rilling gaan langs Leia se ruggraat af. Dis nie moeilik om te raai wat die voorman gedink het nie. Sy is al ses weke op die landgoed, en dis die eerste keer dat die besef tot haar deurdring dat ’n blanke man haar dalk aantreklik mag vind. Sy sluk hard. Die besef hou ’n nuwe, gevaarlike bedreiging in.
Die aand bly Leia tot baie laat om die kampvuur. Sy sit diep ingedagte na die vlamme en staar. Haar gedagtes maal om Mendoza wat vriendelik en vaderlik teenoor haar was en ook om die gravin wat so onverwags vir haar in die bresse getree het. Sy dink ook aan die bitsige venynigheid van Beatrice de Boudelaire en die koue woede van die graaf De la Fontaine. Tot die gravin en Mendoza voel sy amper toegeneë, en dit vul op ’n manier daardie leemte wat Teka gelaat het. Sy het ’n behoefte aan begrip en sy is seker daarvan dat sy dit in Mendoza gevind het.
Beatrice vul haar met ’n koue afkeer, en die graaf? Leia sidder liggies. Haat en vrees vir wat hy aan haar mag doen, meng met mekaar totdat sy die twee later nie meer kan onderskei nie. Haar aanvanklike opstand het haar saak oneindig skade aangedoen. Sy is nie meer welkom hier nie omdat sy nie ’n goeie, gehoorsame en onderdanige werker is nie.
Silo, die slaaf wat hulle elke aand met die snaarinstrument vermaak, skuif nader.
“Sing weer vir ons.”
Sy kyk na hom. “Ek is te hartseer. ’n Mens wil tog nie van jou eie verdriet sing nie.”
Hy tokkel die snare. Sy wit tande glinster teen sy swart gesig toe hy lag.
“Trane is die salf van die gode. ’n Mens moet eers kan huil voordat jy werklik kan lag.” Die note klingel helder deur die stilte.
Leia luister met haar kop effens gebuig en dan begin sy die deuntjie saggies saam neurie.
“Sing dit uit jou uit,” sê Silo, en sy oë blink in die lig van die vlamme. “As jy nie kán huil nie, sal die musiek dit vir jou doen.”
In die herehuis keep die graaf se naels diep in sy handpalms. Die slawe het al baie saans gesing, maar dis wanneer Leia se