Die geheim van Hercule Cordier. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die geheim van Hercule Cordier - Ena Murray страница 5
Dis eers toe hy reeds sy glasie in die hand het dat hy die stilte verbreek. Hy kyk fronsend na die glas wyn wat Zonika vir haarself geskink het.
“Is dit nie te veel drank vir so ’n jong kind nie?” merk hy op en kaptein Pierre lag.
“O, Zonika is aan drank gewoond. Sy is ook nie so jonk as wat jy dink nie. En ’n dapper matroos verdien ’n drankie,” voeg hy met trots in sy stem by.
“Hm. Dapper is sy onder meer.” Sy blik rus veelbetekenend op die swart gesiggie.
Weer flits die groot oë in syne terug en sy antwoord gevat: “Jy lyk self nie van die beste nie, mon capitaine. My kapmes het jou lelik verrinneweer.”
Haar vader kyk hulle beurtelings geamuseer aan. Hy sal goed glo dat dit vir die geëerde capitaine beslis nie so aangenaam is om daaraan herinner te word dat dit juis ’n vrou is wat hom só daar laat uitsien nie. Hy sluk duidelik swaar aan daardie pil.
“Ek stel voor dat julle albei beter sal lyk en voel as julle eers gewas en ander klere aangetrek het. As u drankie klaar is, sal my dogter u van die nodige voorsien onderwyl ek inspeksie van die Hercule gaan hou.” Kaptein Pierre se stem klink onskuldig. Hy sien hoe die ander man se gesig verstrak by die aanhoor van sy laaste sin en omdat hy nie ’n man is wat daarvan hou om sout in ’n rou wond te vryf nie, vervolg hy haastig: “Ons het ons nog nie aan mekaar voorgestel nie. Ek is kaptein Pierre en dit is my dogter, Zonika.”
“Ek weet wie u is,” antwoord Hercule Cordier met ’n uitdrukkinglose gesig, maar met ’n vreemde stemtoon. Die seerowerkaptein kyk hom vinnig aan en sy oë vernou.
“U weet wie ek is, kaptein? Het u ook geweet voordat die geveg begin het?”
“Ja.”
“U het doelbewus op my afgestuur, kaptein. Het dit iets te doen met die feit dat u geweet het wié die kaptein van die Seekat is?”
“Miskien.”
’n Oomblik ontmoet die twee mans se oë.
“Wat is u naam, kaptein?”
“Hercule Cordier.”
Kaptein Pierre delf in sy geheue, maar die naam beteken vir hom niks nie. Dis Hercule wat weer praat.
“Daar wag vir u ’n groot teleurstelling op die Hercule, kaptein. Daar is geen buit nie.”
“So? Geen buit nie? Waarheen is u dan op pad?”
“Ek was nie eintlik op pad na ’n besliste bestemming nie. Ek was eintlik op soek na iets … of iemand.”
“Ek verstaan.” Kaptein Pierre is duidelik gespanne. Waarop stuur hierdie man af? Wat bedoel hy met sy laaste opmerking? Toe hy die Seekat gesien het, het hy onmiddellik van koers verander en direk op hom afgestuur, met die uitsluitlike doel om ’n geveg af te dwing. Is daardie iemand na wie Hercule Cordier soek, miskien hy … of Zonika? En waarom soek hy na hulle?
Ook Zonika staar hom fronsend aan asof sy iets nie kan begryp nie. Sy draai sonder ’n woord om en stap uit om haar te gaan verklee. Daar is nog iets wat haar hinder. Hoekom het sy hierdie man se lewe gered toe Haan hom wou doodmaak? Dit was heeltemal onwillekeurig dat sy hom net betyds weggestamp het. Waarom sou sy so iets gedoen het?
2
Kaptein Pierre vind gou uit dat Hercule Cordier nie ’n leuen vertel het nie. Daar is geen buit op die Hercule nie. Dit laat sy kommer styg. Dit wil lyk asof hierdie groot skip met sy opgeleide soldate sommer doelloos op die oseane rondgevaar het. Dit vervoer geen vrag of passasiers nie.
Volgens sy kaptein was dit na geen besliste bestemming op pad nie. Maar dit was op soek na iets – of iemand. Kaptein Pierre is seker dié iemand is gevind. Hy is oortuig daarvan dat kaptein Cordier na hom en die Seekat op soek was. Maar daar is nog iets waarna hy verwys het. Iets wat hy in sý besit het. Maar watter een van die baie besittings wat ’n seerowerkaptein deur die jare buit, kan dit wees? En hoe sou Hercule Cordier van plan wees om dit in die hande te kry?
Onderwyl kaptein Pierre op die Hercule inspeksie doen, loop Hercule Cordier weer die “kind” op die dek van die Seekat raak. Hierdie keer is die gesiggie egter skoon en die skraal gestaltetjie geklee in ’n stywe swart langbroek en ’n wye pofmoubloes. Die lang hare is netjies gekam en lê in sagte, vleiende golwe oor haar skouers. Die eerste keer vandat hulle mekaar op so ’n dramatiese wyse ontmoet het, het hulle tyd om mekaar goed te beskou.
Kaptein Pierre het toestemming gegee dat Hercule Cordier sy klere van sy gebuite vaartuig mag laat oordra. Hy is nou weer netjies geklee, soos dit die kaptein van ’n skip betaam. Tot Zonika se ergernis merk sy op dat hy geensins lyk soos ’n man wat oorwonne is en in die hande van gevreesde seerowers geval het nie. Waar hy voor haar staan met sy vierkantige skouers, kop hoog en oë koel en uitdagend, lyk dit eerder asof sy die gevangene is. Sy swart hare is netjies agter sy kop met ’n strikkie saamgevat en die hande wat liggies op die reling rus, lyk soos dié van ’n adellike. Hulle behoort beslis nie aan ’n man wat harde handearbeid verrig nie.
Hercule Cordier beskou weer met aandag die meisie wat nog met dieselfde parmantige houdinkie van netnou voor hom staan. Hy moet toegee dat die meisie wat hy as ’n blote kind aangesien het, geensins so jonk is as wat dit aanvanklik vir hom voorgekom het nie. Hy merk onwillekeurig die rondings van haar borsies en trek sy asem stadig in.
’n Effense glimlag speel om sy lippe. Geen wonder sy wou sy kop afbyt toe hy haar gestuur het om met haar poppe te gaan speel nie! Hy kan die versoeking nie weerstaan om haar te terg nie. Hy moet daardie donker oë weer sien flits van woede.
Hy buig nou galant en sê met ’n onskuldige stem: “Verskoon my, mam’selle. Ons het nog nie ontmoet nie. Ek is kaptein Hercule Cordier van die Hercule.”
Zonika se oë blits – soos hy verwag het.
“U bedoel seker u wás kaptein van die Hercule.”
“O, nee, ek is, mam’selle. Ek is. Daar is maar net ’n tydelike onderbreking solank kaptein Pierre my op sy skip onthaal.”
“O, werklik? Ek moet sê, dis die eerste keer in my lewe dat ek hoor dat ’n gevangene eintlik ’n geëerde gas is. My vader …”
’n Kreun van sy kant af laat haar swyg en verbaas vra sy: “Wat skort nou?”
“Ek is jammer, mam’selle. Dis net die skok …” Hy glimlag verskonend.
“Skok? Watter skok?”
“Die skok toe dit tot my deurdring dat u en daardie … e … barbaar susters moet wees. Ag, dis vreeslik om net daaraan te dink dat u onder so ’n las gebuk moet gaan.”
Zonika se gesig is ’n prentjie van verwarring.
“Van watter barbaar praat u, monsieur?” vra sy op haar kilste.
“Ek praat van u sussie, daardie kind … u weet. Hoe sal ’n mens haar nou noem? Sy is seker nie heeltemal normaal nie. Ag, maar u moet u nie te veel ontstel daaroor nie. Sulke dinge gebeur selfs in die beste Franse gesinne ook,” probeer hy ernstig troos toe sy hom ontsteld aankyk.
Dan