Ena Murray Keur 8. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray страница 20

Ena Murray Keur 8 - Ena Murray

Скачать книгу

hy vertrou Anton nogtans nie. Daar moet iets agter skuil. Hy konsentreer op die geluide wat uit die vertrek kom, maar die stemme is gedemp, sodat hy nie kan uitmaak wat Anton en hul gasheer gesels nie. Hy wens dat hy die moed bymekaar kan skraap om weer by die deur in te loer, maar hy durf Anton de Woud se verrassende goedgesindheid nie ’n tweede keer beproef nie. Die gevaar bestaan ook dat hy dit dalk ongelukkig kan tref om in hul gasheer se gesig vas te kyk, en hy twyfel of dié heer geneë sal voel om sy teenwoordigheid te ignoreer.

      Hoewel hy net ’n paar minute staan en wag voordat hy die twee mans se voetstappe in die teenoorgestelde rigting hoor wegsterf, voel dit vir hom soos ure. Hy wag nog ’n oomblik en dan loer hy die tweede keer na binne. Toe hy seker is dat daar niemand binne is nie, kyk hy die vertrek vinnig deur.

      Hy weet self nie wat hy eintlik verwag het nie, maar dis sekerlik nie die toneel wat hom nou begroet nie. Dis ’n redelike groot vertrek – of liewer grot, want net soos die tonnel is die mure en die gekoepelde dak van soliede klip. Die vloer is egter nie so ru soos dié van die tonnel nie. ’n Gladde sementblad is oor die ongelyk oppervlak gegooi. ’n Sterk elektriese lig hang in die middel van die plafon, en die dowwe suisgeluid dui op lugreëling. Die lug is egter warm en ietwat klam, hoewel twee groot waaiers in die vertrek aangeskakel is. Hierdie dinge merk Carlyle net terloops op. Wat sy aandag gevange hou en ’n diepe frons van algehele verbasing op sy voorkop dwing, is die meubilering van die vertrek. Groot, swaar toonbanke staan oral rond, gepak met dosyne botteltjies, glasflesse, klemme, retortstanders en glasbuise van alle groottes en vorms. Dit dring in ’n flitsende sekonde tot hom deur dat hy nou na ’n baie goed toegeruste laboratorium kyk, en ’n groot vrees pak hom beet. Wat die idee van hierdie verborge laboratorium in die hart van die rantjie presies is, weet hy nie, maar hy voel aan dat dit in noue verband staan met die vyf mense wat op so ’n geheimsinnige wyse na hierdie eiland genooi is om teen ’n buitensporige vergoeding ’n maand lank vakansie te kom hou. In sy verbeelding sien hy hoe die eerste paar stukkies van die legkaart inmekaarskuiwe, en hoewel hy nog nie die vaagste idee kan vorm wat die werklike patroon is nie, voel hy instinktief beangs. Die blink glinstering van die proefbuise vul hom met ’n magtelose vrees, en die aantekeningboek wat eenkant oop lê, is vir hom ’n duistere bedreiging.

      In die teenoorgestelde muur is daar nog ’n deur wat vermoedelik dieper die rantjie in lei, en dis daardeur dat Anton en hul gasheer verdwyn het. Die deur is toe, en Carlyle ag dit redelik veilig om die vertrek intensiewer te ondersoek. Hoewel hy ’n hele rukkie tussen die proefbuise en retortstanders vertoef en selfs sy blik oor syfers en letters in die aantekeningboek laat dwaal, raak hy niks wyser nie. Dit bly vir hom ’n duistere geheim.

      Skielik hoor hy ’n geluid by die toe deur. ’n Oomblik staan hy bewegingloos. Dan duik hy vinnig agter een van die toonbanke in en wag ademloos, terwyl hy bid dat hy nie ontdek moet word nie. Dis Anton en hul gasheer wat terugkeer, en hy hoor die vreemde stem sê: “Wel, dis baie kortliks wat ek in die oog het. Tot dusver was al die toetse nog baie bevredigend. Die tyd alleen sal egter leer of ek met volle oortuiging kan sê dat dit honderd persent geslaag het. En die dag wanneer dit gebeur …”

      Soos ’n vorige keer hoor Carlyle weer die histeriese noot in sy lag, en dis of die spanning binne-in hom breekpunt bereik. Hy kan skaars die begeerte onderdruk om bo-oor die toonbank te loer, maar die gasheer se stem klink skaars twee tree van hom af, en hy durf dit nie waag nie.

      Dan hoor hy Anton se kalm stem: “Wat gaan u dan doen, professor? Die wêreld bekend stel aan u wonderlike …”

      “O nee! Nee! Nie aan die wêreld nie. Net aan my eie volk. Dis waarvoor ek die afgelope ses jaar gewerk het – dag en nag. Om my volk die magtigste, die heersers van die aardbol te maak. Dit was nog altyd my ideaal – en eindelik, eindelik ná soveel jare, ná soveel ure van uitputtende arbeid, is daardie ideaal nou in sig. En as my volk eers behandel is, sal hy die res van die wêreld onder sy voete vertrap. Hy sal bo-oor hulle loop, hulle oorwin soos wat ’n mens bo-op ’n mier trap en nie eens daarvan bewus is nie.”

      ’n Waansinnige lag stort oor die spreker se lippe. “My mense sal die reuse wees – en die res van die wêreld dwergies. Ons sal met hulle speel asof hulle dooie poppe is. Die aarde en alles wat in en op hom is, sal aan ons behoort. Ons sal die bevele uitdeel, en die res van die mensdom sal moet gehoorsaam. Niemand sal ons durf keer of aanraak sonder om verpletter te word nie. Ons sal onoorwinlik wees – ons mag onbeperk.”

      “U is dus besig om in hierdie laboratorium ’n supermenseras te teel?” Anton se stem klink ook opgewonde, en Carlyle frons diep.

      “Ja, my jonge vriend. Ek is. Jy het reeds met jou eie oë aanskou hoe geslaag my proewe tot dusver was. Dis nog net die finale toets wat voorlê …”

      “En as dit ook suksesvol is, sal u die grootste man wees wat die eeue nog opgelewer het, professor. Ek staan verslae voor u briljante brein. U is ’n genie soos daar nog nooit was nie, en ek wens u alle sukses toe. Ek kan skaars wag om die uitslag van u finale toets te verneem. U moet my belowe dat u my dadelik sal laat weet sodra u sekerheid het.”

      In die kort stilte wat volg, hou Carlyle sy asem op. Wat hy in hierdie paar sekondes gehoor het, is hy nog besig om te verwerk. Hy besef nog nie die omvang daarvan nie. Maar aan die professor se woorde en stemklank kon Carlyle agterkom dat hul gasheer fanatiek oor sy ideaal is. En Anton se stem het ook buitengewoon opgewonde geklink, asof hy deur die entoesiasme van die professor aangesteek is.

      Dan hoor Carlyle sy gasheer weer digby hom praat, maar nou is sy stem sonder gevoel, kalm en dodelik gevaarlik.

      “Ek verstaan nie jou houding oor dié saak nie, De Woud. Jy begryp seker wat hierdie ideaal van my ook vir jou inhou.”

      “Maar natuurlik! Maar ek dink nie eens daaraan nie. Ek dink aan die resultate, hoe wonderlik – ongelooflik wonderlik – dit sal wees as u ’n soort supermenseras kan opbou. Dit sal vir my ’n enorme eer wees om tot die vervulling van daardie ideaal te kan bydra. Ek …” Sy stem breek af asof hy net nie woorde kan vind nie. “Ek dink dis wonderlik.”

      “Is jy werklik ernstig?” Daar is ’n agterdogtige klank in die professor se stem, maar Anton klink baie ernstig toe hy antwoord: “Ja, ek is. Ek wens ek het genoeg wetenskaplike kennis gehad sodat ek u kon help.”

      Daar heers ’n oomblik stilte en Carlyle sien voor sy geestesoog hoe die twee mans mekaar staan en takseer. Dan kom die professor se stem afgemete: “Kyk, De Woud, ek het hulp nodig. Maar jy kan begryp dat dit vir my onmoontlik is om hulp van buite te kry. As jy dan werklik so belangstel in hierdie … e … saak …”

      “Dit sal vir my ’n groot eer wees, professor!”

      “Ons praat later weer. Ek sal nou eers moet gaan. Dis tyd vir inspuitings. Ek sal die deur vir jou oopmaak. Goeienag. En dankie vir jou besoek en belangstelling. Maar onthou, De Woud, jy het nie nou met Carlyle Faure te doen nie. Ek is geen gek nie. As jou woorde van netnou vals was, en jy geveins het oor alles wat jy hier gesien het, gaan dit jou berou, my jonge vriend.”

      Carlyle kan die glimlag in Anton se stem hoor.

      “Ek kan heeltemal begryp dat u my nog nie vertrou nie, professor. Maar as u my die kans wil gee, sal ek u toon dat ek heeltemal opreg is in my bewondering.”

      “Nou goed, De Woud. Ons sal sien. Jy sal nou moet gaan.”

      “Goeienag, professor. En baie, baie dankie.”

      Carlyle hoor voetstappe in die teenoorgestelde rigting gaan en hy waag dit nou om bo-oor die toonbank te loer. Tot sy grootste teleurstelling is daar niks van die professor te sien nie. Hy moet by die deur, wat dieper die rantjie in lei, verdwyn het. Anton de Woud staan egter vyf tree voor hom, sy oë stip op hom gerig. Hy praat nie, maar met sy regterhand

Скачать книгу