Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ter wille van Talita - Helena Christina Hugo страница 3

Ter wille van Talita - Helena Christina Hugo

Скачать книгу

gesmeek dat die Here Rentia se oë oopmaak, haar laat sien – selfs al moet dit haar skok – wie en wat klein Herman is.

      Emma snuif. Sy vee haar trane met haar vingerpunte af. Hy wikkel sy sakdoek uit sy broeksak en gee dit vir haar aan.

      “Ons moenie dat hierdie ding ons geloof aantas nie,” sê hy.

      “Ek sukkel, maar ek hou nie op bid nie, Johan, al weet ek nie meer wat om vir die Here te vra nie. Die antwoord wat die laaste tyd na my toe deurkom, is Andrea. Ek moet met Andrea gaan praat – vrou tot vrou, moeder tot moeder. Maar ek wil nie ’n gek van myself maak nie.”

      Johan sit regop en swaai sy bene oor die rand van die bed. “Ons het raad vir ander mense, nie vir onsself nie.”

      “Ek bel haar vieruur, kom wat wil.”

      “Vir Andrea?”

      “Nee. Rentia. Andrea-hulle is weg vir die naweek.”

      “Miskien moet ek met klein Herman gaan gesels.”

      “Moenie eens daaraan dink nie!”

      “Dalk het Theuns vir ons raad.”

      “Ons is almal in dieselfde bootjie.”

      “Ouers van dogters,” sê Johan. “Ek gaan vir my ’n toebroodjie maak, wat van jou?”

      Hy is al halfpad in die gang af, toe hoor hy haar roep.

      Twee

      “Ek het vergeet om te sê. My gedagtes was heeltyd by Rentia en vanoggend was ons laat.”

      “Jy weet al van Donderdag af.”

      “Jammer.”

      Johan is gewoonlik nie so teensinnig om by gemeentelede te gaan eet nie, selfs al is dit Sondag wanneer hy gewoonlik ná middagete rus en hom dan daarna voorberei vir die aand se Bybelstudie. Vandag is hy nie lus vir geselskap nie, maar Emma se afgeremde gesiggie is genoeg om sy hart te vermurwe.

      “Hoe laat moet ons daar wees?” vra hy gelate.

      “Eenuur.”

      “Dit gee ons minder as ’n uur om ons reg te ruk.”

      “Al wat ek nodig het, is ’n koue stort.”

      Sy spring met ’n merkwaardige opwelling van energie van die bed af en stap reguit badkamer toe. Johan kyk haar agterna. Sy is op die rand van ’n ineenstorting, maar kry dit steeds reg om na almal se pype te dans. By die deur draai sy om. “Marta is een van my staat­makers. Ons kan nie wegbly nie.”

      “Ek weet.”

      Die badkamerdeur klap toe, die stortkrane gaan oop en die glasdeur skuif met ’n harde slag tot teen die storthokkie se staalraam.

      Marta, Hetta en Ragel was vanoggend in die kerk. Hulle het aan die Du Toitstraat-kant gesit. Ragel het Hetta in die rystoel ingestoot met Marta op krukke kort agterna. Hulle het aandagtig na die preek geluister, so het dit vir hom gelyk – die drie vroue wat elk hul eie rede gehad het om nie kerk toe te gaan nie en nou gereeld die oggenddienste bywoon. Die Here het sy doel met hulle, met almal, dit weet Johan ten spyte van sy eie twyfel. Ragel Naudé is hierheen gestuur om ander te genees en in die proses self genees te word. Sy is saam met Marta op pad na ’n nuwe lewe. Die tekens is daar. Sy het weggekyk van haarself en haar gewig by die dorp en die gemeente ingegooi. Sy lyk nie meer so verwese en maer nie en het lanklaas in sy studeerkamer kom huil. Dis goed, maar haar pad is nog lank, langer as Marta en Hetta s’n. Wanneer hy by hulle op huisbesoek is, sê sy dit gaan goed, maar sy kan hom nie bluf nie. Hetta en Marta se versorging is ’n tydelike uitkoms, ’n kapstok waaraan Ragel haar eie pyn kan ophang.

      Hy en Emma doen dit ook – troos ander terwyl hulle self troos soek.

      Johan gaan staan voor sy klerekas en haal jeans en ’n ligte somerhemp uit. Vir vanmiddag se ete sal hy probeer om Rentia op die agtergrond te skuif en op hulle te konsentreer – Ragel, Hetta en Marta.

      “As ons betyds is, kan ons drieuur tuis wees.” Dis Emma wat met ’n handdoek om haar kop gedraai by die badkamer uitkom. Sy lyk so op en wakker hy kan nie glo sy het netnou soos ’n klip geslaap nie. Dis haar redding, die vermoë wat sy het om kort slapies ten volle te benut. Power naps, noem die Engelse dit.

      “Gaan stort en maak gou!” jaag sy hom aan.

      Hy gryp sy klere en maak soos sy sê.

      Toe die water hom tref, tintel sy vel en klop sy hart vinniger. Dis verfrissend, maar koud. Hy sit sy hand op die warmwaterkraan en oorweeg dit, dan los hy dit voordat hy te lank staan en traag word van die stoom. Dis die soort gemaksug wat maak dat hy meer vra as wat hy elke dag nodig het. Vandag kry hy ’n gesonde stortbad en ’n goeie middag saam met vriende wat hom nie met strikvrae bestook soos Theuns van den Heever nie. Die vrae kan hy nog hanteer. Die manier hoe Theuns sy dogters dissiplineer, is ’n ander saak. Mense praat en verwag van hom as predikant om in te gryp. Hy het Theuns sover gekry om die tweetjies by die kategeseskool in te skryf, maar hy en George moet kort-kort walgooi oor die leerplan wat Theuns “die slegte invloed van buite” noem. Waar trek jy die streep? wonder Johan. Vandat Rentia hulle beskuldig dat hulle haar nie toelaat om vir haarself te dink nie, voel dit vir hom asof hy nie die reg het om Theuns en Edwina aan te spreek nie.

      Here, net U ken die antwoorde. Lei ons en ons kinders na die waarheid.

      Johan staan nog ’n rukkie met sy voorkop teen die koel teëlmuur voordat hy die krane toedraai, uitklim en vinnig afdroog. Hy kan die gevoel van onrus nie afskud nie – al sê hy vir homself, Rentia sal haar kalwerliefde ontgroei, Theuns sal sy besitlikheid onder beheer kry en die Here sal hul gemeente help om die jaar op ’n hoë noot af te sluit. Die kategesekinders is opgewonde oor die Kerskonsert. Hulle vat hande met die skool en die sendinggemeente. Die dorp gaan as eenheid die jaar in die Naam van die Here Jesus afsluit. Niks kan verkeerd loop nie.

      Waarom kan hy nie moed skep nie?

      Die koue stort het hom ten minste verkwik en hy sien kans om ’n glimlag op te plak voordat hy uitstap. Emma sit voor die spieël en grimeer. Sy lyk blosend jonk in haar roospienk somerrok. “Nuwe rok?” vra hy.

      Sy kyk om en haar hare wip los op haar skouers. “Drie seisoene oud, maar ons kan maak of dit nuut is.”

      “Dis die eerste keer hierdie seisoen dat jy dit dra.”

      “Die derde keer!” Sy glip haar sandale aan. “Ons moet loop.”

      “Ons ry,” sê hy, “voor die hele dorp weet ons eet vanmiddag by Marta-hulle.”

      In die kombuis haal Emma ’n plastiekhouer met koeksisters uit die vrieskas. Hulle ry met die bakkie. “Asof niemand ons voertuig voor Marta se deur sal herken nie,” korswil sy.

      “Goed, ek was nie lus om in die hitte om die blok te loop nie.”

      Hy ry stadig by die Van den Heevers se huis verby. Die vensters en deure is toe. Dit staan diep in die erf, agter ’n grasperk beplant met palmbome wat Theuns van sy omswerwinge in die binneland af teruggebring het. Die huis se mure is donkergrys, die dak

Скачать книгу