Die blou uur. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die blou uur - Christine le Roux страница 3

Die blou uur - Christine le Roux

Скачать книгу

motor laat ry,” sê sy. “Vir haar en hom, en dan steek hy die sigaar aan en stink die kar vol. Dis mos makliker, is dit nie? Dan kan sy na die woud ry, hom doodskiet en begrawe.”

      “Is daar ’n woud in die omgewing?”

      “Ek kan sorg dat daar een is. Rook jy sigare?”

      “Nee, ek rook glad nie.”

      “En is jy groot en vet?”

      “Nee. Hoekom, sou dit ’n verskil maak?”

      “Net op die oomblik,” sê sy. “Omdat die skurk so lyk. Ek ken baie liewe groot, vet mans. Maar jy het seker nie gebel om na my penarie te luister nie.”

      “Nee,” erken hy. “Ek het gehoop jy help my uit my penarie uit.”

      “Nie sommerso oor die telefoon nie,” sê sy. “Ek hou van jou stem, maar dis nie naastenby genoeg nie. Ek wil jou eers sien.”

      “Vanselfsprekend. Ongelukkig vertrek ek môre Ghana toe, maar ek is vroeg volgende week terug. Wat van Woensdagmiddag? Dis die enigste tyd dat ek vry is. Kan ons mekaar vieruur by die Waterfront ontmoet? Daar by die opeluggedeelte van die restaurant teenaan die kaai.” En hy noem die naam van die restaurant.

      Sy ruk haar oor weg van die gehoorstuk. “Waarom dáár?”

      “Dis vir my mooi daar. Hou jy nie daarvan nie? Dis vir my baie lekker om daar te sit en uit te kyk oor die hawe.”

      “Dis waar,” moet sy erken. “Dis net . . .”

      “Wat?”

      Sy skud haar kop asof hy haar kan sien. “Nee, nee, ek is simpel. Vergeet dit. Vieruur, sê jy? Woensdagmiddag? Dit laat jou met min tyd as ek nee sê.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Jy sal tussen Woensdagaand en Vrydagmiddag iemand anders moet kry.”

      “Dis waar, maar ek sal nie pessimisties wees nie. Ek sal my hoop daarop vestig dat jy tog instem. En as jy nog probleme het met jou lyk, bring dit saam en ek sal probeer help.”

      “Dis ’n bonus,” sê sy. “Ek moet eerlik wees met jou. Vir ’n speurverhaalskrywer om ’n misdaadnavorser te ontmoet, swaai sake in jou guns. My motief is suiwer eiebelang.”

      “Myne ook.”

      “Dan behoort ons mekaar te verstaan,” sê sy tevrede. “Hoe sal ek jou herken? Gaan jy ’n rooi angelier in jou lapel dra?”

      “Nee, ek hou nie van angeliere nie. Hulle ruik na medisyne.”

      “Ja!” sê sy opgetoë. “Dink jy ook so? Hulle ruik na tandarts.”

      “Presies. Nee, ek sal jou herken. In Colin se kantoor is ’n foto van julle twee susters.”

      “O,” sê sy. “Goed dan. Vieruur Woensdagmiddag.”

      “En moet asseblief nie intussen vir Colin rondsleep nie. Hy is nie vet nie, maar hy is ’n groot man.”

      “Ek sal nie,” belowe sy en skakel die gehoorstuk af.

      “Wel,” sê Brenda en kom langs haar staan. “As hy jou nog as sy vrou wil hê na hierdie gesprek, is hy ook nie goed wys nie. Ek het nog nooit in my lewe so ’n onlogiese gebabbel gehoor nie.”

      “Hy was behulpsaam,” sê Klarissa en gaap. “En hy’t ’n baie mooi stem. Nie sterk Skots nie, dis net op die vokale dat ’n mens die tongval hoor. Dis nogal pikant. Sal ek gou vir jou die skottelgoedwasser pak?”

      “Ek het dit klaar gedoen.”

      Die vensterrame ratel skielik en Brenda stap nader, stoot die gordyne eenkant toe en kyk of die knippe goed vas is. “Vanaand waai die wind weer alles skeef.”

      “Maar ons kan nie kla nie, tot nou toe was die weer wonderlik al is dit koud.”

      “Ja,” raas haar suster. “En jy sit hier in die dunne trui. Loop trek jou warmer aan.”

      Klarissa staan op en rek haar uit soos ’n kat. “Ek gaan nou bad en bietjie skryf. Ek dink ek weet nou waar Kasper moet staan.”

      “Ek is bly. Kan ek dan maar die worcestersous wegsit?”

      “Ja dankie.”

      Klarissa loop in die gang af en klim die drie treetjies af wat na die gastesuite lei. Sy en Brenda het hulle ouers se twee eiendomme geërf, ou huise wat vir ontwikkeling nodig was en teen baie goeie pryse verkoop is. Met haar gedeelte het Brenda hierdie huis gekoop in die jare toe Colin nog studeer het en Brenda die pot aan die kook moes hou. Klarissa self het nooit getwyfel oor wat sy met haar porsie wil doen nie. Sy het ’n huis gekoop in Steenbokbaai en dis waar sy die grootste gedeelte van die jaar bly. Omdat die eensaamheid haar tog elke nou en dan onderkry, pendel sy op redelik gereelde grondslag tussen die strandhuis en Brenda se huis in Kaapstad. Toe haar suster se tweelingseuns nog in die huis was, het sy gevoel sy verontrief hulle, maar Colin het laat aanbou en nou is die gastegedeelte soos ’n tweede huis. Sy los haar klere daar, sy skryf daar en sy voel nooit sy steur hulle nie, veral nie noudat die seuns op kosskool in die Paarl is nie. Colin-hulle het al geneul dat sy permanent by hulle moet kom bly omdat hulle nie dink dis ’n goeie ding dat sy so alleen by die see woon nie, maar sy wil nie. Van sy ophou werk het, hou sy daarvan om volgens haar eie ritme te leef.

      As sy vieruur in die oggend wakker word en wil skryf, doen sy dit en gaan weer tienuur slaap. Toe sy nog skoolgehou het, het dit glad nie gewerk nie. Sy moes haarself in ’n haalbare roetine dwing en dit het haar ongelukkig gemaak. Liewe Colin, wat haar erfporsie en finansies behartig, het dit raak gesien en haar vertel dat sy kan ophou werk. As sy nie uitspattig leef nie, kan sy van haar beleggings leef. Dit was wonderlik en in haar hart het sy dankie gesê vir die pa wat sy nooit geken het nie, en vir die ma wat haar doodgetreur het tot sy haar man kon volg.

      Brenda was nie heeltemal so goedkeurend nie. “Jy leef klaar so eksentriek . . . Maar solank jy ’n normale werk gehad het, moes jy met normale mense meng. Nou gaan jy heeltemal snaaks word.”

      Terwyl Klarissa in die bad lê en voel hoe haar bene en voete ontspan, wonder sy of dit waar is. Sy weet sy dink en doen nie presies soos ander mense nie, maar sy reken darem ook nie dat sy snaaks geword het nie. En die leefwyse wat sy nou volg, pas haar so goed dat sy ongelukkig sal wees as dit moet verander. Dis seker haar afwesige ouers se skuld, dink sy. Behalwe dat daar geen pa was nie, het haar ma net bestaan in die sin dat daar iemand in die huis was en gesorg het dat sy kos kry en in skoon klere skool toe gaan. Sy kan nie onthou dat sy ooit ’n gesprek met haar ma gevoer het nie. As sy iets wou weet of iets wou vertel, het sy vir Brenda gehad – en dit was ook maar net in universiteitsvakansies.

      Nog minder kan sy onthou of sy regtig hartseer was toe haar ma dood is. Al wat sy onthou, is hoe bly sy was omdat sy toe by die pasgetroude Brenda en Colin kon gaan woon. En hoe sy vir haar matriekeksamen geleer het met die tweeling op haar skoot, twee ou kleutertjies wat haar papiere deurmekaar gekrap het.

      Om alleen te wees, was dus nooit ’n straf nie. Dit was ’n manier van leef, dit was al wat sy geken het.

      Hoofstuk 2

      Teen Woensdagmiddag

Скачать книгу