Sag ruis die nagwind. Susanna M Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sag ruis die nagwind - Susanna M Lingua страница 4
Eers toe dokter Gert de Jongh langs haar praat, kyk sy hom aan, sonder om ag te slaan op die trane wat stil oor haar wange rol.
“Alta, kind, jy moet sterk wees,” hoor sy dokter De Jongh met deernis in sy stem sê. Hy plaas ’n vaderlike arm om haar skouers en vee haar trane met sy sakdoek af.
“Ek . . . probeer, oom Gert. Maar dis . . . so moeilik,” antwoord sy met ’n gebroke stem. “Ek sal buite . . . in my motor gaan wag.”
“Nee, juffrou, gaan wag liewer in my kantoor. U sal dit daar rustiger vind,” stel dokter Lombaard voor. Hy keer ’n suster voor en vervolg saaklik: “Neem juffrou Van Eden asseblief na my kantoor toe, suster. Ek dink sy het nog nie ontbyt geëet nie. Terloops, die motorongelukpasiënt is haar pa.”
“Ek sien jou sodra die operasie afgehandel is. Sterkte, my kind,” hoor sy dokter De Jongh sê.
Sy kyk die drie dokters stil agterna, en dan is sy meteens bewus van die suster se hand op haar arm en haar simpatieke stem.
“Kom asseblief saam met my, juffrou Van Eden. Sodra jy iets geëet het, sal jy baie beter voel.” Sy stuur Alta in die rigting van die superintendent se kantoor en vervolg vertroostend: “Ek weet dit voel vandag asof die aarde onder jou padgegee het, maar probeer positief dink. Dink daaraan dat jou pa van hierdie oomblik af in die hande van een van ons land se knapste snykundiges verkeer. Ek het gehoor dat dokter Struwig nog nooit ’n enkele pasiënt verloor het nie.”
Hulle tree die superintendent se kantoor binne en Alta neem op ’n stoel voor die venster plaas. Sy besef dat die suster gelyk het; sy moet meer positief dink. Sy moet glo dat dokter Struwig bekwaam genoeg is om haar pa weer gesond te kan maak.
“Ek sal nou gaan reëlings tref in verband met ontbyt vir jou,” begin die suster.
“Ek wil niks te ete hê nie, dankie, suster. ’n Koppie tee of koffie sal welkom wees,” keer Alta haar dadelik.
Vir Alta voel die minute soos ure. Sy staar na die hospitaal se kleurryke tuin en na die bedrywigheid van die verpleegsters wat heen en weer voor die kantoordeur verbygaan, maar niks maak werklik indruk op haar nie. Haar gedagtes bly by haar pa en die dokters wat nou om sy lewe veg.
Sy dink aan haar laaste woorde aan hom: “Ek sal vir Pappa bid.” Sy het nog nie vir hom gebid nie. Sy weet ook nie hoe nie, want sy het nog laas gebid toe sy klein was en haar ma vir haar die gebedjie voorgesê het.
Ek onthou nog die Onse Vader, besluit sy weemoedig, maar sal dit goed genoeg wees om Pappa weer gesond te maak? Hoe bid ’n mens vir ’n geliefde ouer wat so ernstig beseer is? O, ek kan nie bid nie, ek weet nie hoe nie! Maar ek móét vir Pappa bid, ek het hom dit belowe.
Met verdrietige oë staar sy deur die venster na buite, dan prewel sy saggies: Onse Vader wat in die hemel is, maak asseblief my pappa gesond. Ek het nie meer ’n ma nie; hy is al wat ek het, en ek het hom liewer as al die pret en plesier in die wêreld . . . Amen.
Sy weet nie of sy reg gebid het en of die Here haar eenvoudige gebed gehoor het nie, maar sy voel rustiger noudat sy wel gebid het. Sy dink aan die dae toe sy die Sondagskool bygewoon het, aan die Bybeltekste wat sy moes leer. Maar dis so lank gelede. Sy kan nie meer ’n enkele teksvers onthou nie, want sedert haar aanneming was sy nog nooit weer in ’n kerk nie. Haar vriende is nie kerkgangers nie, en met al hul bedrywigheid was daar ook nie juis tyd om kerk toe te gaan nie.
Die binnekoms van die drie dokters maak ineens ’n einde aan Alta se gedagtes. Sy kom vinnig orent en kyk dokter Struwig ernstig vraend aan.
Hy glimlag en sê gerusstellend: “Die operasie was baie geslaagd, juffrou Van Eden. As daar net nie komplikasies intree nie, behoort u pa oor drie weke gesond genoeg te wees om uit die hospitaal ontslaan te word. Maar ek waarsku u vroegtydig: die volgende week gaan hy baie pyn verduur, dit is ongelukkig onvermydelik. Weens sy hartprobleem mag hy nie te veel pynstillers inneem nie.”
Die verligting in Alta se stem is onmiskenbaar toe sy sê: “Dankie, dokter, ek begryp. Ek is baie dankbaar vir alles wat julle tot dusver vir my pa gedoen het. Mag ek nou maar na hom toe gaan?”
“Sekerlik, juffrou, u mag u pa enige tyd gedurende die dag besoek,” antwoord dokter Lombaard vriendelik, tegemoetkomend.
Sy bedank hom en gaan sonder versuim na haar pa se kamer waar twee verpleegsters sy beddegoed regtrek.
“Slaap my pa nog van die narkose?” vra sy aan een van die verpleegsters.
Die aangesprokene glimlag vriendelik en antwoord beleef: “Nee, juffrou, jou pa slaap nou van ’n inspuiting wat hom so pas toegedien is. Hy sal stellig nou slaap tot laat vanmiddag.”
Alta hou die verpleegsters se ywerige gewerskaf in stilte dop. Hulle gesels sag en opgewek met mekaar terwyl hulle die lakens en komberse behendig onder die matras invou. Hulle is deurentyd bedrywig, tog lyk hulle vir haar so gelukkig en tevrede.
Aangesien haar pa tot laat namiddag sal slaap, besluit sy om dan maar eers middagete in die hotel te gaan nuttig. Daarna kan sy weer hospitaal toe kom. Sy het reeds besluit dat haar plek bedags hier langs haar pa se bed is totdat hy gesond genoeg is om ontslaan te word.
Die volgende ses dae is vir Alta soos ’n aaklige nagmerrie. Dit maak haar byna gek om haar dierbare pa so te sien ly en te weet dat hy nie so baie pynstillers mag kry nie. Maar wat haar gedurende hierdie week baie diep beïndruk, is die geduld, toewyding en mensliewendheid van die verpleegsters wat haar pa versorg en bystaan. Nooit sien sy een frons wanneer hy ongeduldig is van pyn nie. Hul vriendelike, onselfsugtige behulpsaamheid dwing haar bewondering af en laat haar diep nadink oor haar eie nuttelose en gemaksugtige lewe. Nog nooit het sy ’n enkele gedagte aan die siekes en minderbevoorregtes gegee nie.
Alta het verpleegsters gewoonlik oppervlakkig beskou as werkende meisies in wit uniforms, maar hulle nooit regtig geken nie. Noudat sy hul onselfsugtige ywer en naastediens aanskou, moet sy eerlik erken dat sy hulle uit haar hart bewonder.
Dis reeds die vierde dag na Marius se operasie. Hier waar Alta, met haar kamerjas aan, haar badbenodigdhede bymekaarkry, begin die telefoon op die bedtafeltjie meteens lui. Sy kyk na haar polshorlosie, merk dat dit nou eers halfagt is en wonder of dit een van die hospitaalpersoneel is wat haar bel.
Vinnig tel sy die gehoorbuis op en sê bekommerd: “Juffrou Van Eden hier!”
“Goeiemôre, juffrou Van Eden! Dis jou ou vriend Warden hier,” hoor sy Fred Warden se vrolike stem.
“O, dis jy! Wat laat jou so vroeg in die môre bel?” Daar is nou duidelik verligting in haar stem.
“My verlange na jou! Kan jy dit glo?”
“Nee, ek glo dit nie, Fred. Vertel maar die waarheid, waarom het jy gebel?”
Hy begin saggies lag. “So jonk en al so uitgeslape,” hoor sy hom tergend sê. “Jy aard na jou pa, weet jy, Alta? Almal sê hy is ’n uitgeslape sakeman vir wie ’n mens nie ’n rat voor die oë kan draai nie.”
“Ek is nie so vreeslik uitgeslape nie, Fred, ek ken jou maar net baie goed. Waarom het jy gebel?”
“O,” sê hy, “ek bel maar net om te hoor wanneer