Sag ruis die nagwind. Susanna M Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sag ruis die nagwind - Susanna M Lingua страница 5
Dit tref Alta meteens dat Fred se ligsinnigheid haar irriteer; vir haar, die miljoenêrsdogter wat nog nooit ’n flenter vir haar medemens omgegee het nie. Maar dan besef sy skielik dat sy sedert haar pa se ongeluk verander het.
“Jy is gans te ligsinnig, Fred,” verwyt sy hom gesteurd. “Ek dink nie eens aan partytjies en vermaak nie.”
“Haai, wat makeer jou?” val hy haar laggend in die rede. “Is iemand daar op Groendal besig om van jou ’n Sondagskooljuffrou te maak, Alta?”
“Nee,” sê sy, “maar ek dink jy is vervlaks ligsinnig en ongevoelig. Dit is vandag maar eers die vierde dag nadat my pa ’n noodoperasie ondergaan het, en hy is nog nie buite gevaar nie. Maar jy het natuurlik nog nooit daaraan gedink dat Marius van Eden in ’n ernstige motorongeluk was, dat hy my pa is en wat dit vir my sal beteken as ek hom moet verloor nie.”
“Wel, al waaraan ek op die oomblik kan dink, is dat jy dan ’n miljoenêr sal wees. En ek kan jou sommer nou sê, ek sal nie omgee as so ’n erfporsie my te beurt val nie. Ek sal die wêreld deurreis en daarna die Franse Riviera my lêplek maak . . . ”
Alta luister in ’n dwaal na Fred se praatjies. Toe hy aan die einde van sy lang betoog kom, sê sy dadelik tot siens voordat sy na nog meer snert moet luister.
Diep gesteurd plaas sy die gehoorbuis terug op die mikkie en neem op die kant van die bed plaas. Fred se ydele ligsinnigheid stem haar ineens tot ernstige nadenke. Dis asof sy haar vriende vandag die eerste keer objektief beskou, en sy kan nie juis sê dat sy hou van wat sy in hulle sien nie . . . Haar oë het oopgegaan vir die soort mens wat elkeen van hulle diep binne-in is.
Hulle is selfsugtig, ongevoelig, oppervlakkig, ydel en pynlik ligsinnig, dink sy gegrief, en ek was bepaald niks beter nie. Om te dink dat ek net so ’n oppervlakkige skepsel was en dit nie eens agtergekom het nie. O, hoe walg ek nou van hulle en myself!
’n Lang ruk sit sy daar in stil bepeinsing. Toe besef sy meteens dat dit haar pa se lyding en die verpleegsters se vriendelike offervaardigheid is wat haar al hierdie dinge in die regte perspektief laat sien het. Sy weet nou dat sy nooit weer die Alta van weleer kan wees nie. Die Alta van gister is dood. Dit hinder haar ook glad nie, want sy wil nooit weer daardie oppervlakkige, sosiale vlinder wees nie. Hier in Groendal se hospitaal het sy nuwe waardes geleer ken, en sy besef nou dat die doel van elke mens hier op aarde is om sy lewe aan nuttige dinge te wy, of hy nou ryk of arm is. Vir elkeen is daar iets nuttigs om te doen, iets wat ander tot voordeel kan strek, want deur aan ander goed te doen, verryk ’n mens jou eie lewe.
Noudat Alta se lewe rigting gekry het, voel sy skoon ’n ander mens. Sy gaan bad en trek haastig ’n lemmetjiegeel rok aan. Haar gesig word versigtig gegrimeer; dan borsel sy haar lang, swart hare totdat dit soos ’n kraai se vlerk blink.
Sy kom orent en staan voor die spieël. Met ’n kritiese oog beskou sy haar hartvormige gesig, hoë voorkop, mooi wenkbroue, fynbesnede neus, sagte lippe en spits ken.
Ek voel inderdaad soos ’n ander mens, tog lyk ek nog dieselfde, dink sy geamuseer, en merk hoe haar oë ineens ondeund begin vonkel.
Vir Alta is dit glad nie vervelig om die hele dag langs haar pa se bed te sit nie. Sy doen dit elke dag met liefde en gaan net hotel toe om haar maaltye te nuttig. Na aandete keer sy gewoonlik terug en vertoef tot nege-uur by haar pa.
Sy het feitlik al die tydskrifte in die twee jong Grieke se kafee gekoop en gelees. Die verpleegsters voorsien haar ook soms van leesstof en vergeet nooit om tienuur en vieruur vir haar tee of koffie te bring nie. Haar pa gesels soms met haar, maar meestal het hy soveel pyn dat albei liewer swyg.
Die sesde dag na sy operasie is die eerste dag dat Marius feitlik geen pyn verduur nie. Alta merk dit dadelik op toe sy die siekekamer binnetree en hom met ’n soen groet. Sy trek ’n stoel langs die bed en neem plaas. “Hoe gaan dit, Pappa?”
“Baie beter, dankie, patroon. Ek het nie meer pyn nie, en dit alleen is ’n seën.” Hy glimlag rustig, neem een fyn handjie in syne en vervolg teer: “Ek vrees ek het jou baie kommer en onrus besorg en ook jou pret gruwelik bederf, maar dit is nie meer nodig dat jy jou dae hier langs my bed deurbring nie.”
“En wat moet ek doen as ek nie meer langs Pappa se bed mag sit nie?” vra sy en kyk hom met ’n sagte blik aan.
“Wel, jy kan ontspan en weer die lewe geniet,” kom dit bedaard van Marius.
Sy kyk haar pa ernstig aan en vra sag: “Op hoe ’n manier moet ek die lewe hier op Groendal geniet, Pappa?”
Hy kyk haar vraend aan, maar antwoord nietemin: “Wel, hier is seker baie min vermaaklikheidsplekke, maar in Johannesburg is daar baie.”
Alta skud haar kop stadig. “Nee,” sê sy ernstig, “ek het tot die slotsom gekom dat my lewe in Johannesburg nutteloos en sonder betekenis was. Hierdie ongeluk van Pappa het my ander insig in die lewe gegee, en ek besef nou hoe leeg, ydel en selfsugtig ek al die jare was. Ek wil ook iets nuttigs doen, iets waarmee ek my medemens tot diens kan wees.”
Daar is ’n sweem van ’n glimlag om Marius se mond toe hy vra: “Wat wil jy doen?”
Hierdie nuwe gril van Alta amuseer hom. Tog is dit vir hom duidelik dat sy dogter wel ’n verandering ondergaan het. Sy lyk vir hom meer bedaard, en daar is ook ’n vreemde soort vasbeslotenheid in haar.
“Ek is nog jonk, Pappa, nog nie eens negentien nie. Ek is dus nog jonk genoeg om met ’n loopbaan te begin. Ek wil my graag as verpleegster bekwaam, en daarna wil ek privaat verpleeg. Ek het die afgelope ses dae dikwels met die personeel gesels, en hulle sê daar is ’n groot tekort aan verpleegsters.”
“Verpleging is harde werk, my kind. Het jy al daaraan gedink?”
“Ek het die afgelope twee dae aan alles gedink, Pappa,” antwoord sy bedaard, “maar as ’n mens ’n ernstige begeerte het om iets te doen, sal jy bo uitkom. Ek besef wel deeglik dat dit moeite en harde werk sal wees, maar ek verkies nog om verpleegster te word. Ek het die afgelope ses dae eers agtergekom hoe ’n edel beroep dit is, en ek erken ruiterlik dat hierdie mense my bewondering afdwing.”
“Wel, ek moet sê, jy is nie die enigste wat ’n verandering wil maak nie, my kind,” glimlag Marius goedig. “Ook ek het gisteraand ernstig nagedink. Ek dink die tyd het aangebreek dat ek my aan die sakewêreld onttrek. Noudat jy finaal besluit het om verpleegster te word, sien ek geen rede waarom ek langer in Johannesburg moet aanbly nie. Ek wou my lankal op Die Wilgers gaan vestig het, maar ek kon dit nie oor my hart kry om jou van al jou vriende weg te neem nie. Jy weet, vir ’n jong mens is dit maar stil en eensaam op ’n plaas.”
Sy kyk hom verras aan. Dit is die beste besluit wat hy nou kan neem, wat haar betref.
“In elk geval, dokter Lombaard het my gisteraand gemaan om van nou af ’n rustiger lewe te voer. My hart is glo nie meer wat dit voor die motorongeluk was nie, en om daardie rede het ek besluit om my so gou moontlik aan die sakewêreld te onttrek. Ek was egter van plan om ter wille van jou nog in Johannesburg aan te bly, maar nou sal dit nie meer nodig wees nie. Sodra ek uit die hospitaal ontslaan word, sal ek ons huis in Johannesburg verkoop en my op Die Wilgers gaan vestig.”
“En wat van ons huishoudster, die huishulpe en die tuinier en sy vrou, Pappa?”
“Ek neem mevrou Nel, meneer Els en sy vrou saam na Die Wilgers toe,” sê Marius. “Mevrou Nel sal maar self reëlings