Oorkant op die eiland. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Oorkant op die eiland - Louisa du Toit страница 5
“Vertel my van julle huis?” pamperlang sy. Die ure en die kilometers snel verby. Eintlik wil sy meer oor die gesin self weet, maar sy durf nie reguit vra nie. Dit sou dwaas van haar wees om te aanvaar dat hierdie reis, hierdie koesterende afsondering, vir ewig kan aanhou. Noudat die namiddagure ’n aanvang neem, met groter nadenke in ’n loom soort tussenbestaan, lê die vreemdheid soos ’n berg voor haar.
“Die mure staan regop,” vertel hy ewe gewillig.
“Hoe merkwaardig. Gaan voort.”
Hy borduur verder, en dis asof hy self meegevoer raak deur die beeld wat hy oproep. “Hm, nou ja, ’n lekker klein huisie – twee woorde, hoor – met ’n rietdak. Rousteenmure, maar darem met klei gepleister.”
“Wat is rousteen?”
“Tuisgemaakte kleistene wat net in die son gedroog is, nie gebak nie. En plek-plek val die pleistering af, dan lyk dit ’n bietjie armoedig.”
Natuurlik skeer hy gek, maar tog is daar ’n ondertoon van erns in sy stem wat haar belet om hom uit te lag.
“Regtig?” vra sy en probeer ongeraak klink.
“Regtig. O ja, en ’n bakoond. Hoe’s daai vir my ryk meisie? Wil jy omdraai?”
“Omdraai? Jy maak my net al hoe nuuskieriger. Sal daar tuisgebakte brood uit die bakoond wees?” Om ryk genoem te word, is iets wat sy haat, maar sy laat dit ter wille van die vrede verbygaan.
“Natuurlik. Maandagmôres lê die rook sommer so dik oor die rivier soos my ma die bakoond stook. Vrydagmiddae word die grondvloere natgespat en ons dans almal in die rondte om dit vas te trap.”
“Maar nou jok jy mos lekker, Isidor Eksteen.”
“Natuurlik jok ek. Dis Donderdagmiddag se roetine.”
“En lek die rietdak?”
“Net as dit reën, gelukkig.”
Sy weet hy fantaseer, en tog weet sy net so seker dat daar iets onpeilbaars in sy vertelling steek. Dalk wil hy haar op hierdie manier waarsku dat hulle werklik nie baie bemiddeld is nie. Dalk is dit die rede waarom hy haar nie in die lentevakansie huis toe genooi het nie, toe sy tog duidelik daarop gesinspeel het dat sy hom bitter graag sou wou vergesel. Ag, as hy maar weet hoe min so iets haar sal beïnvloed. Daarvoor is die krag van haar opvoeding te groot. Corrie self vertel sonder wroeging van haar moeilike grootwordjare. Sy slaag trouens daarin om dit na ’n avontuur te laat klink.
As sy so vertel, het sy ’n soet, weemoedige glimlag asof dit ’n onvergeetlike geluksaligheid bly. Janetta en Carola weet ook dat Gert, ofskoon toe self nog platsak, ’n lening moes aangaan om Corrie uit die onderwys los te koop toe hulle wou trou. Eienaardig genoeg, is daardie soort onderwerp egter altyd vermy in die maande wat Isidor as gas by hulle aan huis gekom het. Dit was ’n soort onuitgesproke ooreenkoms tussen hulle as huismense dat sulke dinge nie gesels word as Isidor daar is nie. Waarom so?
Dit sal tog lekker wees as sy storie van die rietdakhuisie waar is, dink sy nou. Dan kan sy meteens ook maar vir hom vertel hoe sy en Carola altyd aan haar ma se lippe hang as sy vertel van haar jeugjare: van haar begeerte om wit skoene te hê, en ’n huis met gordynkappe en nie net spykers in die mure gekap vir die gordyne nie. Toe Corrie se pa jonk sterf, het dit nog erger gegaan. Janetta se ouma is eers in haar bejaarde tyd weer getroud, met ’n wewenaar wat hom goed voorgedoen, maar op die ou end haar pensioengeldjies uitgedrink het. Die getroude kinders moes haar met lewensonderhoud help. Gelukkig is die ou dood. Toe Corrie se ma self sterf, het Gert al die onkoste van die begrafnis en die grafsteen gedra. Tog was dit altyd heerlik om by Ouma Karoo te kuier. Sy kon hartlik lag, ook oor haar dwase tweede huwelik.
Nog altyd weer het Janetta onbewustelik gesoek na ’n mens soos Ouma Karoo. By Corrie is daar dieselfde lewensaanvaarding en gelykmatigheid, maar sy is soveel fyner en gekultiveerd. Daardie bruuske lewenslus, die aardse genieting van ’n situasie, mis Janetta nog steeds. Sê nou maar net mevrou Eksteen is so ’n soort mens? Of is so ’n hoop pure ontvlugting? Want sy is bang, ja, en sy word al hoe banger.
“Vertel nog,” soebat sy.
Isidor het pas vir die laaste maal brandstof ingeneem, en hulle kon hulle in die skoon ruskamers van die vulstasie opkikker en warm pasteitjies vir aandete koop. “My ma sal tien teen een ook aandete bêre, maar ons sal nie voor twaalfuur daar aankom nie,” het hy gesê, en dit was sy eerste aanduiding van moontlike verwelkoming en huislikheid daar anderkant. Hy het ’n sigaret buite staan en rook want, dit moet sy hom ter ere nagee, hy rook nie in die motor nie. Dit moet geweldige selfbeheersing kos en dit spreek nogal van bedagsaamheid teenoor haar.
“Wat wil jy nog hoor,” vra hy nou, sonder vraagteken in sy stem. Sy oë is al rooi en moeg, maar hy wil nie hê dat sy help bestuur nie. Sy is eintlik ook maar bly. Hy is te krities, en dan sal sy juis geneig wees om ’n fout te begaan. Sy wil tog nie met haar aankoms reeds in onguns verval omdat sy die motor beskadig het of iets ergers nie.
“Ag, vertel alles.” Sy traagheid laat haar meteens regop sit, weg van hom af. “Liewe land, Isidor, kom die begeerte nooit by jou op om alles van my te weet en te hoor nie?” Sy word sommer kwaad en hartseer deurmekaar. “Maar jy kan maklik praat, jy ken my gesin al maande lank en jy het niks om oor te wonder nie. Hier is ek in blinde vertroue saam met jou op pad, maar jy wil nie eens laat deurskemer of ek welkom sal wees nie.”
“Ek sal toesien dat hulle jou kos en slaapplek gee,” ontwyk hy, skynbaar ongeraak deur haar pleidooi. “Al wat jy hoef te doen, is om jou na omstandighede te skik.”
Gerieflik vaag, en sy antwoord nie daarop nie. Vas besluit sy: as die Eksteens hulle snaaks hou, kan sy altyd die trein terug huis toe vat. Sy is nie bang, met Panda wat waghou en met tannie Rens en die loseerders langsaan nie. Sy het oorgenoeg geld om die huis te haal en haarself tuis te onderhou, as sy net by die stasie kan kom.
Kyk nou waar loop my gedagtes heen, dink sy beskaamd. Sy is glad nie besig om ’n goeie gesindheid teenoor haar toekomstige gasheer en gasvrou op te bou nie. Isidor was gaaf genoeg om haar saam te nooi, en dit sê tog veel. Hantie het immers gesê dat hy nie sommer ’n meisie huis toe vat nie, of so iets. Dan is sy mos eintlik ’n uitgesoekte, en dit behoort genoeg te wees. Dis Corrie wat met haar onrus en kommer daar in die kleedkamer vanoggend die saadjie van twyfel gesaai het. Was dit werklik net vanoggend? Dit voel soos ’n ander lewe, ’n ander tyd.
Die son gaan oop en pragtig onder, ver aan die rand van die ranterige uitgestrektheid. Hulle is nou omtrent halfpad. Hiervandaan sal hulle stadiger moet ry, omdat die gevaar van rondloperdiere groter in die nag is. Sy kan nie ophou staar na die sonsondergang nie. Sy wens Isidor is die soort mens wat uit sy eie sal stilhou om so iets saam met haar in stilte te bewonder. Buite die motor in die vars, oop veld, met sy arm om haar. Maar nie hy nie, o nee. Hy is gewoonlik ongeërg as sy die aandag wil vestig op die volmaan of ’n mooi blom. Sy het ’n idee dat hy dit as onmanlik beskou om emosie oor skoonheid te toon. Hy het altyd ’n lig spottende opmerking te make sodra sy in vervoering raak. Van die maan sal hy sê: “Tog net ’n ou klomp rotse en kraters.” Van ’n blom: “Koeikos.”
Een ding weet sy, en dit maak haar ’n bietjie droewig: hy sal die soort eggenoot wees wat spaarsaam met liefdesbetuigings te werk gaan. Hulle het sy ook al gesien tussen die vriende van haar ouers: stug, afsydige mans wie se vroue tog