Eggo's in die skimberge. Kobie Kruger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eggo's in die skimberge - Kobie Kruger страница 11
Die kloof maak ’n paar draaie en kronkels, en skielik is die uitgang voor hulle.
Die uitgang is ’n rotslys, omtrent drie meter bokant die aarde. Die water spoel oor die rotslys en tuimel oor rotse ondertoe. Onder vloei dit oor ’n strokie vleiland in die rigting van ’n woud.
Aan die skaduwees van die kranse agter hulle kan Henk sien dat dit nog vroegmiddag is, en dat wes agter hulle is en oos voor hulle. As hulle die stroom volg, sal hulle oos en steeds verder weg van die huis af beweeg, maar oos is al rigting wat hulle kan gaan. Aan die noorde- en suidekant van die woud steek steil berghange uit, wat beteken dat hulle nog steeds in die ravyn is.
Henk beduie na ’n plek teen die rotse waar hulle ondertoe kan klim.
Onder volg hulle die waterstroom na die woud toe.
Dit is ’n stil, groen wêreld van reusagtige bome begroei met slingerende rankplante. Die woudvloer is ’n tapyt van mos en fyn plantjies. Plek-plek val skerfies goue sonlig deur die blaredak. Hoog in die boomtoppe roep ’n loerie.
Hulle stap suutjies aan, al langs die waterstroom. Die mostapyt voel sag onder hulle voete. Varings en rivierklokkies staan welig op die stroomwalle. Plek-plek is die plantegroei so dig dat hulle die stroom nie kan sien nie, en dan volg hulle maar die fluisterklanke van die water. Af en toe weerklink die liedjies van papegaaiduiwe en kanaries deur die boomtoppe. Origens is die woud stil.
“Dis mooi hier,” sê Mattie.
“Sjoe, ja.”
“Hier’s lekker baie touswaaie,” sê Mattie en beduie na die slingerplante wat in die bome hang. “As ek hier gewoon het, sou ek heeldag deur die bome rondgeswaai het en – waarna kyk jy, Henk?”
Henk beduie na ’n klompie eekhorinkies wat op ’n boomstomp sit en belangstellend na hulle staar.
Mattie weet diere skrik nie vir mense wat rustig lyk nie. Sy vou haar hande agter haar rug en neurie ’n wiegeliedjie. Die eekhorinkies bly doodstil sit. Hul ruie sterte staan soos vraagtekens in die lug. Toe Mattie en Henk verby is, begin die eekhorinkies met skril stemmetjies gesels.
“Hulle skinder nou oor ons,” sê Henk.
Af en toe hoor hulle iets in die blaredak, en as hulle opkyk, sien hulle apies of woudvoëls wat nuuskierig tussen die blare deur loer.
“Almal wonder wie ons is,” sê Henk.
Toe hulle ’n paar bosbokkies teëkom, kyk die bokkies net vir ’n oomblik aandagtig op en wei weer rustig verder.
“Hulle is niks bang vir ons nie,” sê Mattie verwonderd.
“Hier kom seker nooit jagters nie,” sê Henk.
Hulle stap en stap. Soms sien hulle bergpieke agter die boomtoppe uitsteek en dan wonder hulle hoe ver die ravyn nog strek.
“Wat’s fout?” vra Mattie toe Henk skielik gaan staan.
“Ek het iets gehoor …”
Hulle staan albei en luister, maar die woud is stil. Net die waterstroom fluister saggies.
“Soos wat het dit geklink?” fluister Mattie.
“Soos … groterige goed wat saggies beweeg.”
“Groterige goed?” sê Mattie benoud.
“Nie baie groot nie. Toemaar, ek het my seker verbeel.”
Mattie weet Henk verbeel hom nie sommer dinge nie, en sy voel ’n koue rilling teen haar rug afgly. Hulle stap weer aan.
’n Paar minute later gryp Mattie Henk se arm.
“Henk – luister!”
Hulle staan doodstil en luister gespanne na elke klank in die woud: ’n sagte bries wat die blare in die boomtoppe roer, die fluisterklanke van die water, voëls wat na mekaar roep, en iewers agter hulle – vae geluide, soos van groterige goed wat saggies oor droë blare beweeg. Ná ’n paar sekondes raak die geluide weg. Henk en Mattie bly staan, maar die woud is weer stil.
Hulle begin weer stap, maar stadiger en hulle ore bly gespits.
’n Rukkie later hoor hulle dit weer. Dit tref Henk dat hulle die geluide net hoor wanneer daar ’n bries deur die woud dwaal. Sodra die bries gaan lê, word die geluide stil.
“Dink jy iets agtervolg ons?” fluister Mattie onrustig.
“Ek glo nie. Ek dink ons hoor net woudgeluide in die wind.”
“Dink jy hier is luiperds in die woud?”
“Miskien. Maar dis nie luiperds nie.”
“Hoe weet jy dit?”
“Luiperds loop alleen. En hulle jag in die nag.”
Die sonlig val al hoe skuinser tussen die blare deur. Mattie verwonder haar aan die glinsterende patrone, maar toe die skaduwees in die woud begin dig raak, vra sy met ’n klein stemmetjie: “Henk? Dink jy ons sal weer ons pad hier uitkry?”
“Natuurlik sal ons,” sê Henk. “As ons dit nie vandag kry nie, sal ons dit môre kry.”
“Ek dink vandag is eintlik –” begin Mattie, maar wip van die skrik toe ’n vreemde gekerm deur die woud weerklink. Sy gryp Henk se arm. “Wat was dit?”
Henk antwoord nie. Hy staan doodstil en kyk rond.
Die woud is stil. Niks roer nie.
“Whaa-wha-whaaa,” weerklink die gekla weer deur die woud.
“Spook?” fluister Mattie paniekerig.
“Dis nie ’n spook nie,” sê Henk. “Daar’s nie so iets –”
“Whaa-wha-whaaa,” skree die ding weer, en ’n tweede een antwoord, “Wha-whaaa!”
“Twee spoke!” fluister Mattie benoud.
Henk kyk stip na ’n plek hoog in die takke skuins voor hulle. “Ek dink ek sien iets daar.”
Mattie kyk op, maar sien niks.
“Iets beweeg daar – dit lyk soos … Dis ’n groterige voël!” sê Henk. “En daar’s nog een – ’n entjie boontoe. Kyk –” Hy beduie waar Mattie moet kyk. “Sien jy hulle? Hulle’t snaakse dik snawels. Ek dink dis boskraaie.” Terwyl Henk praat, hop die boonste voël af na die tak waarop sy maat sit, en albei voëls loer nuuskierig oor hul dik snawels ondertoe.
“Ek wonder of hulle dink hulle sing mooi,” sê Henk.
Hulle begin weer stap. ’n Rukkie later sê Mattie: “Wat ek netnou wou sê, was ek dink vandag is eintlik al verby. Wat maak ons vannag?”
“Ek het aan ’n plan gedink,” sê Henk. “Ons soek vir ons ’n boom met takke wat laag oor die grond hang, soos ’n watervlier. Dan kruip ons onder die takke