Satan van Zimbabwe. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satan van Zimbabwe - Ena Murray страница 3

Satan van Zimbabwe - Ena Murray

Скачать книгу

bewus was en sonder dat dit op natuurlike wyse geskied het. Hoe verklaar jy dit: dat ’n mens bloed uit jou liggaam kan verloor, dat dit sommer net verdwyn uit die liggaam? Dit moet tog op die een of ander manier gebeur?”

      Dokter Johnson skud sy kop fronsend.

      “Ek het geen verklaring nie. Ek weet werklik nie wat om hiervan te dink nie.” Hy glimlag skeef. “Ek raak al meer dronkgeslaan.”

      “Is julle baie seker dat daar geen letsel hoegenaamd aan die liggaam te vind is nie? ’n Naald se prik sal so te sê geen letsel laat nie, nie waar nie?”

      “Kaptein, ek kan jou verseker dat daardie lyk van hoek tot kant en van binne en buite met ’n vergrootglas ondersoek is. Daar is geen teken hoegenaamd nie. Wat meer sê, as ’n mens van die veronderstelling uitgaan dat die oubaas se bloed deur ’n naald of iets dergeliks uit sy liggaam getrek is, wat van die toeriste? Hulle het ook verswak en met duidelike tekens dat hulle bloed verloor het, maar nie een van hulle se bloed is elke dag bietjies-bietjies met ’n naald uit hulle getrek nie. Hulle het net begin verswak en bloed het eenvoudig uit hul liggame begin verdwyn – sommer net so, amper op bonatuurlike wyse!”

      Gustaf Lenard se gesig is styf, stram.

      “Ek glo nie aan bonatuurlike dinge nie, dokter.”

      Dokter Johnson glimlag weer skeef, half verleë, half verskonend.

      “Ek ook nie juis nie, kaptein, maar op die oog af lyk dinge glad nie so natuurlik vir my nie. Maar dis jy wat ’n natuurlike, logiese verklaring moet vind, dus . . .”

      Hy begin aanstap. “Jy sal my nou moet verskoon. Ek moes al in my spreekkamer gewees het.”

      Hy kyk die gestalte van die distriksgeneesheer agterna. Bo­natuurlik se voet! Op die een of ander wyse het al hierdie toeriste en oubaas Brijns bloed verloor, maar dat dit beslis geen bonatuurlike verskynsel is nie, wil hy wed. Iemand . . . iemand is besig met ’n gemene, duiwelse spel. Die majoor is reg. Hier flikker beslis gevaarligte . . . en hoe meer hy daarvan te hore kom en nader aan die raaisel kom, hoe meer ruik hy lont. Sy neusvleuels bewe weer liggies. Daardie bloedhondinstink, ingebore by die speurder, waarsku dringend: hierdie saak moet ondersoek word! Iets boos skuil hieragter!

      Met vaste tred stap hy die polisiekantoor binne. Sy bevele is kort-af, op die man af. Die pasiënte van wie hy tuisadresse het, moet opgespoor word en daar moet so gou moontlik van hul gesondheidstoestand verslag gelewer word, veral oor hul toestand die eerste paar weke nadat hulle Zimbabwe verlaat het. Hierdie versoek moet onmiddellik dringend deurgebel word na Harare. Nie later as môremiddag nie wil hy die antwoord hê.

      Daarna klim hy in sy motor en trap die petrolpedaal weg. Hy is op pad na die ruïnes.

      Gustaf Lenard stap die eerste hotel binne. Baie vlugtig word die identifikasiekaart aan die ontvangsdame getoon. Dan begin hy stelselmatig die besoekersboek deurgaan. Ná ’n ruk klap hy die boek toe, knik vriendelik vir die meisie en stap uit. Hy hou by die volgende hotel stil. Die prosedure word herhaal. Dis skemeraand toe hy van die laaste hotel se besoekersboek wegdraai.

      Peinsend stap hy na buite en aarsel op die stoeptreetjies. Die kampeerterrein en die vakansieplaas is al wat oorbly. Die kampeerterrein kom eerste aan die beurt. Daar het hy net die kwitansieboek om op staat te maak. Dis reeds donker toe hy die pad vra na Ruined Paradise, die vakansieplaas. Hy trek sy wenkbroue op. Eienaardige naam.

      Op ’n draai in die pad moet hy vinnig rem aanslaan toe ’n motor voor hom opdoem en ’n vrouegestalte al armswaaiend sy aandag probeer trek. Hy hou stil.

      “Het jy probleme, juffrou?”

      Dis ’n pikante gesiggie wat by die vensterruit verskyn.

      “Ag, asseblief, meneer, as jy my kan help . . . My motor het ’n pap band en my domkrag wil nie werk nie.”

      Met ’n gelate sug klim hy uit. Vroumense! Dit sal net ’n vroumens wees wat met ’n stukkende domkrag in die nag sal rondry.

      Terwyl hy besig is om die band vir haar om te ruil, gesels sy ewe vriendelik.

      “Ek is Sandra Steyn van Suid-Afrika. Ek is op pad na Ruined Paradise. Eienaardige naam vir ’n vakansieplaas, nè?”

      Hy glimlag.

      “Ek het ook so gedink. Is jy ’n toeris?”

      “Ja. Ek is met my jaarlikse verlof. Ek kom maar nou eers hier aan. Ek het die tyd ’n bietjie langs die pad verspeel. Waarheen is jy op pad?”

      “Na dieselfde plek . . . en ek kom ook maar nou eers hier aan,” verskaf hy die verlangde inligting. Hy staan op en klap sy hande teen mekaar om van die ergste stof ontslae te raak. “Kom jy die hele ent pad alleen van Suid-Afrika af?”

      “Ja, hoekom?”

      Hy kyk haar skepties op en af.

      “Jy lyk dan nog soos ’n skoolkind.”

      Die fyn gesiggie straal verontwaardiging uit.

      “Ek is drie en twintig, meneer. En ek is gewoond alleen rondry, die wêreld vol.”

      Hy moet lag vir die verontwaardigde figuurtjie.

      “En jy het nog nooit geleer dat ’n mens eers kyk dat al jou gereedskap in orde is voordat jy in die pad val nie, hm?”

      Sy wil haar eers vererg, maar dan ontspan haar gesiggie en sy glimlag verleë.

      “Ek weet nie wat daardie ding oorgekom het nie. Hy was laas nog reg. Maar jy weet mos hoe dit gaan. Satan is ook altyd by.”

      Hy knik.

      “Ja, dis waar. En hier loop Satan beslis los rond.”

      “Wat bedoel jy?”

      “E . . . nee, ek sê maar. Nou toe kom. Ry jy voor. Ek volg.”

      “Dankie, meneer . . .”

      “Die naam is Gustaf . . . Gustaf Lenard, ook met my jaarlikse verlof.”

      Sy glimlag en spring hups agter die stuurwiel in.

      “Dankie, Gustaf. Sien jou by Ruined Paradise!”

      Hy lig sy hand glimlaggend en sy trek in ’n stofwolk weg. Dan keer hy terug na sy eie motor. Hy hoop van harte dat daar plek sal wees by Ruined Paradise, want dis by Ruined Paradise dat hy besluit het hy gaan bly. Hy het ’n spesifieke rede daarvoor. En dan . . . Ene Sandra Steyn, drie en twintig en baie oulik, gaan ook daar tuis. Selfs ’n hardwerkende speurder het soms afleiding nodig, dink hy met sy oë op die rooi agterliggies voor hom gerig. Dis hoog tyd dat hy ’n slaggie aan iets anders as sy werk dink. Hy is op twee en dertig jaar die oujongkêrel onder die speurders van sy afdeling en hy word dikwels hieroor geterg.

      Die moeilikheid met ou Gustaf is dat die enigste vroumense met wie hy in aanraking kom reeds dood is, met ’n tou om die nek of ’n mes in die hart. As ons hom net ’n slag ’n lewende een kan wys! Dis gewoonlik die refrein onder die manne.

      Hy glimlag nou. Wel, Sandra Steyn lyk beslis lewend genoeg; geen swakheidstoestand by haar nie! Dan versomber sy gesig. Is dit toeval dat nie een van die toeriste wat van ’n verswakking gekla het by

Скачать книгу