Die blou uur. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die blou uur - Christine le Roux страница 4

Die blou uur - Christine le Roux

Скачать книгу

bestee nie baie tyd aan klere kies vir haar afspraak nie. Sy dink nooit lank oor haar kleredrag nie en het al uit haar kamer gekom, geklee in ’n baie mooi bloes, ongewone silweroorbelle – namaaksels van ou Inka-ontwerpe – en niks anders nie. Sy moes toe inderhaas terug om darem ’n langbroek aan te trek.

      Omdat sy weet dit gaan koud wees langs die water dra sy ’n swart rolnektrui, swart langbroek en ’n baadjie.

      “Jy voel nie ’n bietjie kleur sal help nie?” vra Brenda. “’n Ou rooi serpie of so?”

      “Nee, ek hou nie van rooi serpies nie.”

      “Jy lyk ook nie vreeslik lus om te gaan nie.”

      “Nee wat,” antwoord Klarissa. “Ek wil uit die huis kom en ek het iets om vir hom te vra. Sal een koeël genoeg wees om ’n uitsonderlike vet man dood te skiet?”

      “Sussie,” sê Brenda. “Luister na my. Jy gaan om die man te ontmoet sodat jy hom ’n guns kan bewys, nie andersom nie.”

      “Ek het daarteen besluit,” sê Klarissa. “Dis ’n onsinnige idee.”

      Brenda, wat eintlik ook so dink, voel darem sy moet regverdig wees. “Moes jy hom nie vroeër laat weet het nie? Sodat hy langer het om iemand anders te kry?”

      “Ek het nie sy telefoonnommer nie en hy was in Ghana.”

      “O. Ek sien. Nou toe, jy beter ry, anders is jy laat.”

      “Ek’s seker nou-nou terug,” belowe Klarissa. “Soveel het ons ook nie om oor te praat nie.”

      Sy luister na klassieke musiek in die motor om die strengheid van haar swart uitrusting te versag, parkeer en stap deur die winkelgedeelte om by die restaurant te kom. Daar is nogal baie mense en sy bly staan om hulle te bekyk toe sy hóm sien.

      Sy haal versigtig en vlak asem en stap stadig nader tot sy voor hom staan. Hy het dadelik opgestaan toe sy nader kom en kyk na haar sonder om iets te sê.

      “Is jy Colin se Skot?” vra sy.

      Hy glimlag, maar sy is klaar in sy oë en voel hoe sy begin val. Om dit teë te werk, klou sy aan die rugkant van die stoel vas.

      “Nee, regtig,” sê sy. “Is jy Colin se Andrew, want as jy nie is nie, gaan ek buitendien nie by hom sit nie.”

      “Foeitog,” sê hy. “Wat word dan van hom?”

      “Ek gee nie om nie. Hy sal self die saak tussen hom en sy ouma moet skik.”

      Hy wys na die stoel. “Sit, Cassandra. Ek is Andrew Cameron.”

      “Klarissa,” sê sy en sit. Sy dwing haar oë weg van syne en hou dit op die res van sy gesig wat vantevore net vae buitelyne was. “En dis nie toevallig dat jy vir my gevra het nie, is dit?”

      Hy antwoord haar nie hierop nie. “Wat het gebreek? Dit het geklink na ’n bottel.”

      “Dit was. Olyfolie. ’n Vreeslike gemors. Hoekom het jy nie help skoonmaak nie?”

      “Ek was klaar laat en ek was seker in jou bekwame hande sou die saak gou reggekom het.” Hy stoot die spyskaart nader. “Wat wil jy drink?”

      “Koffie, asseblief.” Sy vou haar hande op die tafelblad. “Het jy regtig ’n ouma?”

      “O ja.”

      “Die bruid vir ’n naweek is dus nie net ’n truuk nie?”

      “Nee.”

      “Hoekom het jy nie vroeër al ’n plan beraam nie?”

      “Omdat ek die wêreld vol was in die afgelope agt maande, en selde vir langer as ’n week of twee in dieselfde land is. Maar glo my, ek het jou nooit uit die oog verloor nie. Nou kan ek nie langer uitstel nie, my ouma is sterwend.”

      Daar is skielik iets anders wat haar aandag trek, ’n stroefheid, ’n desperaatheid wat kom en gaan wanneer hy praat. Nes sy dit raak sien, verdwyn dit. As hy na haar kyk, is dit nie daar nie, wanneer hy sy kop draai om die kelner nader te roep, skiet dit na die oppervlak. “Vir wie is jy kwaad?” vra sy. “Met wie baklei jy?”

      Hy tel haar hand op en speel daarmee. Met sy voorvinger vee hy oor elke afsonderlike nael en kneukel, en toe hy tevrede is, vou hy die vingers saam en hou dit in sy hand vas. “Hoe kon jy net ja sê, Cassandra?” vra hy streng. “Gestel dit was nie ek nie?”

      “Ek was nie van plan om ja te sê nie. Ek het jou vandag ontmoet om te sê ek wil dit nie doen nie, maar dit was natuurlik toe ek gedink het dis hy en nie jy nie.”

      “Is jy bly ék is hy?”

      Sy knik. “Brenda dink dis bonatuurlik, maar ek het nooit so gedink nie.”

      Hy kyk nog altyd af na haar hand. “Geen ringe nie?”

      Sy skud haar kop. “Ek kan nie kinders kry nie, sien. Probleem toe ek jonk was en eintlik nie relevant nie, behalwe dat dit my natuurlik van die huweliksmark af verwyder.”

      “Ek wil nie kinders hê nie,” sê hy en sy sien vir die eerste keer die wittandglimlag. Sy mond glimlag, maar die oë verys. Toegeklapte yskasdeure.

      “Vir wie is jy kwaad?” vra sy weer.

      “Nie vir jou nie, Cassandra.” Sy gesig het weer ontspan en sy oë begin haar insluk. Hy tik teen haar kaal ringvinger. “Vertel jy dit vir almal, dat jy nie kan kinders kry nie?”

      “O ja,” sê sy. “Dit sou onregverdig wees om dit nie te doen nie. Mans moet dit weet voor hulle betrokke raak.”

      “En werk dit? Verdwyn hulle?”

      Sy knik.

      Sy oë word nog sagter, dis asof hulle selfs dieper oopmaak. “Maak dit saak?” vra hy. “Is dit ’n seer ding, Cassandra?”

      “Klarissa,” help sy hom reg.

      “Ek dink nie so nie, nee. Daar is iets mities omtrent jou.”

      Sy gee ’n laggie en skud die soutpotjie oor haar koppie. “Dit maak nie seer nie, nee. Ek weet ook nie. Dis ’n feit waarmee ek saamleef en nie onnodig oor dink nie.”

      Hy verwyder die koffie wat sy al begin roer het en roep na die kelner.

      “Is iets verkeerd?” vra die man.

      “Bring asseblief ’n vars koppie,” sê Andrew.

      Die kelner frons, maar gehoorsaam. Toe hy wegstap, ruik hy aan die koffie en skud sy kop.

      “’n Vergissing,” sê Andrew vir haar. “Gaan voort.” Hy tel die sout- en peperpotjie tussen sy vingers op en sit dit op die tafel langs hulle neer.

      “Dis ook my leefstyl,” sê sy. “Ek leef nie volgens ’n vaste roetine nie en die huwelik vereis roetine. Vandag is wasdag, môre strykdag, vloere moet skoon kom, melk moet gekoop word, maar hoofsaaklik moet ’n man drie keer per dag kos kry. As ek nie

Скачать книгу