Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ter wille van Talita - Helena Christina Hugo страница 5
“Seker Marta en Gunther,” sê die ou man.
“Wag nou, Pa, Pa loop ons vooruit,” keer Gunther.
Toe Marta bloos en sy en Gunther vir mekaar kyk, besef Johan hoekom hulle uitgenooi is. Hy vou die brief op en gee dit vir oom Swanie terug. Om die tweetjies nog verleentheid te spaar, wys hy na die plakboek. “Kan ek sien?”
“Asseblief.”
“Dit vertel die skool se hele geskiedenis.” Ciska maak die plakboek toe asof dit ’n antieke manuskrip is. “Miskien kan hulle dit in ’n glaskas bewaar, terwyl daar nog lewe is by die skool.”
“Of by die kerk,” voeg Hetta by. “Die kerk sal tog nooit vergaan nie.”
Johan belowe niks. Die kerk is nie ’n museum nie. Hy vat die plakboek versigtig en slaan die eerste bladsy oop. Oom Arend het ’n reënboog geteken – in al sewe kleure met wiskundeformules wat in Indiese ink-druppels onder die boog uitval. Aan die bokant staan in netjies gedrukte blokletters: My skool, my lewe.
Die bladsye is genommer. Daar is ’n inhoudsopgawe op die agterkant van die eerste bladsy. Die foto’s op die teenblad is met outydse hoekies vasgeplak en het onderskrifte wat onderwysers en kinders se name met datums en plekke verbind. Johan lees hier en daar en blaai versigtig daardeur, heeltyd daarvan bewus dat die oumense hom dophou. Die koerantknipsels en programme wat by skoolkonserte en atletiekbyeenkomste pas, is vaal en dof. Hy kry ’n knop in die keel. Die dorp se ouer geslag is aan die verbygaan. Dis tyd vir ’n jonger een, maar hulle het hul eie planne. Hulle sal nie hier wil agterbly nie. Het hy dan nie self sy kinders op Malmesbury in die koshuis nie? Dit raak aanvaarbaar en nodig vir diegene wat kan om hul kinders weg te stuur. Niemand verwyt hom daaroor nie, of dalk praat hulle tog agter sy rug. Miskien is hulle verbaas dat hy en Emma al tien jaar hier uithou. Hy bloos liggies. “Uithou” is die verkeerde woord. Nee, hy moet positief wees ter wille van die oumense.
“Ons moet by ’n tafel sit en dit stadig deurgaan, dan kan oom Swanie alles vir my verduidelik,” sê hy.
“Hetta moet liewer.”
“Ek vergeet te veel, doen jy dit.”
Op daardie oomblik verskyn Emma en kondig aan dat die ete gereed is. “In die eetkamer, die tafel is spesiaal gedek.”
Inderdaad. Die lang familietafel is feestelik getooi met fyn linne en blomme, kristalglase en silwer eetgerei uit die boonste rakke. Marta slaan haar hande saam. Haar oë blink.
“Wie se mooi goed is dié?” wil Hetta weet.
“Myne en Tienie s’n, maar vir vandag is dit Tante en Marta s’n.”
Daar is naamplaatjies by die gedekte plekke. Elkeen neem plaas by sy eie. Die voorgereggie lyk na vis. “Kreef,” fluister Emma vir Johan.
“Sal Dominee vir ons die seën vra?” verneem Gunther toe almal tot rus gekom het.
“Met plesier. Mag ek weet wat die geleentheid behels?”
“Ons vier die lewe.” Gunther steek sy hande weerskante toe uit. Almal vat hande.
Johan dink ’n oomblik na. Die Here se genade is groot. Die Here se genade is wonderbaarlik groot.
“Here, ons vier vandag Marta se herstel ná ’n ernstige motorongeluk. Dankie vir haar gespaarde lewe en vir die lewe van elkeen hier om die tafel. Dankie vir vrede en vriendskap, vir vergifnis en versoening. U ken ons swakhede en sterk punte, ons verliese en oorwinnings. Ons voorregte is te veel om op te noem. Dankie vir hierdie fees wat met liefde voorberei is. Dankie vir Ragel, Tienie en Eva wat vir ons regstaan. Ons bid vir almal wat nie vandag in ons oorvloed kan deel nie, vir gesinne wat worstel met armoede en ander probleme. Hier ken ons vandag net vreugde. Ons dank en loof en prys U in Jesus Naam. Amen.”
Almal beaam sy gebed met: “Amen.”
“Dankie, Dominee,” sê tannie Hetta, haar sakdoekie voor haar oë gedruk.
“Nee, Hetta, ons is mos nou gelukkig,” paai Ciska en raak dan self bewoë.
Johan sien dat Ragel afkyk. Haar vingers op die eetgerei bewe liggies en sy druk haar hande onder die tafel in. Gunther is ’n sjampanjebottel aan die oopmaak. Die prop skiet met ’n knal af en die inhoud stroom oor sy hande. Tienie druk vinnig haar glas teen die bottel se bek. Almal lag en almal se glase word gevul. Glimlagte flits om die tafel. Gunther staan en hy lig sy glas.
“Ma, Pa, tannie Hetta, Eva, Ragel, Tienie, Emma en Johan. Ek het Marta Vrydagaand gevra om my vrou te word en sy het ja gesê. Ek dank die Here vir ’n vrou soos Marta. Dankie, Marta, dat jy ja gesê het. Ek skuld jou my liefde vir altyd en … ’n ring.”
Hy sit sy glas neer en haal die kenmerkende dosie te voorskyn. Die ring word versigtig aangesteek en Marta hou haar hand sodat almal kan sien hoe mooi dit is. Glase word geklink onder uitroepe van vreugde. Johan soek en vind Emma se hand onder die tafel. As dit vir Marta en Gunther kan uitwerk, sal dit eendag vir Rentia ook. Sy sal die regte keuse maak.
Drie
Ná die vrolikheid by die Kosters is die stilte in die pastorie byna neerdrukkend. Emma het koffie gemaak. Sy bring dit studeerkamer toe. Dis twintig oor vyf en Johan is besig met die aand se Bybelstudie.
“Waar trek ons?” vra sy toe sy die skinkbord op die hoek van die lessenaar neersit.
“1 Korintiërs 3:1-9 onder die opskrif: Die oorsaak van die verdeeldheid. Ek konsentreer op vers een waar Paulus sê hy moes met hulle praat soos met wêreldse mense. Dit is kenmerkend van die wêreld dat hulle jaloers is en mekaar niks gun nie. Ek vra die vraag: ‘Is ek ’n wêreldse mens’?”
“Jou gemeente sal jou vertel wat die wêreld verkeerd doen en vergeet hulle staan self agter die deur.”
“Ek sal hulle daaraan herinner dat Geesvervulde mense soos Geesvervulde mense moet leef.”
“Ja, en ons moet onsself gedurig vasvat.” Emma gaan sit op die stoel skuins voor die lessenaar. “Kom Theuns vanaand?”
“Dis Edwina se beurt.”
“Dan sal ek ook bywoon.”
“Hoe so?” Johan gooi suiker in sy koffie en roer dit tydsaam.
“Ek sien haar te min, selfs by die vrouevergaderings. Johan, sy is bang vir Theuns. Sy sê, hy sê dis net ’n geteedrink en ’n geklets, maar sy wil hom nie teëgaan nie. Ek weet eerlikwaar nie wat haar besiel het om met hom te trou nie. Het sy gedink wat sy doen?”
“Het jý gedink wat jy doen toe ek jou gevra het?”
“Gelukkig het ek nie ’n fout gemaak nie.”
“Onthou jy daai nag?”
“Dit was op die stoep van my oupa se huis in die Boshoff-distrik. Die sterre was nog nooit so helder nie. Die volgende dag is ons Kimberley toe om die verloofring te soek.”
“Ons mag nie die lig aangesit het nie, anders lok ons muskiete. Maar toe kon ek jou in vrede soen.”