Eggo's in die skimberge. Kobie Kruger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eggo's in die skimberge - Kobie Kruger страница 12
Mattie steek haar hand uit om ’n lekkertjie te neem, maar ’n brulpadda spring reg voor haar op. Sy trap vinnig eenkant toe, struikel oor ’n boomwortel en stamp die fles uit Henk se hande uit. Die flonkers spat oor die woudvloer.
“Oeps – ek’s jammer,” sê Mattie ontsteld.
Henk beduie sy moet stilbly. Hy staar oor haar skouer na iets in die woud.
Mattie swaai om.
Teen die laaste sonstrale wat skuins deur die bome val, kom vae gedaantes te voorskyn. Hulle kom stadig nader. Hulle is doodstil.
Mattie wil vir Henk vra wat hulle moet doen, maar haar stem is weg van die skrik.
Henk probeer dringend uitmaak wat die gedaantes is, maar ’n lastige sonstraal skyn reg in sy oë. Boonop dreun sy hart so in sy ore dat hy skaars kan dink.
Die skadufigure kom nader. Uiteindelik kan Henk sien hulle is mans. Hulle is steeds doodstil. Die enigste geluide in die woud is die sagte geruis van droë blare wat vertrap word. Hulle kom ’n paar treë van Henk en Mattie tot stilstand. Hulle staan in ’n groep bymekaar.
Henk kan nou sien hulle is almal jonk en netjies geklee in vreemde, donkergroen uniforms en velstewels. Elkeen het ’n kruisboog en ’n pylkoker oor sy skouer.
Een van hulle kom nader. Hy lyk vriendelik.
“Hallo?” sê hy. “Wie is julle?”
Henk voel so deurmekaar dat dit hom ’n rukkie neem om te antwoord.
“Ons … ek is Henk … Sy’s Mattie.”
“En wat het julle daar?” vra die man en beduie na die lekkertjies op die mosvloer.
“Dis … h’m … flonkers,” antwoord Henk.
“Ekskuus?”
“Flonkers, Meneer.”
“Watse towerkragte het hulle?” vra die man.
“Tower- … towerkragte?” stamel Henk.
“Ja, towerkragte,” sê die man.
Henk loer na Mattie vir hulp, maar sien haar mond hang oop – dit lyk of sy vergeet het hoe om te praat.
“Weet julle nie?” vra die man.
“H’m … nee,” stamel Henk. “Ek bedoel … hulle … het nie so iets nie.”
“Alle edelstene het towerkragte,” sê die man geduldig. “Waarom het julle die steentjies hierheen gebring?”
“Steentjies?” sê Mattie. Henk is verlig om te hoor sy het haar stem teruggekry. “Dis nie steentjies nie, Meneer,” sê Mattie. “Dis lekkertjies!”
“Ekskuus?”
“Lekkergoed. Mens eet dit …”
“Hoekom het julle dit hierheen gebring?”
“Om te eet,” sê Mattie.
“Ek sien,” sê die man. “Hoekom strooi julle dit oor die woudvloer?”
“Ons het dit nie gestrooi nie!” sê Mattie.
Die man kyk weer na die flonkers op die mosvloer.
“Die fles het geval,” verduidelik Henk. “Toe val hulle uit.”
Die man knik, maar sy oë bly vol vrae. “Wie se gaste is julle?”
“Gaste?” sê Henk verward. “H’m … Nee, ons is nie –”
“Julle is op pad Loherin toe, nie waar nie?” sê die man.
“H’m – nee – ons … ek weet nie waar –” stamel Henk en raak stil.
Die man kyk vraend na Henk.
Henk skud net sy kop. Hy verstaan nie wat aangaan nie. Hoekom vra die man sulke snaakse vrae?
“Wie is julle dan?” vra die man met ’n frons. “Waar kom julle vandaan?”
“Ek is Henk,” herhaal Henk sy naam, dankbaar oor die maklike vraag. “Henk Velder. En sy’s Mattie Moolman. Ons kom van Gansdal af.”
Die man lyk dronkgeslaan.
“Gansdal?” sê hy. “In watter koninkryk is dit?”
Henk staar verward na die man.
“Wie is jul koning en koningin?” vra die man.
Henk begin wonder of hy droom. Hy loer na Mattie. Haar oë is groot en haar mond hang al weer oop.
“Is daar ’n rede waarom julle die vrae nie wil beantwoord nie?” vra die man met ’n frons.
“H’m … nee,” sê Henk. “Dis net … ons verstaan nie die vrae nie, Meneer. Gansdal is ’n dorpie – sommer ’n dorpie … in ’n boerdery-vallei … anderkant die berge –” Henk beduie in die rigting van die ondergaande son. “Ons het nie ’n koning of ’n koningin nie.”
Die man lyk geskok. Hy staan ’n rukkie doodstil, draai skielik na sy kollegas en praat saggies met hulle. Henk kan nie hoor wat hy vir die ander sê nie, maar hy kan sien hulle lyk ook geskok. Die man draai weer na Henk en Mattie.
“Wat kom maak julle hier?” vra hy ontsteld. “Hoe het julle hier gekom?”
“W-wat?” sê Mattie verward.
Henk skud net sy kop. Hy verstaan al hoe minder wat aangaan.
“Julle moet asseblief my vrae beantwoord,” sê die man. “Hoe het julle hier gekom?”
“Ons … ons het by die waterval afgeval,” sê Henk.
Die man skud sy kop. “Julle moet asseblief die waarheid praat.”
“Dit ís die waarheid, Meneer!” sê Mattie verontwaardig.
Die man kyk fronsend na Mattie.
Mattie kyk hom reguit in die oë tot hy knik en sê: “As dit so is, vra ek om verskoning. Dis egter belangrik dat ek moet weet hoe julle hier gekom het. Hoe het julle by die drakyne verbygekom?”
“Die … watsegoed?” vra Henk.
“Die drakyne – die wagte by die kloofingang.”
“O!” sê Henk. “Ja, ons het gewonder watse goed … In elk geval, dit was nie moeilik nie. Hulle’t beduie ons kan maar by die kloof ingaan. En toe gaan ons in.”
Die man skud sy kop. “Nee, ek glo dit nie.”
Henk haal sy skouers op.
Mattie