Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan страница 5
“Het jy hulle dan só sleg behandel?” Sonder om weer na die kaptein te kyk, gaan De la Fontaine met die trap af.
Lantini volg hom verskrik en vies. Hoe keer ’n mens ’n man wat daaraan gewoond is om te doen wat hy wil?
Dit duur ’n paar minute voordat Jacques de la Fontaine se oë aan die donker gewoond raak. Die reuk in die ruim walg hom, en hy is skielik spyt dat hy hierheen gekom het. Teruggaan wil hy ook nie, want dan sal Lantini die idee kry dat hy enige slaaf aan hom kan afsmeer.
Sy blik dwaal oor die armsalige skepsels wat nog in hul swaar kettings bly sit. Hul leë oë sit diep in die kasse en die meeste van hulle is feitlik heeltemal naak. Dis die eerste keer dat hy self na die ruim van so ’n slaweskip kom, en die toestand skok hom.
“Jy is laer as ’n vark, Lantini,” fluister hy vir die kaptein. “Mense soos jy behoort van honger te vrek.”
Lantini knip sy oë. “Signore …”
“Hierdie gat is ’n volmaakte spieëlbeeld van jou stink siel,” sis De la Fontaine. Hy het die jong vrou met die geswelde buik in die hoek opgemerk, en ’n koue woede kom lê in hom. “Bring daardie vrou uit. Ek sal haar by jou koop.”
Lantini skud sy kop stadig.
“Sy sal die geboorte nie oorleef nie, signore. Dis ’n slegte koop.”
“Doen soos ek sê!” blaf die graaf. Sy oë is koud soos graniet. Dan kyk hy na die ander skepsels. Hy kies nog drie van die mans wat lyk asof hulle nie nog ’n dag op see sal oorleef nie.
Lantini skud sy kop wanhopig. Vir daardie armsalige skepsels sal hy bitter min kan verwag. Die edelman wil hom hierdie keer ’n lelike streep trek.
“U doen ’n swak keuse, signore.”
“Dis my saak,” antwoord De la Fontaine kortaf.
’n Ou grysaard sit ineengekrimp teen die wand van die ruim. Hy vee telkens met sy knopperige ou hande oor sy gesig terwyl sy mond aanhoudend beweeg.
“Ek sal die ou man daar ook by jou oorneem.”
Lantini gooi sy hande wanhopig in die lug. Dit is die laaste strooi. Die graaf het die kluts kwytgeraak!
De la Fontaine draai om om weer met die trap op te klim, maar dan vang ’n beweging sy oog. Hy kyk vinnig in daardie rigting en ruk tot stilstand. Skielik draai hy om na Lantini en gryp hom voor sy bors.
“ ’n Blanke!” sis hy woedend. “Aan watter smerige ellendeling wou jy háár verkoop?”
Lantini verbleek. “Net aan die hoogste bieër, signore!” roep hy in ’n piepstemmetjie uit.
De la Fontaine se vuis plof teen sy neus, en hy val tussen die grinnikkende gevangenes in.
“Ek koop dié wat ek uitgesoek het en die meisie vir tweeduisend dukate – en mag die duiwel ’n spesiale plekkie vir jou in die hel bêre!”
De la Fontaine draf teen die trap uit met die beeld van die halfnaakte, beeldskone wit barbaar in sy gedagtes ingebrand.
2
Lantini voel nie baie gelukkig nie. Hy kon baie meer as ’n duisend dukate vir net die meisie alleen gekry het, maar hy kan maar nie sy vrees vir die graaf afskud nie. Dis nie die soort man met wie hy graag kragte meet nie. Die vuishou wat De la Fontaine hom gegee het, bewys net die man se onvoorspelbaarheid. Hy sal maar net hierdie reis as ’n minder winsgewende een moet afskryf.
De la Fontaine wag hom op die dek van die skip in.
“Stuur die vyf slawe wat ek gekoop het land toe. Die blanke meisie neem jy na jou kajuit.”
Lantini kyk onseker na die graaf. Wat voer die man dan nou in die mou? Met ’n ligte skouerophaling draai hy dan om om die graaf se bevele aan sy manskappe oor te dra.
Intussen staan Leia met gloeiende oë na die donker trap en kyk. Sonder dat sy dit so wou hê, het die groot, forse man ’n indruk op haar gemaak. Dit verander egter niks aan die feit dat sy hom met dieselfde haat bejeën as wat sy voel teenoor enigeen van sy ras nie. Sy kan ook nie glo dat die man se besoek aan die vuil ruim enigiets goeds kan inhou nie.
’n Paar matrose kom met die trap af en begin weer enkele gevangenes losmaak. Dit ontgaan Leia nie dat hierdie vyf mense nie sterk en gesond is soos dié wat vroeër weggeneem is nie.
Die verwagtende vrou begin huil en pleit, maar die matrose steur hulle nie aan haar nie. Die ou man en die ander drie laat gedwee toe dat hulle weggelei word. Niks kan hulle meer verbaas nie en niks kan hulle meer skrikmaak nie. Hulle het die ergste ervaar wat moontlik is.
Die stilte sak weer oor die groep in die ruim toe. Leia besef skielik met ’n kloppende hart dat die vreemde, blanke man se besoek verband hou met die verwydering van die paar gevangenes. Haar oë soek dié van Teka hier by haar, en sy weet dat die meisie haar vrees deel. Daar bestaan geen woorde waarmee hulle mekaar kan troos nie.
Die luik gaan weer oop, en hierdie keer kom twee matrose reguit na Leia gestap. Sy skuif verskrik agteruit tot teen die wand van die skip. Dis die einde, dink sy paniekbevange. Hier is waar alles gaan eindig, en ek is nog nie daarvoor gereed nie. Ek haat die groot man wat hier was! Ek haat die mans met hul wit velle wat my in hierdie ellende gedompel het!
“Los my!” gil sy en gryp na Teka. Hulle klou mekaar soos drenkelinge vas. “Ek wil nie gaan nie! Los my!”
Die matrose kyk na mekaar en dan terug na Leia wat met wydgerekte oë na hulle staar. “ ’n Mens sou dink dat hulle teen hierdie tyd genoeg gehad het van dié stink hool,” sê die een gevoelloos en ruk Leia van Teka af weg.
“Nee!” gil Teka en probeer Leia bereik. Die ander matroos klap haar hard deur die gesig en sy val terug tot waar sy snikkend op die vuil vloer bly lê.
Leia spartel om uit hul greep te kom, maar die weke lange reis en die min kos begin sy tol eis. Sy het te min krag om haar werklik nog te kan verset.
“Teka!” kerm sy toe hulle haar teen die trap uit sleep-dra. “Teka! Help my, Teka!”
Maar Teka kan nie orent kom nie. Sy is uitgeteer en kragteloos. Die blink trane op haar wange en die verskriklike verdriet in haar donker oë sal Leia nog lank bybly.
Dit is asof daar iets in Leia doodgaan. Die laaste ligpunt het uit haar lewe verdwyn. Sy is nou alleen met haar groot verlange en diep hartseer. Teka is nie meer by haar om haar vrese en verlange te deel nie. Dit lê alles nou in haarself opgesluit.
De la Fontaine wag haar in Lantini se kajuit in. Sy kom verskrik en bewerig soos ’n vasgekeerde wildsbokkie binne en bly by die deur staan. Sy blik gly oor haar skamele klere en met ’n skok besef hy dat hy hom die eerste keer deeglik misgis het. Sy is nie net ’n gewone, ongelukkige meisie nie, maar duidelik deel van die swart mense in die ruim. Daar is niks in haar wat hom hoegenaamd aan die beskawing herinner nie. Die raaisel van haar teenwoordigheid op ’n slaweskip verdiep. Hoe het sy hier gekom en waar kom sy werklik vandaan? Dalk kan sy niks meer onthou nie. Dalk weet sy self nie meer nie.
Hy laat sy blik sak en dink ’n oomblik lank diep na. Só kan hy haar nie aan wal neem