Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan страница 14
Die graaf frons. “En Bako?”
“O, hy het kom kyk wat aangaan, maar hy is ook bang. Niemand van ons weet wat jy volgende gaan doen nie. Elkeen moet hier vir hom- of haarself sorg.”
De la Fontaine staar ’n ruk lank swyend in die vlamme van die vuur wat nou lustig brand.
Die dokter daag op met Bako kort op sy hakke. Hy en die graaf gaan na die hut om te kyk wat daar vir Jules gedoen kan word.
Bako kom staan by Leia. “Wat het hy gesê?” vra hy versigtig.
“Niks … niks waarop ek kan hoop óf wat ek kan vrees nie.”
Bako frons bekommerd. “Jy moet by hom pleit, Leia. Hy is nie so ’n harde man nie. Vra hom om jou nie te swaar te straf nie.” Die lig van die vlamme flikker op sy beplooide gesig. “Jy sal nou nederig moet wees. Jy het ’n verskriklike ding gedoen, en as jy opstandig is, sal hy jou nog swaarder straf.”
“Ek soebat niemand vir iets nie,” sê sy koppig. “Ek gaan my nie so verneder deur op my knieë voor hom te pleit nie.”
“Asseblief … dis jou enigste kans!”
Leia swyg. Ek was nie verkeerd nie. Elke mens het tog die reg om homself te verdedig. De la Fontaine kan nie van my verwag om myself vir die gebruik van die arbeiders beskikbaar te stel nie.
Die dokter en De la Fontaine kom weer uit die hut. Hulle lyk nie baie bekommerd nie, en Bako sug van verligting. Die voorman sal nie sterf nie, en dus sal Leia se straf nie heeltemal so erg wees nie.
Die dokter vertrek weer. De la Fontaine beveel Bako om toe te sien dat die voorman na sy woonkwartiere geneem word. Terwyl Bako ’n paar slawe bymekaarkry om die gewonde man na sy kamer te dra, kom die graaf by Leia staan.
“Al was dit selfverdediging, kan ek dit nie ongestraf laat verbygaan nie.” In die flikkerende lig van die vlamme is sy oë net twee donker poele. Die lig speel in sy swart hare, oor sy gesig en deftige klere. Hy lyk groter en dreigender, en tog voel dit vir Leia asof daar iewers in sy ongenaakbaarheid vanaand ’n sagte plek is.
Sy kyk op na hom. “Die wiel?” vra sy hees en hy sien die naakte vrees in haar helder blou oë.
“Nee … jy sal ’n volle week in afsondering bly.” Daar is ’n flikkering in sy oë. “Jy sal dit oorleef.”
Die kas, dink sy ontsteld toe hy van haar af wegstap agter die slawe aan wat die gewonde man dra. Hy gaan my in die kas opsluit vir ’n hele week. Sy begin bewe. Dit was maklik om ’n dag te oorleef, maar ’n week … Sal haar haat haar ’n hele week kan dra? Sal sy so lank teen haar emosies kan veg en nog oorwin?
Ver van die vuur en die slawehuisies gaan die graaf staan en kyk terug. Hy sien Leia op haar knieë langs die vuur met haar gesig in haar hande. Haar glinsterende hare hang soos ’n stralekrans om haar kop. Hy draai vinnig om en stap verder.
Ons is albei vasgevang in ons eie wette, dink hy somber. Eers as Leia die wette van die beskawing leer ken en begryp, sal sy kan begin om weer geluk te vind.
De la Fontaine glimlag effens oor sy eie gedagtes. Wat beteken die geluk van ’n slavin tog vir hom? Hy het haar gekoop en sy is sy eiendom. Haar gemoedsrus en geluk het tog niks met hom te doen nie, maar die feit dat hy haar moet straf, hinder en knaag aan hom. Hy wou dit verhoed … hy wou haar nog nooit straf nie omdat hy die vrees en onsekerheid in haar aanvoel en begryp. Hy bal sy vuiste. Hoekom word hy elke keer gedwing om juis dit te doen wat hy wil verhoed? Hoekom kan sy nie sy posisie begryp en dit vir hom makliker maak deur binne sy wette te bly nie?
Hierdie keer voel die kas donkerder en kleiner. Die son is warmer, en die nagte kouer. Leia huil geluidloos. Net haar skouers ruk, en die trane loop vrylik oor haar stofbesmeerde wange. Sy besef vir die eerste keer die nodeloosheid en sinneloosheid van haar opstand. Dit het alles na ’n doodlooppunt gelei.
Sy dink dikwels aan die graaf. Dan onthou sy sy ruwe gesig met die sterk mond, sy groot gestalte en sy fier houding. Sy dink aan sy groot, sterk hande en ook aan die koue woede in sy oë. Sy besef dat sy hom vrees, dat sy hom van die begin af gevrees het en hom juis daaroor gehaat het. Maar met die vrees meng ’n ander emosie. Hy is nie net haar meester vir wie sy moet gehoorsaam en aan wie sy onderdanig moet wees nie. Hy is ook ’n man soos geen ander nie.
Dié ontdekking ruk soos ’n skok deur haar. Sy besef die ontsettende implikasies en haar keel trek toe. Haar lewe en geluk sal hier op La Liberté tot ’n stadige einde kom. Daar is tog baie mans van haar eie ras en kleur … hoekom moet dit juis hy wees?
Soos die dae verbygaan en die vermoeienis ál groter word, word hierdie gevoel van haar egter ook juis ’n rede om die graaf te haat. Sy wíl hom haat … sy móét hom haat om haarself te red.
Die ou gravin is baie stil gedurende die week wat Leia in die kas is. Die spanning is duidelik op haar gesig te lees, maar Jacques probeer om dit nie raak te sien nie. Hy moet tot elke prys dissipline op die landgoed handhaaf.
Dis Beatrice wat die saak die eerste keer ophaal.
“Jy moes haar liewer lyfstraf gegee het,” sê sy terwyl sy klein slukkies van haar limonade neem. “Haar soort verstaan geen ander taal nie.”
Jacques kyk vinnig na haar. “Hierdie manier is minder onaangenaam as om haar aan ’n paal vas te maak en haar rug tot op haar middel bloot te lê. Hier is min mense wat so ’n toneel sou kon verduur.”
Beatrice haal haar skouers op. “En waarom is jy dan nou so skielik gevoelig daaromtrent? Sy is net een van jou slawe. Jy kan tog doen wat jy wil.”
Die gravin sug. “Dis al erg genoeg soos dit is. Leia is blank soos ons, Beatrice.”
Die meisie kyk na die ou vrou. “En maak dit enige verskil, madame? Sy het as ’n barbaar grootgeword, en dit is wat belangrik is.”
Jacques se blik rus ondersoekend op Beatrice.
“Sou jy dalk die sweep graag self wou hanteer het?”
Sy kyk vinnig na hom, en die uitdrukking in sy oë waarsku haar dat sy nie te ver moet gaan nie. Sy sidder innerlik. Daar is geen warmte in hom nie, geen egte emosies nie. Dis net hierdie barbaarse slavin van hom wat nog iets in hom roer, en dit maak Beatrice woedend. Leia is ’n slavin, maar ek is vry … ek is die een wat hom uiteindelik gelukkig sal maak. Ek ken hom goed genoeg om te weet dat dit juis my krag is wat hom interesseer.
“Natuurlik sou ek nie, Jacques. Daar is tog dinge wat ’n vrou nie eens graag sal wil sien nie, maar dit gaan hier oor dissipline.”
Dit lyk asof hy effens ontspan. “Ek sal self daarvoor sorg. Hou jy maar liewer jou gedagtes besig met die dingetjies wat ’n vrou liewer sal wil doen.”
Nicole de la Fontaine vroetel met haar sakdoek in haar skoot.
“Ons kan haar nie hier hou nie, Jacques. Sy sal die situasie hier nooit kan aanvaar nie.”
De la Fontaine se gesig verstrak. Hy het nie verwag dat sy moeder so oor die saak sal voel nie.
“U was die een wat gevra het dat ek haar nie wegstuur nie, Moeder.”
Die