Ena Murray Keur 6. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 6 - Ena Murray страница 7

Ena Murray Keur 6 - Ena Murray

Скачать книгу

die eerste rukkie te help. Miskien het oom Alwyn ook so gedink, en sien hy nie kans vir vyftigduisend rand nie. Hy is ’n vermoënde man, weet sy, maar het darem self ’n gesin en sal seker nie duisende rande rond en bont en dit nog renteloos kan uitdeel nie. Maar voordat sy nog kan praat en hom verseker dat sy dit nie van hom verwag nie, knik hy sy kop en sê kortaf: “Ek sal dit reël. Hoe gou wil jy die geld hê, Deidre?”

      Dis egter weer Norman wat antwoord: “So gou moontlik, asseblief. Ons vertrek môremiddag na Johannesburg.”

      “So gou?” Alwyn Bruwer se oë is nou regtig bekommerd. “Is dit nie ’n bietjie gou nie, my kind? Wil jy nie eers ’n rukkie hê om die saak weer goed te oordink nie?”

      Toe Norman Zietsman se stem weer opklink, hierdie keer ’n bietjie minder glad en vriendelik, voel dit vir die ou prokureur asof hy die man agter sy nek kan gryp en hom by die deur uitgooi. Hy gee Deidre geen kans om self vrae te beantwoord nie.

      “Ek dink nie daar is iets verder om oor te besluit nie. Deidre het finaal besluit dat sy haar stem gaan ontwikkel. Hoe gouer ons daarmee begin, hoe gouer is die sukses daar.”

      Toe Norman dan ook opstaan om te kenne te gee dat die besoek aan Deidre se prokureur verby is, is sy ook maar verplig om sy voorbeeld te volg, hoewel sy graag nog ’n rukkie met oom Alwyn sou wou gesels. Dis Norman wat haar daarop wys dat sy sommer vir meneer Bruwer moet groet, aangesien hulle hom nie weer sal sien voordat hulle vertrek nie. Oom Alwyn se oë ontmoet Deidre se blik bekommerd, sy stem onvas.

      “Dit is jammer dat jy so haastig is, my kind. Die tante sou jou ook graag wou groet, maar ongelukkig is sy vir twee weke na haar ma. Anders sou ons jou graag vir ete wou oornooi om op die regte manier van jou afskeid te neem.”

      Deidre ondervind nou moeite met haar stem.

      “Dankie, oom Alwyn. Sê baie groete aan haar en baie, baie dankie vir al oom se liefde, vriendelikheid en hulp in die verlede.” Sy gooi haar arms spontaan om sy nek en soen hom innig. “O, ek gaan vreeslik verlang!”

      Hy druk haar ’n oomblik vas en probeer glimlag.

      “Jy gaan darem nie landuit nie, my kind. En jy weet dat as jy wil terugkom, ons hier is om jou terug te verwelkom. Daar is so iets soos briewe ook. Laat ons weet hoe dit gaan.”

      “Natuurlik!” Sy draai om en haar gelaat verstil toe sy die man in die deur gewaar.

      “Neil!” Oom Alwyn lyk openlik verlig.

      Neil kom stadig nader, sy gesig onpeilbaar. Hy groet met ’n knik van die kop en ’n oomblik rus sy oë op Deidre se nat wange. Dan kyk hy vraend na die ouer man terwyl hy die derde man nog ignoreer.

      Oom Alwyn verduidelik: “Ons was net besig om afskeid te neem. Deidre vertrek môremiddag Johannesburg toe.”

      “Ek verstaan. Dan moet ek ook sommer van die geleentheid gebruik maak om totsiens te sê. Ek sal haar dan ook nie weer te siene kry nie.”

      Deidre kyk hom met groot oë aan en oom Alwyn se blik is skerp, ontevrede.

      “Jy bedoel … jy gaan nie eens kom groet nie?” vra Deidre onwillekeurig, teen al haar beste voornemens in.

      Sy blik rus koel op haar.

      “Geen nodigheid om na jou woonstel te kom as ons sommer nou kan klaar groet nie, nie waar nie?”

      Haar wange verbleek merkbaar en ’n oomblik kan sy hom net verslae aanstaar. Dan sien die drie mans hoe sy haar skouertjies doelbewus agteroor gooi en die blou oë kyk vas in syne op.

      “Nee, natuurlik nie.” Sy hou haar hand uit. “Totsiens, Neil. Dankie vir … alles.”

      Hy neem haar hand, maar trek dan syne so vinnig terug asof die aanraking hom brand. “Is jou woordkeuse nie nou dalk verkeerd nie? Dit moet seker vaarwel wees.”

      Alwyn Bruwer tree nou tussenbeide, en dit lyk, te oordeel na die blik wat hy na Neil werp, of hy lus het om moord te pleeg.

      “Vaarwel is glad nie nodig nie. Natuurlik sal ons Deidre weer sien. Sy gaan mos weer eendag terugkom, nie waar nie?”

      “Al kom sy ook terug, twyfel ek of ons twee se paaie weer sal kruis. Ek kan nie dink dat ek as ’n droë, oninteressante wetenskaplike iets te sê sal hê vir ’n beroemde sangeres nie.”

      Sy oë priem in hare. “In elk geval, as jy dalk eendag weer met ou vriende wil kontak maak, of net laat weet hoe suksesvol jy is, kan jy my deur oom Alwyn opspoor. Hy sal altyd weet waar ek my bevind. Alle voorspoed met die maanlanding.”

      Oom Alwyn kyk hom verbaas aan. “Die maanlanding? Wat beteken dit?”

      Neil se oë het nog nie ’n oomblik van Deidre se gesiggie gewyk nie. Hy glimlag nou, ’n harde glimlaggie, en sê in daardie veraf stemtoon: “Deidre weet waarvan ek praat.”

      Deidre weet dat sy so gou moontlik hier moet wegkom. As sy ’n sekonde langer na hierdie vreemde, kille, haatlike Neil, so heeltemal anders as die Neil waaraan sy gewoond is, moet luister, sal iets in haar breek. En sy sterf liewer as om hom die bevrediging te gee dat hy moet sien hoe diep sy woorde haar seermaak. Haar lippe is styf en haar keel pyn van ingehoue snikke toe sy antwoord.

      “Dankie. Ek sal aan jou dink … wanneer ek op die maan aankom.”

      Hy buig spottend, formeel.

      “Dankie … maar ek twyfel of jy my dan nog sal onthou.”

      Sonder ’n verdere woord of ’n enkele terugblik na oom Alwyn, stap Deidre die kantoor uit, gevolg deur haar nuwe bestuurder, en nie een van die mans dink eens daaraan dat hy Deidre sonder ’n groet volg nie.

      Toe Deidre in haar motortjie klim en die deur hard toeklap, weet sy dat sy die laaste stap geneem het, weet sy dat sy enkele sekondes gelede finaal afskeid geneem het van ’n fase in haar lewe. ’n Deur het agter haar toegeklap. Al wat vir haar oorbly, is om vorentoe te gaan … en te hoop vir die beste.

      3

      Die huishulp draai om na die meisie in die bed.

      “Sal ek die gordyne laat oopstaan of moet ek dit ’n bietjie toetrek?”

      “Trek dit ’n bietjie toe, Lucy, asseblief. Die lig is te skerp vir my oë. Wanneer het die dokter gesê kom hy weer?” vra die meisie in ’n krakerige stem.

      “Vyfuur se kant. Dis oor ’n halfuur. Is daar nog iets wat ek vir juffrou Deidre kan doen of bring?”

      “Nee dankie, Lucy. Geniet die aand. Ek sal heeltemal goed regkom. Meneer Norman sal ook netnou hier wees.”

      “Ek gee glad nie om om te bly nie, juffrou Deidre. Juffrou lyk vir my glad nie goed nie,” laat die jong bruin vrou hoor, maar Deidre is baie beslis.

      Toe die deur eindelik agter Lucy toegaan, lê en luister Deidre hoe haar voetstappe wegsterf. Die stilte sak swaar op haar toe. Sy lê roerloos met geslote oë.

      ’n Eensaamheid soos sy nog selde die afgelope tyd ervaar het, neem skielik van haar besit. Van ver onder kom die geluid van die woelige verkeer van die Goudstad dof na haar toe aangeswewe, maar hier bo in haar woonstel is dit stil en eensaam. Meteens

Скачать книгу