Die blou uur. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die blou uur - Christine le Roux страница 5
Die kelner sit die vars koffie voor haar neer en Andrew stoot dadelik die suikerpot nader. “Hoeveel suiker?” vra hy.
“Een.”
Hy gooi dit in, roer en wys sy kan maar drink. Hy dra ’n grys hemp, ’n donkerblou pak en ’n rooi-en-blou das, sien sy.
“En jy?” vra sy. “Wat is jou rede? Waarom het jy nog nie ’n wettige vrou sodat jy jou ouma se hart kan bly maak nie?” Sy proe aan haar koffie.
“Ek? My werk maak dit onmoontlik. Ek het mos vir jou gesê ek is nooit langer as ’n week of twee – soms net ’n paar dae – op een plek nie. Of in een land of stad nie. ’n Huweliksmaat vereis dat mens darem soms by die huis is om daardie drie etes te eet.”
“Ag, nee wat,” sê sy. “As ek vieruur ontbyt maak en jou vliegtuig kom drie-uur in is jy nog betyds.”
“Dis waar,” sê hy en sy oë skiet dansende liggies uit. “Dis hoekom ek met jou gaan trou, Cassandra.”
“Ja,” stem sy saam. “Maar ek moet darem net noem dat ek nie eens op een plek bly nie.”
“Ek weet. Nes ek gedink het jy’s in die strandhuis, was jy hier in die Kaap of andersom.”
“Meesal in die strandhuis,” sê sy. “Ek kom net hiernatoe as ek te alleen raak – en dít gebeur nie sommer nie. Het jy dit dus die hele tyd geweet?”
“Ja,” sê hy. “Is dit nie lekker om met ’n speurder deurmekaar te wees nie? Jy hoef my niks te vertel nie, ek weet klaar alles.”
“Dis hoekom ek vanmiddag gekom het,” sê sy. “Voor ek geweet het dis jy. Ek wou hom net gou nog ’n paar vrae vra.”
“Soos?”
“Ek het jou mos gesê my lyk is baie groot en vet. Sal een koeël hom doodmaak of sal sy hom ’n paar keer moet skiet?”
Hy lag. “Dis nie ’n olifant nie en dit hang af van waar sy hom skiet. Dit geld eintlik vir almal. Kan jy skiet? Het jy kennis van wapens?”
“Nee, nie regtig nie. Maar omdat ek speurverhale skryf, moes ek leer. Dis eintlik vreemd, want ek hou glad nie van geweld in enige vorm nie.”
“Dis goed om te hoor.”
’n Windjie het opgestoot en rimpel die oppervlakte van die baai. Die bote wat naby hulle vasgemeer lê, wieg saggies op en af en heelwat mense begin opstaan en jasse aantrek.
“Dit word koud,” sê Klarissa en ril.
Hy haal geld uit sy binnesak en sit dit op die tafel neer. “Glad te koud vir jou om hier buite te sit. Kom ons gaan na my woonstel.”
“Wat word van my motor?” vra sy.
“Jy ry agter my aan. Dis nie vreeslik ver nie, net hier bokant teen die berg.”
“Die verkeer is nou swaar,” sê sy onseker. “Sal ek jou nie verloor nie?”
“Nee. Glo my, dit sal ek nooit toelaat nie.”
Hy hou sy woord, sien sy toe hulle ry. As ander motors tussen hare en syne insny, wag hy tot sy weer agter hom is en binne ’n baie kort tyd hou hulle stil voor ’n lae, kronkelende kompleks wat die kontoer van die heuwel volg en uitkyk oor die baai. Dis ook nie koud nie, voel sy toe hulle in die woonkamer staan. Dis nog gebaai in die middagson en sy loop na die groot venster en staan en uitkyk.
“Dis baie mooi,” sug sy. “Ek wou nog altyd ’n woonstel gehad het. Dis baie lekker om by Colin-hulle te bly, maar ek het tog al gedink miskien moet ek vir myself so iets kry.”
“Nou hét jy ’n woonstel,” sê hy en trek sy baadjie uit. “Kan ek nou vir jou ’n glas wyn skink?”
“Ja dankie.” Sy gaan sit op die armleuning van ’n stoel en bly uitkyk oor die baai. “Dankie,” sê sy toe hy die wyn vir haar gee. “Jy moet my nou van jouself vertel. Ek is nie soos jy wat alles weet nie. Colin het my vertel hoe dit gebeur het dat jy ’n Afrikaanse ouma het, maar waar bly sy? Waarheen moet ons gaan vir die naweek?”
“Haar dogter, my tante – my ma se enigste suster – pas haar op. Hulle bly op ’n plaas in die Villiersdorp-distrik.”
Hy spreek die dorp se naam so vreemd uit dat sy nie dadelik verstaan nie, maar dan knik sy en wys hy moet aanhou vertel.
“My ouma behoort eintlik lankal in ’n versorgingsoord te gewees het, behalwe dat sy net so koppig is soos ek. As ons iets wil doen, doen ons dit. Ons laat ons nie afsit nie. Sy wil op die plaas bly tot sy doodgaan en daar wil sy begrawe word. My tante versorg haar dus en ek gaan kuier so dikwels as wat ek kan.”
“Is jou oom die boer?”
“Nee, tant Myra is nooit getroud nie. ’n Bestuurder kyk na die plek.”
“Jy raak al hoe normaler,” sê sy bly. “Iemand met ’n tant Myra kan onmoontlik bonatuurlik wees. Sy was dus jou ma se suster. Leef jou ma nog?”
“Nee. Sy’s dood toe ek klein was.”
Sy ruk haar kop op om na hom te kyk. Een kort sinnetjie en sowel sy oë as sy stem het doodgegaan. Sy probeer sy oë terugvind, maar hulle stoot haar uit.
“Ek sien,” sê sy kalm. “En het jy as volwassene eers na Suid-Afrika gekom? Is dit nou eers dat jy jou ouma leer ken het?”
“Ja. Ek is al vier jaar hier. As kind en jongman het my pa my gedwing om vir haar te skryf, ek en Maureen albei. Ons is die enigste kleinkinders.”
“Wie’s Maureen? Jou suster?”
“Ja. Sy woon in Inverness, is getroud en het drie kinders. Sy het ons ouma net een keer gesien toe sy as jongmeisie hiernatoe gekom het.” Sy stem is nou weer normaal. “Is die wyn lekker?”
Sy kyk af na haar leë glas. “Ek weet nie. Het ek wyn gehad?”
Hy tel die bottel op en kom skink haar glas weer vol. “Moenie so vinnig drink nie,” waarsku hy en buk oor haar om haar te soen. “Jy smaak na wyn,” sê hy toe hy sy kop oplig. “Dit het nie verdamp nie.”
Sy sit haar glas neer omdat sy bang is sy laat dit val en vee oor haar hare. “En . . . e . . . die plaas. Hou jy daarvan?”
“Dis lieflik,” sê hy. “Op ’n winteroggend as die mis so dik lê in die valleie en jy sien net hier en daar die kant van ’n heuwel kan ek my verbeel ek is by die huis. Dit voel en ruik na Skotland. Net ’n beter klimaat.”
Sy staan op, skop haar skoene uit en stap deur die woonstel. By elke skildery staan sy eers stil, veral een grote in die slaapkamer. “Is dit die Hooglande?” vra sy. “Is dit jou wêreld?”
Hy sit sy arms van agter om haar. “Dit was – tot ek jou gesien het, Cassandra.”
Sy draai om binne die sirkel van sy arms en kyk op in sy oë. “Dit gebeur al weer. As ek in jou oë val, word dit . . .”