Weermagstories. Roelf Schoeman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Weermagstories - Roelf Schoeman страница 3
In 1989 was daar wêreldwyd ingrypende veranderings wat ’n invloed op Suid-Afrika sou hê. Die val van die Berlynse Muur op 9 November het die einde van Kommunisme en die Koue Oorlog aangekondig. Op 8 Augustus het mnr Pik Botha, destydse minister van buitelandse sake, genl Magnus Malan, minister van verdediging, en genl Jannie Geldenhuys, hoof van die SAW, op ’n perskonferensie die SAW se onttrekking uit Angola aangekondig. Op 22 Desember is die New York-akkoord ná ’n paar rondtes samesprekings onderteken. Dit het ’n amptelike einde aan die Grensoorlog gebring.1
Hoewel daar vrede en ’n nuwe bestel in Namibië was, het die gebeure sedert 1990 nie finaliteit vir die Afrikaner-dienspligtiges gebring nie en dit het hulle nie gehelp om vrede te maak met die oorlog wat hulle so baie gekos het nie.
Daar is steeds omstredenheid oor die gevegte by Cuito Cuanavale en oor wie regtig die oorlog in Angola gewen het. Die South West Africa People’s Organization (SWAPO) teen wie die SAW geveg het, het op die ou end aan bewind gekom in Namibië en dit het die gevoel dat die oorlog onnodig was, versterk. Ek onthou nog met watter gemengde gevoelens ek gekyk het hoe die ou Suid-Afrikaanse vlag tydens die onafhanklikheidsviering op 21 Maart 1990 in Namibië gestryk, en die nuwe vlag onder groot gejuig gehys is. Niks het my egter voorberei op die ontnugtering wat ek as voormalige dienspligtige en later ook as lid van die Staandemag in die jare negentig in Suid-Afrika sou ervaar nie.
Dienspligtiges is in die jare tagtig deur die blanke gemeenskap op die hande gedra. Met my uniform aan kon ek net langs die hoofpad gaan staan en ’n vriendelike oom en tannie sou my gou oplaai en behandel asof hulle my reeds goed ken. Hulle sou ook dadelik vertel van hulle seun of familielid wat ook besig was met diensplig. Op die grens het ons gereeld briewe van geliefdes in die “States” ontvang wat ons verseker het van hulle gebede en ons aangemoedig het om sterk te staan in die verdediging van ons nasie en ons land teen die vyand wat ons wil beroof van alles wat vir ons kosbaar was. Ek onthou hoe vrywilligers van kerke (by ons bekend as “dankie-tannies”) kospakkies na die grensbasisse gestuur het.
Amper elke familie het iemand gehad wat diensplig gedoen het. My ma het Gabrielle Malan se boek, Ek het iemand op die grens, gekoop om haar te help om my meer effektief te ondersteun. Ek het weer vir my gesin die humoristiese boekreeks van Johan van Pletzen, Briewe van Kleinjan, gestuur om die ligter kant van diensplig vir hulle te wys. Daar was rolprente soos Grensvegter, Ses soldate en Boetie gaan Border toe. Leon Schuster het die liedjie “Ag man dis lekker in die Army” geskryf. Vermaaklikheidsterre het die grensbasisse besoek en ons is as die helde van die samelewing beskou.
Die stelselmatige ontnugtering van die oorgangsproses in die jare negentig en veral die beeld wat ek ervaar het van die ou SAW en dienspligtiges wat tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) geskets is, het my ontnugter. Soos Hermann Giliomee dit in sy boek Die Afrikaners – ’n biografie stel, was die twee jaar lange WVK waar daar maksimum-publisiteit gegee is aan die gruweldade wat deur die veiligheidsmagte gepleeg is, ’n groot skok vir baie wit mense en veral die Afrikaners.2
Die werklikheid van die breër Suid-Afrikaanse konteks van die Grensoorlog het toe eers tot my deurgedring. Die SAW het daarop geroem dat hulle polities neutraal is en nie een politieke party ondersteun nie. Dit het hulle ook bewys deur onverbiddelik teen linkse en regse ekstremistiese groeperings soos afvallige lede van Umkhonto we Sizwe (MK), Azanian People’s Liberation Army (APLA) en die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) wat die vrede bedreig het, op te tree. Hulle het dus in die oorgangsjare stabiliteit vir die politieke oorgangsproses na ’n meerderheidsregering verseker. Hierdie beeld van die SAW is tydens die WVK oorskadu deur die beelde van wat ’n klein element verkeerd gedoen het. Dit wou voorkom asof die breë Suid-Afrikaanse samelewing nie die onderskeid kon tref tussen die positiewe bydrae van die ou SAW en dienspligtiges en die minderheid oortreders nie, en almal oor dieselfde kam geskeer het.
Ek onthou nog hoe teenstrydig die ervaring van die nuwe Suid-Afrikaanse “reënboognasie” van die jare negentig teenoor dié van die samelewing in die jare tagtig was. Eers nadat ek die gedeelte oor oorlogstrauma in Judith Herman, ’n psigiater wat intensiewe navorsing oor trauma gedoen het, se boek Trauma and Recovery gelees het, het ek besef wat met my gebeur het. Ons was net soos die Amerikaanse soldate wat in die Viëtnamese oorlog geveg het, ontnugter oor hoe die bevolking ons ná die oorlog hanteer het. Ek het ook ervaar dat dit waarvoor ons al die jare in die Grensoorlog geveg het, nie deur die algemene bevolking erken is nie.
Chris Louw se “Ope brief aan Willem de Klerk” in Mei 2000 het ’n diskoers in Afrikaner-geledere oor die vraag of diensplig regtig die moeite werd was aan die gang gesit wat my baie opgewonde gemaak het.3 Met sy boek, Boetman en die swanesang van die verligtes, was Louw die eerste persoon wat die frustrasie van die groep Afrikanermans verwoord het oor wat hulle in die jare negentig ervaar het. Die gesprekke wat hy ontlok het, sou ’n groot invloed hê op die denke van die sogenaamde “Boetman-generasie” wat diensplig gedoen het. Dit wou dus voorkom asof die Afrikanermans vir die eerste keer werklik bereid was om te begin praat oor wat hulle ervaar het. Toe ek egter in 2002 met ’n uitgewer oor ’n moontlike boek oor die verwerking van die ontnugtering wat dienspligtiges beleef, gesels, was die antwoord dat hulle nie dink die boek sou aftrek kry nie omdat dit lyk asof die dienspligtiges nie oor die Grensoorlog wil praat nie. Hoewel ek baie gretig was om ’n boek te skryf was my ervaring in daardie stadium ook dat die blanke samelewing nog nie oor diensplig wou praat nie en die tyd nog nie ryp was nie.
Die afgelope jare is verskeie boeke soos JH Thompson se boek, An Unpopular War: Voices of South African National Servicemen,4 egter oor die Grensoorlog geskryf en vurige debatte is in die media gevoer oor wie die oorlog gewen het en of die oorlog die moeite werd was. Dat oudsoldate toenemend in groepe onder leiding van veteraanorganisasies die ou slagvelde besoek om vrede te maak met die dinge wat daar gebeur het, was ook verblydend. Militêre veteraanorganisasies skep ook geleenthede vir ouddienspligtiges om hulle stories te vertel en die verlede te verwerk. Dit was ook opmerklik dat die meeste boeke gehandel het oor mense wat hulle unieke stories vertel. As narratiewe terapeut, wat terapie doen met mense deur hulle toe te laat om hulle stories te vertel, was ek dankbaar oor die nuwe tendens.
Nadat ek Feinstein se boek gelees het, het ek besluit om nie net my storie te vertel nie, maar ook riglyne vir my mede-oudstryders te gee oor hoe hulle finaal vrede met die oorlog kan maak. Tydens die toepassing van narratiewe terapie, het ek ervaar hoe mense meer perspektief kry en genesing van emosionele wonde ervaar wanneer hulle hul stories vertel. Deur hierdie boek wil ek die dienspligveterane aanmoedig om die seer en ontnugtering van hulle unieke stories in ’n veilige omgewing aan iemand wat waarlik na hulle luister, te vertel. Ek wil ook hulle familie, veteraanorganisasies en die geloofsgemeenskap betrek in die proses om hulle te ondersteun. In die jare tagtig was die holistiese ondersteuning van die blanke samelewing vir my ’n riem onder die hart. Kan ons nie weer saamstaan om mense wat nog sukkel om vrede te maak met ’n oorlog wat al lankal verby is, te ondersteun nie?
“’n Christelike gemeenskap is daarom ’n genesende gemeenskap, nie omdat wonde genees word en pyn verlig word nie, maar omdat wonde en pyn openinge of geleenthede word vir ’n nuwe visie. Gemeenskaplike belydenisse word dan ’n gemeenskaplike verdieping van hoop, en gedeelde swakhede word ’n herinnering aan een en almal van die komende krag.”
– Henri Nouwen (Vertaal uit The Wounded Healer)5
Die