Eggo's in die skimberge. Kobie Kruger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eggo's in die skimberge - Kobie Kruger страница 9
Eindelik sien hy haar. Sy spartel om haar kop bo water te hou. Hy moet vinnig by haar kom. Hy begin so hard swem as wat hy kan.
Mattie weet sy moet wegkom uit die malende water en wal toe swem, maar sy weet nie watter kant toe nie. Al wat sy sien, is water. As sy net vir Henk kan kry – waar is hy? Skielik sien sy hom. Hy baklei met die water, maar hy kom na haar toe. Sy skraap al haar krag bymekaar en begin swem.
Toe sy by Henk kom, gryp hy haar aan haar skouer en beduie watter rigting hulle moet gaan. In die golwende water is dit moeilik om die wal te sien. Dit help om te weet Henk swem langs haar. Hy sal sorg dat hulle by die wal kom. Sy moet net naby hom bly.
’n Rukkie later is hulle in kalmer water. Mattie wonder hoe ver dit nog wal toe is. Sy dink sy sien plante en rotse vorentoe, maar sy kan nie uitmaak of dit ver of naby is nie. Sy is so moeg. Skielik weet sy nie meer mooi wat aangaan nie. Sy besef half dat sy sink, maar dit voel vir haar of sy sweef.
Die volgende oomblik voel sy ’n pyn in haar kop. Dit is Henk wat haar aan haar hare oppluk. Sy sweef nie meer nie. Haar lyf voel swaar en dom. Sy probeer haar longe vol lug trek, maar sluk water. Sy spoeg die water uit en spartel om haar kop bo die water te hou. Henk probeer haar help, maar sy spartel van hom af weg. Sy moet self met die water baklei, anders sink hulle al twee. Sy dwing haar dom arms en bene om weer te werk. As sy net weer genoeg lug in haar longe kan kry. Sy spoeg water uit, probeer asem kry, begin weer spartel. Sy vorder ’n klein entjie voordat haar asem weer op is. Haar bene werk nie meer; hulle trek haar ondertoe. Sy begin swart kolle sien. Die kolle word meer en groter. Die water sluk haar in. Dit stroom by haar ore en neus in, by haar mond in, in haar longe in.
Sy sink soos ’n klip.
5
In die ravyn
Mattie weet nie waar sy is nie. Die wêreld het donker geword. Sy voel geen lewe in haar lyf nie. Iets tref haar hard op haar rug. Water stroom by haar mond en neus uit.
“Haal asem, Mattie!” Dis Henk se stem. Hy slaan haar weer en weer op haar rug. Die water hou aan uitstroom.
“Jy moet nou asemhaal, Mattie!” soebat Henk.
Haar ore suis. Eindelik voel sy hoe daar lug in haar longe kom. Henk stamp weer hard met sy hande op haar rug. Sy kan voel hoe die lug by haar longe uitgaan … en weer inkom … Sy lê op haar maag op nat sand, kom sy agter. Dit voel of die wêreld rondskommel, al lê sy stil.
“Mattie – haal jy asem? Kan jy my hoor?”
Sy wil omrol, maar sy is bang sy val van die wêreld af.
“Mattie! Kan jy my hoor?”
Sy rol stadig om en maak haar oë oop. Henk se gesig kom in fokus.
“Mattie!” sê hy verlig.
Sy kyk vraend na hom.
“Jy’t gesink. Toe kry ek jou uit.”
Mattie maak weer haar oë toe. Die wêreld wieg nog rond. Sy kry koud en haar kop dreun. Of is dit die waterval wat so dreun?
Uiteindelik begin die wêreld stilstaan. Sy wil sien wat om haar aangaan. Met ’n gesukkel kom sy regop. Sy sien rotse en plante, en die bruisende kuil. Henk beduie na iets op die water. Sy moet hard konsentreer. Dit neem haar ’n rukkie om te sien waarna hy wys. Dit lyk soos ’n stukkende paal wat op die skuim onder die waterval ronddobber.
“Dis wat oorgebly het van ons vlot,” sê Henk. “Dit moes iewers rotse getref het. Die trommels lê seker op die bodem. Hulle’s te swaar om te dryf.”
Mattie knik net. Sy wil nie nou aan alles dink nie. Sy wil net ophou bewe. Water drup nog uit haar hare uit. Haar nat klere voel koud teen haar vel.
“Jy ly aan skok,” sê Henk. “Hoekom lê jy nie nog ’n rukkie nie?”
Mattie skud haar kop. Sy wil nie weer lê nie.
“Jy moet in die son kom,” sê Henk. “Jy sit in die koelte van ’n boomvaring.” Hy staan op, sit sy arms om haar en help haar in die son inskuif. “Sit nou jou arms en jou kop op jou knieë.”
Mattie trek haar bene op en laat rus haar kop en arms op haar knieë. Sy voel die son se warmte op haar rug. Dit voel goed.
’n Ruk later voel sy beter. Sy lig haar kop op en begin weer rondkyk. Daar is rotse en boomvarings om hulle, die waterval en die bruisende kuil voor hulle, en kranse – yslike kranse reg rondom hulle. Hulle is op die bodem van ’n diep bergskeur wat omring is deur loodregte kranse.
“Henk?”
Hy draai sy kop na haar toe.
“Hoe … kom ons hier uit?”
“Ons sal ’n deurkomplek kry,” sê Henk gerusstellend. “Daar moet iewers een wees.” Hy wys na die waterval. “Dis mos baie water wat daar afkom. Dit kan nie alles in die kuil bly nie – dit moet iewers heen vloei. En dit kan nie alles hier tussen die kranse bly nie, anders sou hier ’n meer gewees het. Ons moet die uitloopplek soek en kyk waarheen die water vloei.”
Mattie kyk weer na die soliede kranse om hulle. Henk is reg, dink sy. Daar moet iewers ’n plek wees waar die water wegvloei.
“Kom ons begin soek,” sê Mattie en staan op.
“Wil jy nie nog ’n rukkie rus nie?”
“Nee, ek is reg.”
Henk stap voor, al langs die kuil. Sy hoef hom net te volg. Haar bene voel dom en bewerig. Plek-plek is die oewer sanderig en groei daar boomvarings; plek-plek is dit rotsagtig en moet hulle oor die rotse klouter. Henk neem haar hand en help haar oor die rotse.
“Ek dink ek sien die plek,” sê Henk. Hy beduie na ’n ry mosbegroeide rotse.
Hulle klouter versigtig teen die gladde rotse op. Toe hulle bo is en afkyk, sien hulle die spoelsloot waarin die water wegvloei. ’n Ent verder vurk die sloot en vorm twee strome: ’n groter een en ’n kleiner een. Die groter stroom tuimel in ’n ondergrondse kanaal in; die kleiner een kronkel bogronds tussen die rotse weg.
“Kom,” sê Henk en begin in die rigting van die bogrondse stroom klouter. Toe hulle op die rotse bokant die stroom is, kyk Henk ondertoe.
“Dit lyk nie te diep nie,” sê hy en klim sit-sit teen die rotse af. Hy gly die laaste entjie af en kom op sy voete in die stroom te lande. Die water is omtrent heupdiepte.
“Kom,” sê hy vir Mattie en hou sy hand na haar uit. “Ek sal jou help.”
Sy klim versigtig ondertoe. Toe sy naby genoeg is om sy hand by te kom, gryp sy dit vas en gly in die stroom in. Sy skrik effens toe sy voel hoe sterk die water vloei. Boonop is die bodem klipperig en glad. Hulle moet skuif-skuif en sywaarts soos krappe stap om hul balans te hou.
Die stroom maak kronkels en draaie tussen die rotse deur. Plek-plek lê daar oorblyfsels van die vlot wat tussen die rotse vasgespoel het. Op een plek, tussen plante wat oor die water hang, dobber iets onder ’n rots rond – iets wat soos ’n fles vol flonkers lyk.
“Wag