Sag ruis die nagwind. Susanna M Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sag ruis die nagwind - Susanna M Lingua страница 3
“Dink jy my pa sal . . . leef?” vra Alta na ’n rukkie.
“Dokter Lombaard is die superintendent van die hospitaal en bekend vir sy bekwaamheid, juffrou Van Eden. Hy het al mense gesond gemaak wat ernstiger as jou pa beseer was. Ek kan jou verseker jou pa is in goeie hande.”
Hierna swyg Alta, en na ’n rukkie hou sy voor die hotel stil. Sy kyk die jong verpleegster aan en sê sag: “Ek sal jou gou weer terugneem hospitaal toe; ek ken nou die pad.”
Die verpleegster wil nog kapsie maak en sê dat dit net ’n hanetreetjie hospitaal toe is, maar Alta is reeds besig om om te draai. “Die strate is baie swak verlig, jy kan dit nie waag om alleen te loop nie,” is al wat sy sê.
Voor die hospitaal vra sy of die verpleegster iemand kan ontbied om die tas met haar pa se slaapklere en ander benodigdhede na sy kamer te neem. Die meisie sê sy sal dit sommer self neem. Alta bedank haar en haal die tas uit die motor. Toe sê sy nag en keer weer terug hotel toe.
Dis byna elfuur toe sy eindelik in die bed kruip en die lig afskakel. Sy voel moeg en hartseer, maar kan nie dadelik aan die slaap raak nie. Haar gedagtes is voortdurend by haar pa wat so bleek en stil daar op die hospitaalbed lê, asof hy net op die dood wag om hom weg te neem; altans, sy dink ’n mens lyk so wanneer jy op die dood wag om jou te kom haal. Sy het nog nooit ’n sterwende persoon gesien nie. Haar ma is in die nag oorlede terwyl sy, Alta, geslaap het.
Die eerste keer in haar lewe dink Alta na oor die kortstondigheid van die lewe; die lewe wat sy nog altyd as ’n aangename spel beskou het.
Hoe nietig en onvoorspelbaar is die lewe, flits dit deur haar moeë verstand. Vanoggend het Pappa gesond en vol lewe van die huis af vertrek, en nou lê hy so bleek en stil daar in die hospitaal . . . Watter doel sal sy rykdom en jare lange lewenstaak dien as hy nou die tydelike met die ewige moet verwissel? Sou hierdie verpletterende slag hom getref het as hy nog ’n arm man was, vir ’n salaris moes werk en nie nodig gehad het om so baie vir sake rond te reis nie? Is hierdie dinge vir ’n mens bestem, of gebeur dit maar net? En wat het hy nou eintlik van sy lewe gehad? Vir plesier was daar baie min tyd in sy lewe, want sake het knaend sy aandag vereis en sy lewe oorheers. Al die jare van opoffering en swoeg sal so tevergeefs wees as dit hom nie eens gegun word om op sy oudag sy lewe te geniet nie. Is dit waarvoor hy hom al die jare afgesloof het; sodat ander die vrugte van sy arbeid kan pluk? Maar dit is so onregverdig!
Sy begin weer saggies snik en raak later van skone uitputting aan die slaap.
Nadat ’n kelner die volgende oggend vir haar koffie kamer toe gebring het, besluit Alta om maar op te staan. Sy voel bitter bekommerd oor haar pa, al het die telefoon langs haar bed nie een keer gedurende die nag gelui nie.
Sewe-uur het sy gebad en haar aangetrek en wou net die hospitaal se nommer skakel, toe die telefoon ineens begin lui. Haar hand bewe toe sy die gehoorbuis optel en met ’n bekommerde stem sê: “Alta van Eden hier!”
“Goeiemôre, juffrou, dis dokter Lombaard wat praat. Hoe gou kan u by die hospitaal wees?” hoor sy hom kalm en bedaard vra.
“Dokter, is my pa . . . gaan dit slegter?” stamel sy ontsteld en voel hoe haar bene dreig om onder haar pad te gee.
“Niks slegter as gisteraand nie, juffrou,” antwoord hy. “U pa het gisternag sy bewussyn herwin, maar ek vrees ’n noodoperasie is onvermydelik. Terloops, ek het ’n chirurg van Johannesburg af ontbied en verwag die kêrel nou enige oomblik. Kom asseblief so gou moontlik hierheen.”
“Dokter, ek kom nou dadelik,” antwoord Alta uitasem, met ’n dreigende knop in haar keel. Sy groet hom en plaas die gehoorbuis bewerig terug op die mikkie.
Alta gryp haar handsak van die bed af op en haas haar na haar motor wat voor in die straat geparkeer staan. Haastig trek sy weg en hou ’n rukkie later voor die hospitaal stil.
’n Verpleegster lei haar sonder versuim in die gang af na dokter Lombaard se kantoor, waar hy en die Johannesburgse chirurg druk in gesprek verkeer. Alta is bly om dokter Gert de Jongh, die hartspesialis, ook hier aan te tref. Hy is nie net die dokter wat haar pa vir sy hartprobleem behandel nie, maar ook ’n jare lange huisvriend van die Van Edens.
“Oom Gert,” sê sy met trane in haar stem toe die ouer man haar hande in syne neem, “ek is so bly u is ook hier.”
“Alta, kind, ek is so jammer oor hierdie ramp wat julle getref het,” sê hy met deernis in sy stem. “Maar jy moet jou nie ontstel nie, my kind. Jou pappa het ’n verbasende sterk gestel.”
“O, oom Gert, Pappa moenie iets oorkom nie. Wat sal ek sonder hom maak? Hy is al wat ek het.”
“Ons sal alles in ons vermoë doen,” val hy haar sag in die rede. “Ek gaan jou nie om die bos lei deur te sê dit is ’n geringe operasie nie, want dit is baie beslis nie die geval nie. Maar daarsonder sal jou pappa nie leef tot vanaand nie, Alta. Ek kan jou darem die versekering gee dat ek groot vertroue in dokters Struwig en Lombaard het. Hulle is twee van ons land se knapste snykundiges, en hulle is vasbeslote om jou pappa weer gesond aan jou terug te gee. Laat my toe om dokter Struwig aan jou voor te stel, kindjie.”
“Ek en dokter Lombaard sal alles vir u pa doen wat menslik moontlik is, juffrou Van Eden,” verseker dokter Struwig haar ná die bekendstelling.
Alta bedank hom met ’n onvaste stem en vra sag: “Mag ek my pa voor die operasie sien?”
“Seker, juffrou, u mag by hom bly totdat hy ingaan vir die operasie,” laat dokter Struwig bedaard en vriendelik hoor. “Moet hom net nie met trane ontstel nie.”
“Ek sal dit onthou,” sê sy en verlaat die vertrek.
Toe Alta haar pa saggies op die voorkop soen, maak hy sy oë stadig oop en glimlag swakkies vir haar.
“My ou groot dogter,” is al wat hy sê, maar in daardie vier sagte woordjies lê al sy liefde vir hierdie enigste kind van hom opgesluit.
Sy soen hom weer. In haar onkunde kan sy sien dat hy baie pyn verduur, daarom maan sy hom om liewer nie te praat nie.
“Pappa moet gou gesond word,” sê sy na ’n rukkie, “en moenie oor my bekommerd wees nie. Ek het plek gekry hier in die Rialto-hotel, maar ek sal meestal hier by Pappa wees.”
Vier verpleegsters kom die vertrek met ’n trolliebed binne. Hulle merk Alta langs die bed op, groet haar vriendelik en draai dan na die pasiënt.
“Ons gaan u nou na die trolliebed oorplaas, meneer Van Eden,” sê een van die verpleegsters vriendelik, “maar lê asseblief doodstil. Moenie eens probeer om self oor te skuif nie. Ons vier kan die takie self behartig. Ons weet net hoe dit gedoen moet word sonder om te veel pyn te veroorsaak.”
’n Sweem van ’n glimlaggie raak aan die een hoek van Marius se mond. “Ek sal stillê, juffrou,” belowe hy sag.
Alta gaan staan eenkant om uit die vier verpleegsters se pad te wees. Sy merk hoe behendig hulle haar pa, ’n groot, fris man, van die bed af oorskuif na die trolliebed en met ’n kombers bedek. Sy weet dat haar pa nou operasiesaal toe geneem moet word, daarom tree sy vinnig nader, buk oor hom en soen hom twee keer saggies op die mond.
“Ek sal . . . vir Pappa bid,” sê sy met ’n knop in haar keel.
“Dankie,