Die blou uur. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die blou uur - Christine le Roux страница 6
“Cassandra,” sê hy en sit regop. “Wat nou?”
Sy ontwyk sy vraende oë. “Dis regtig al laat. Brenda wonder seker al waar ek is.”
“Nee, man,” sê hy en hou sy hand uit. “Ons kan haar mos bel. Bel haar en sê vir haar ons gaan nou eers iets eet. Jy kan nie nou weggaan nie.”
“Ek wil huis toe gaan,” sê sy.
Hy kyk bekommerd na haar. “Praat met my, Klarissa. Moenie weggaan nie. Ons het nog nie gepraat oor die naweek nie.”
Sy byt die rekkie tussen haar tande vas, vat haar hare in haar hand saam en bind dit behendig vas. “Ek het mos gesê dis in orde. Hoe ver is die plaas, hoe lank vat dit om daar te kom?”
“Afhangende van die verkeer uit die stad en oor die berg, so twee uur se ry. Maar as dit jou pas, wil ek vroeër ry. Drie-uur of so. Is dit reg? Ek sal jou kom oplaai.”
“Ja,” sê sy.
“Klarissa,” sê hy. “Kyk na my. Hoekom wil jy nie na my kyk nie?”
“Omdat ek besig is om my sokkies aan te trek,” sê sy waar sy op die stoel sit. “Hoekom noem jy my nou weer Klarissa?”
“Omdat dit vir my lyk asof jy my nie hoor nie. Wat makeer?”
“Niks nie.” Sy trek haar een skoen aan en buk selfs laer om die veters vas te bind. “Ek wil net huis toe gaan.”
“Hoekom?”
“Watse soort klere moet ek saamneem?” ontwyk sy die vraag.
Hy sug en val terug teen die kussings. “Warm klere. Dis ’n groot ou huis en bitterlik koud behalwe in die kombuis.”
“Ja, maar watse soort warm klere? My ouma het niks van langbroeke gehou nie, party oumense is nog so.”
“My ouma se oë is swak en sy is nie verkramp nie. Jy kan dra net wat jy wil, jy lyk buitendien altyd lieflik.”
Sy glimlag, kyk vlugtig op en buk dan weer vinnig af om die tweede skoen vas te maak. “Jy eintlik ook.”
“Baie dankie,” sê hy ernstig. “Sal jy nou asseblief by my kom sit en my vertel wat jou pla.”
Sy staan op, tel haar baadjie op en trek dit aan. “Niks pla my nie, ek wil net nou huis toe gaan.”
Hy leun weer vorentoe. “Iets is verkeerd, Cassandra, moenie vir my jok nie. Was dit nie goed nie?”
Sy kyk hom verbaas aan, albei hande in haar nek waar sy besig is om haar hare uit die rolkraag van haar trui en die nek van haar baadjie te woel. “Hoe moet ek weet?” vra sy redelik.
Dis ’n lang ruk stil. Al wat hoorbaar is, is die wind wat sterker begin waai en een of ander struik of tak wat teen die buitemuur krap.
“Hoe moet jy weet,” herhaal hy stadig. “Wat beteken dit? Was dit vir jou beter, slegter – wat?”
“Hoe kan ek oordeel?” vra sy. “Ek het dit nog nooit vantevore gedoen nie.”
“Jy’t dit nog nooit . . . Cassandra?”
Sy kyk om haar rond. “Het ek my handsak in die sitkamer gelos? Ek moes, dis nie hier nie.”
“Wag,” sê hy dringend en probeer die laken losruk sodat hy dit om hom kan draai, maar dis ’n paslaken en weier om los te trek. “Hoekom het jy nie . . . nee, asseblief, wag. Kom hierso.”
“Nee, ek gaan nou huis toe,” sê sy vir die hoeveelste keer. “Ek het pyn, ek wil in die bad klim en dan in die bed. Ek gaan ’n aspirien drink.”
“Hoekom het jy nie vir my gesê nie?” vra hy ontsenu. “As ek geweet het . . .”
Sy bly staan by die deur en kyk terug, ’n effense glimlag om haar mond. “Nog ’n mite aan skerwe,” sê sy.
“Ek wou jou nie seermaak nie,” sê hy. “Dis die laaste ding op aarde wat ek wou doen. Glo jy my?”
“Ja,” sê sy. “Natuurlik glo ek jou. Ek is nie kwaad vir jou nie, ek wil net huis toe gaan. Daar het regtig in die afgelope paar uur te veel gebeur – veral vir iemand soos ek. Ek moet nou alleen wees sodat ek dit kan oordink. Wel,” sê sy, “dis een rede. Die ander een is dat ek in die bed wil klim.”
Hy staar net na haar.
“Dankie vir die koffie en die wyn,” sê sy. “En dat jy Andrew Cameron was.”
“Moenie weggaan nie,” sê hy en kry die duvet om sy lyf gedraai sodat hy kan probeer opstaan.
“Ek moet,” sê sy ernstig. “Ek het die bewerasie. Sien jou Vrydagmiddag.”
“Wag!” roep hy, maar sy is weg.
Hoofstuk 3
Brenda staan in die agterdeur toe Klarissa haar motor onder die afdak parkeer. Haar arms is gevou en alles om haar wapper en klap soos vlae; haar romp, haar hare, haar trui, die voorskoot om haar middellyf. “Waar was jy so lank?” roep sy in die wind in. “Ek het al gedink die man het jou ontvoer.”
“Nee,” sê Klarissa. “Hoekom staan jy hier in die wind? Jy lyk soos ’n gedenksuil en dis deksels koud. Kom in en maak toe die deur.”
“Ek staan net hier omdat ek vir jou wag, nie vir my plesier nie.”
Klarissa druk haar koue wang teen Brenda s’n. “Ou hen.”
Brenda hou haar hande naby die oonddeur wat warmte uitstraal. “Vertel, ek wil alles hoor.”
“Dis hy,” sê Klarissa.
“Moenie kripties raak nie, sustertjie, ek wil hoor. Hoe lyk hy? Wat dink jy? Is hy ’n monster en wat het jy toe vir hom gesê? Vertel, vertel, vertel.”
“Dis Andrew,” sê Klarissa.
“Ek weet wat sy naam is!”
“Nee, jy verstaan nie – dis hy.”
“Klarissa,” sê Brenda geduldig. “Sit neer jou handsak en kom sit. Wil jy iets drink? Jy lyk vir my verdwaal. Meer as normaalweg.”
“Nee dankie. Miskien later.”
“Wel, sit dan net en vertel.”
Klarissa gooi haar handsak op die toonbank. “Ek is verkluim. Mag ek eers gaan bad? Ek moet warm word, ek voel baie bewerig.”
“Liewe aarde, wat het hy met jou gedoen?”
Klarissa