Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan страница 9
“Ek mag nie vertaal nie, meester! Spaar my dit, asseblief!”
De la Fontaine se gesig is so hard soos graniet.
“Vertaal dit, Bako,” beveel hy in ’n sagte stem wat die swart slaaf laat sidder.
Hortend en stotend vertaal hy Leia se woorde terwyl die graaf bleker word, en sy groen oë swart soos bodemlose poele. Vir ’n lang ruk is daar doodse stilte.
Sy dwing my, dink die graaf woedend. Sy dwing my om iets aan haar te doen wat haar dalk gaan breek. Hy kyk na die ander slawe en sien dat hulle hom afwagtend aankyk. Dis nie Leia se dreigement wat hom kwaad maak nie, maar die feit dat sy hom in ’n hoek dryf waar hy iets moet doen wat hy wou verhoed het.
“Vat haar weg, Bako,” sê hy eindelik skor. “Vat haar na die kas van die hel en laat sy haar koppigheid daar uitsweet!”
Hy gee sy perd spore en jaag vinnig van hulle af weg. Beatrice kyk nog vir oulaas triomfantlik na Leia en dan volg sy die graaf.
Bako se gesig het ’n sieklike grys kleur. Hy weet wat daardie kas beteken en hy weet wat dit al aan mense gedoen het, maar hy moet sy meester gehoorsaam.
“Kom,” sê hy sag aan Leia wat vraend na hom kyk. “Ek … moet jou iewers heen neem.” Hy vermy haar blik. “Jy kon dit vermy het, maar dis nou te laat.”
Leia volg hom ongeërg. As Bako die straf moet uitdeel, kan dit nie te erg wees nie, dink sy onbekommerd. Bako is ’n goeie man en hy sal haar nie leed aandoen nie.
Ver van die herehuis af bereik hulle ’n klein houtkas waarin ’n mens net regop kan staan. Dit het ’n deur met ’n swaar slot aan en ’n klein luik onder die deur. Bo is dit oop met geen dak oor nie.
Leia kyk vraend na Bako. “En nou?”
“Jy moet daar ingaan.” Sy hande bewe. “Dit gaan nie maklik wees nie. Byt vas, Leia, en jy sal niks oorkom nie.”
Sy haal haar skouers op. “Vir hoe lank?”
“Die meester sal besluit.”
Sy gaan in die kas in, en Bako maak die deur toe. Dan hoor sy hoe hy die sleutel in die slot draai; sy voetstappe sterf weg sonder dat hy haar gegroet het.
“Bako?” Daar is geen antwoord nie. Die stilte en die verstikkende hitte druk skielik haar keel toe. “Bako!” gil sy. Maar dis net die stilte wat antwoord gee. “Bako!” Leia druk haar voorkop teen die soliede deur en byt op haar tande.
Haar haat vir De la Fontaine groei tot ’n verterende vlam. Sy sal hier uitkom en sy sal hom met haar kaal hande vermoor.
3
Die tyd stap oneindig stadig aan. Elke minuut voel soos ’n ewigheid, en die sekondes rek en rek. Teen die namiddag het die skroeiende hitte plek gemaak vir die koel aandlug en kan Leia ’n bietjie asemskep. Sy probeer haar gemaklik maak teen die skurwe mure van die houtkas, maar die ruimte is baie beperk. Wanneer sy skuins draai, kan sy op ’n manier sit, maar dit neem nie lank voordat die krampe in haar bene haar weer orent laat kom nie.
Sy besef maar te goed wat die graaf beoog. Hy wil haar mak maak, haar wil breek sodat sy onderdanig aan hom sal wees. Dis een ding, besluit Leia in die verstikkende stilte, wat hy nie sal regkry nie. Ek moenie dink aan die wag en die ongerief nie. Dan sal ek van my verstand af gaan. Ek moet dink aan die mooi, gelukkige dae toe ek nog vry was.
De la Fontaine staan op die stoep van die herehuis. Sedert Bako die wit slavin na die kas geneem het, is hy rusteloos. Ná die aanvanklike gille is dit nou stil. Dit hinder hom. Hy hou nie van die doodse stilte nie. Hy het verwag dat sy sou skree en kla en uiteindelik pleit, maar dié houding was hy nie te wagte nie.
Sy moeder kom staan by hom. “Jy moet jou nie so oor die meisie bekommer nie, Jacques. Sy het jou uitgetart en sy het haar straf verdien. Jy kan haar nie vryhede toelaat net omdat sy ’n wit vel soos jy het nie.”
Hy frons diep. “Dit was nog nooit vir my aangenaam om een van hulle so te straf nie. As dit net nie so stil was daar nie …”
“Moontlik het sy nou tot haar sinne gekom.”
Hy lag sinies. “Sy sal nie só maklik oorgee nie … nie daardie een nie. Ek sal enigiets daarop verwed dat sy besig is om iets in die mou te voer.”
Nicole de la Fontaine glimlag. “As ek jou nie beter geken het nie, sou ek kon dink dat jy besig is om met haar kragte te meet.”
De la Fontaine wend hom tot sy moeder. “In ’n mate is dit die geval, Moeder. Dis haar wil teen myne, en ek kan dit nie bekostig om toe te gee nie.”
Sy kyk op na hom. “Dan sal jy haar moet breek, my liewe seun. Sy is nie iemand wat jou halfpad tegemoet sal kom nie. Sy sal wen, of jy sal haar heeltemal moet breek.”
Die graaf swyg. Sy aantreklike gelaat is somber en daar is ’n onpeilbare uitdrukking in sy groen oë. Het Leia dalk gouer geknak as wat ek gedink het? Was sy dalk nie so sterk as wat ek verwag het nie?
Sy blik bly vasgenael op die bosse waaragter die houtkas verskuil is. Daar is ’n onbedwingbare begeerte by hom om te gaan kyk wat daar aan die gang is, maar hy besef dat dit nog gans te vroeg is. As sy nog nie oorgegee het nie, kan hy sy saak net skade aandoen. Hy sal ten minste tot die volgende oggend moet wag.
Nicole sien die stryd op haar seun se gesig en sy frons liggies. Die lot van die wit slavin lê baie swaarder op sy gemoed as wat hy graag sou wou erken. Tog ontstel dit haar nie so erg nie. Die laaste klompie jare het sy al begin moed opgee dat hy ooit weer mens sal word. Nadat Adelaide uit sy lewe gestap het, het hy koud en gevoelloos geword. Niks kon hom meer raak nie. Selfs teenoor Beatrice is hy koud en afsydig. Niemand kon meer deur sy selfverdediging dring nie. Niks kon hom meer roer of omkrap nie.
Tot nou. Die klein wit barbaar het weer sy woede laat opvlam, weer daardie fyn plooitjies van kommer om sy oë laat vorm. Op ’n manier is Leia se koms ’n bedekte seën, maar sy gaan haarself vernietig. Sy gaan haarself te pletter loop teen Jacques de la Fontaine.
Die gravin haal haar skouers op. Leia is net ’n slavin. Haar vernietiging is nie ’n té groot prys om te betaal om Jacques terug te bring na die werklikheid nie. Leia sal word soos die ander slawe … willoos en onderdanig. Alles sal tog ten goede uitwerk.
Die nag gaan stadig verby. Leia kyk na die sterre bokant haar. Sy dink aan haar land en aan die hangertjie wat nou in haar hut lê. Sy dink nie aan wat môre op haar wag nie, want sy weet dat die gevaar juis daar lê. As sy begin dink, sal die haat weer die oorhand kry en sal die frustrasies van voor af begin.
Vanuit die duisternis van die kas hoor sy die naggeluide en dit stel haar op ’n vreemde manier gerus. Die krieke is nog daar, en ook die jakkalse. Die lewe gaan voort, en ook haar afsondering sal einde kry. Niks is finaal en onveranderbaar behalwe die dood nie. En sy lewe nog.
Teen sonsondergang die volgende dag beveel die graaf dat Leia uit die kas gehaal moet word. Hy het die oomblik so lank moontlik uitgestel omdat hy bang was vir wat hulle mag vind.
Bako breek byna sy bene soos hy hardloop om Leia te bevry. Ook hy was bekommerd oor die volgehoue