Weermagstories. Roelf Schoeman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Weermagstories - Roelf Schoeman страница 4
In die tweede hoofstuk bespreek ek die narratiewe gesprekvoering en waarom ons genesing ervaar deur ons stories te vertel. ’n Mens behoort jou storie so te vertel dat jy daardeur perspektief oor die verlede en dit wat werklik gebeur het, kan kry. Om ’n storie nou te vertel oor dinge wat so lank terug gebeur het, is nie maklik nie en daarom skram ons weg daarvan. Daarom behoort jy, wanneer jy dit nou doen, so te doen dat dit nie net maar ’n tevergeefse proses is wat homself herhaal nie.
Om jou verhaal aanhoudend vir ’n kroegman of iemand wat nie werklik daarin belangstel nie te vertel help jou niks nie. Wanneer jy dit egter vir iemand wat daar was en met dieselfde probleme as jy worstel, vertel om oplossings vir wat jy nou ervaar te soek, sal dit definitief ’n genesende effek op jou hê en jou help om ’n beter perspektief te kry. Ons gee ook riglyne aan familie of enige ander mense wat ander wil help om hulle stories te vertel.
Nadat ek hierdie basis gelê het van hoe iemand gehelp kan word om stories te vertel, sal ek in die volgende hoofstuk eers my storie as inleiding tot verskeie ander stories van genesing, hoop en perspektief vertel. Ek vertrou hierdie stories sal perspektief gee op dít wat werklik tydens die oorlog ervaar is en wat die impak daarvan op die persoon en sy familie is. Ek vertrou ook dat dit mense wat nog nie hulle storie vertel het nie sal aanmoedig om dit ook te doen en makkers met wie hulle moontlik kontak verloor het op te soek.
Die einde van die een proses lei gewoonlik ’n nuwe proses met nuwe moontlikhede in. My hoop is dat hierdie boek ook ’n bydrae sal lewer tot meer begrip oor die hantering van trauma of emosionele seer. In Suid-Afrika leef ons in ’n samelewing vol uitdagings. Die gemeenskap behoort geleenthede in ’n veilige omgewing te skep waar mense wat trauma of emosionele seer ervaar hulle stories met vrymoedigheid sonder enige veroordeling kan vertel. In die jare negentig het ons nie genoeg oor die verskillende soorte traumatiese ervarings wat ons gehad het, gepraat nie. Veral die geloofsgemeenskap moet hierdie geleentheid benut om mense te help om die emosionele seer te verwerk. Ek sluit die boek af met riglyne oor hoe ons toegerus kan wees om in die toekoms soortgelyke uitdagings beter te kan hanteer. Daarom is daar ’n lys van hulpbronne vir diegene wat graag nog beter toegerus wil word om die uitdagings meer effektief te kan hanteer.
HOOFSTUK 1
Die impak van oorlog
Oorlog verwond die siel. Gedurende ’n oorlog word ons gewone sin vir moraliteit op sy kop staangemaak; en dit wat sin maak tydens die oorlog – dalk selfs noodsaaklik is tydens die oorlog – maak dalk nie sin wanneer jy na die burgerlike lewe terugkeer nie.
– Ron Langer6
As gevolg van die politieke verwikkelinge in Afrika en die res van die wêreld, is Suid-Afrika gaandeweg by ’n oorlog betrek wat die land nie werklik voorsien of beplan het nie. Geskiedskrywers soos Leopold Scholtz en Louis Bothma wys daarop dat die Grensoorlog eintlik reeds in 1884, nadat Suidwes-Afrika deur Duitsland geannekseer is, begin het. Suid-Afrikaanse magte was reeds vóór 1965 op ’n kleiner skaal betrokke by hierdie oorlog.7 Die aanloop tot en verloop van die Grensoorlog was, soos met enige ander oorlog, vol traumatiese ervarings aan albei kante van die stryd. Dit het ’n groot impak op ál die bevolkingsgroepe in Suid-Afrika gehad. Die Grensoorlog het ’n diep wond in die diepste wese – die siel (psige) – van sommige individue en bevolkingsgroepe veroorsaak. Nie alle dienspligtiges het ’n traumatiese ervaring tydens die oorlog gehad nie en sommiges sukkel net om sin en betekenis oor die oorlog te kry. Deur die impak van ander oorloë op die psige van individue en bevolkingsgroepe te bestudeer, kan ons gehelp word om die impak van die Grensoorlog op Suid-Afrika beter te verstaan.
Trauma en die posttraumatiese stresversteuring (PTSV)
Die woord “trauma”, afgelei van die Griekse woord vir wond, het so algemeen in ons spreektaal geword dat daar soms na enige ontstellende ervaring as ’n traumatiese gebeurtenis verwys word. Tog is daar duidelike definisies vir trauma en veral posttraumatiese stresversteuring (PTSV) in gebruik. Na aanleiding van navorsing tydens en ná die Viëtnamese oorlog, is PTSV in 1980 deur die Amerikaanse Psigiatriese Assosiasie as ’n angsversteuring gediagnoseer en omskryf.
Trauma word oor die algemeen as ’n spesifieke gebeurtenis beskou wat ’n invloed op die mens se persoonlike wêreld, verstand, liggaam, gees en siel het. Die effek van traumatiese gebeurtenisse kan nie in net een dimensie bepaal word nie. In die Suid-Afrikaanse konteks verwys Yvonne Retief8 na die Instituut van Traumatologie se definisie van trauma:
’n Persoon het ’n trauma beleef indien hy of sy blootgestel was aan gebeure wat te make het met sy of haar lewensomstandighede, of met sy of haar lewensfase (byvoorbeeld die oorgaan van een lewensfase na ’n ander of omstandighede as gevolg van ’n nuwe fase wat die persoon onhanteerbaar vind) en wat tot gevolg het dat daardie persoon se gewone hanteringsmeganismes lamgelê is en ten minste een van die volgende effekte waargeneem word:
•Daar is ’n element van gelatenheid.
•Daar is ’n diep, amper onomkeerbare verandering in ’n basiese lewensiening of oortuiging.
•Daar is ’n ernstige oorbelading van die mens se normale hanteringsmeganismes.
Verskillende soorte trauma word onderskei: seksuele trauma (verkragting, bloedskande en rituele of kulturele mishandeling), fisieke trauma (oorlog, gewelddadige aanranding, marteling, ongelukke en natuurrampe), psigologiese trauma (’n direkte persoonlike bedreiging van lewe), om ooggetuie te wees van ’n natuurramp of die marteling of traumatiese dood van ander mense en geestelike trauma.9
Die impak van ’n oorlog op ’n individu het dus veral te doen met fisieke en psigologiese trauma, waar die persoon fisieke beserings opdoen en waar die lewe van die persoon of ’n ander persoon direk bedreig word. Aanvanklik is daar tydens oorloë net op die hantering van die fisieke trauma (hantering van fisieke wonde) gefokus en is psigologiese trauma (verwonding van die innerlike mens) nie verstaan nie. Psigologiese trauma het toe verskeie ander name soos “soldier’s heart” in die Amerikaanse burgeroorlog, “shell shock” (bomskok) in die Eerste Wêreldoorlog, “combat fatigue” in die Tweede Wêreldoorlog en die oorlog in Korea en “bossies” in die Grensoorlog gekry.
Die psigiater wat psigologiese trauma as “an affliction of the powerless” definieer, Judith Herman, gee ’n baie goeie uiteensetting van die ontwikkeling van psigologiese trauma en die diagnosering van PTSV. Volgens die Comprehensive Textbook of Psychiatry is die gemene deler van psigologiese trauma die gevoel van intense vrees, hulpeloosheid, verlies aan beheer en dreigende vernietiging. Sekere spesifieke ervarings soos verrassing, om vasgekeer te wees en blootgestel te word tot op die punt van algehele uitputting, verhoog die ervaring van leed en gevolglik ook die trauma. ’n Traumatiese gebeurtenis oorweldig die gewone mens se vermoë om aan te pas by die uitdagings van die lewe. Slagoffers van psigologiese trauma bevind hulle tussen die uiterstes van relatiewe kalmte tot intense angs, onrustigheid, woede, kalmte, hiperwaaksaamheid en ekstreme opgewektheid.10
Die hantering van psigologiese trauma tydens die Eerste Wêreldoorlog
Die psigologiese reaksie ná die Eerste Wêreldoorlog, nadat ongeveer agt miljoen soldate oor ’n tydperk van vier jaar gesterf het, was fenomenaal. Hoewel dit aanvanklik geheim gehou is, was 40% van die ongevalle ná die oorlog in Brittanje psigologies van aard.11 Tydens ’n meningsopname deur 61 Meg Infanterie Bataljon, die