Ena Murray Keur 8. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray страница 19

Ena Murray Keur 8 - Ena Murray

Скачать книгу

Toe hy deur is, draai hy om en hou die swaar ysterhekke stip dop, wagtend dat hulle weer moet toeswaai. Maar dit gebeur nie. Hy loop versigtig nader en probeer die een toestoot, maar dit is so goed asof hy met ’n onbeweeglike berg te doen het. Carlyle is verplig om terug te staan, verslae en heeltemal verward.

      Sy oë flits na die toring. Hy het van die begin af die teorie dat die oop- en toegaan van die hekke vanuit die toring met ’n elektriese stroom of iets soortgelyks beheer word. Maar hy begin nou daaraan twyfel. Hy kan byna sweer dat daar niemand op hierdie oomblik in die toring is nie, anders sou hy al lankal opgemerk gewees het. Dus is die hekke nie hierdie keer uit die toring beheer nie. Maar hoe …? Hy skud sy kop en draai om.

      Hy durf nie langer tyd verspil nie. Terwyl hy vinnig in die donkerte voor hom verdwyn, laat die gedagte dat die hekke agter hom oop is hom ietwat geruster voel.

      Carlyle voel die opgewondenheid in hom opstoot, en versnel sy pas. Ná sowat vyftig meter merk hy op dat die voetpaadjie links wegswenk en reguit in die rigting van ’n koppie slinger. Die lae rant het hy al vantevore, sonder veel belangstelling, vanuit sy kamer beskou. Een ding waaroor hy baie verlig voel, is die feit dat hy met sekerheid weet hy beweeg in dieselfde rigting as Anton de Woud. Die hoë draadheining alkante verhoed dat Anton in ’n ander rigting kon wegdraai. Hoe nader hy aan die voet van die rant kom, hoe stadiger en versigtiger beweeg hy – hy wil nie graag onverhoeds in ’n val beland of miskien teen iemand vasloop nie.

      Hy kom ’n oomblik tot stilstand en volg met sy oë die paadjie, wat nog steeds slingerend en op party plekke heeltemal onsigbaar, na die koppie toe lei. Hy tel sy een voet op en sit dit weer versigtig neer, sodat hy nie miskien ’n los takkie of klip raaktrap nie. Skielik sien hy hoe ’n bos, of wat hy aangesien het vir ’n bos, ’n paar tree voor hom in beweging kom. Hy staan ademloos en is diep dankbaar vir die donker skaduwees wat hom beskermend omring.

      Hy slaak byna hoorbaar ’n sug van verligting toe hy bemerk dat die persoon hom nie opgemerk het nie en net so versigtig soos hy vorentoe beweeg. Dis te donker om die gestalte presies uit te ken, maar Carlyle hoop dat dit Anton de Woud is.

      Telkens gaan staan die persoon stil en luister gespanne. Dan wag Carlyle ademloos totdat hy weer beweeg. Die minute sleur tergend langsaam verby, en nog steeds sluip hulle skuins teen die rantjie uit. Hulle is reeds halfpad teen die rant uit. Skielik breek die donkerte voor hulle oop. Kaal, onooglike klipbankrotse glinster voor hulle in die maanlig, en dis of die paadjie hier doodloop. Besluiteloos kyk Carlyle om hom rond en wag dat die vreemdeling eerste moet kies watter koers nou ingeslaan moet word.

      Dan verstil Carlyle se asemhaling ’n oomblik terwyl die persoon uit die skaduwee na vore loop en tastend teen die rots af beweeg. Dis Anton de Woud – en net soos by die hekke wek sy gebukkende houding die indruk dat hy weer na iets soek.

      Die volgende oomblik wip Carlyle soos hy skrik toe die geamuseerde, bekende laggie van hul gasheer die stilte verbreek. Vervaard kyk hy om hom rond, maar gewaar niemand nie.

      Dan verstil die gelag en ’n stem sê: “Jy het lank gedraai. Ek wag al lank op jou.”

      Carlyle staan versteen. Praat die gasheer met hom of met Anton? Hy voel sy nekhare rys. Een van hulle is dus nog nie opgemerk nie, maar watter een?

      “Kom gerus binne.”

      Die uitnodiging klink onheilspellend in hierdie stil uur van die nag.

      Werktuiglik gee Carlyle ’n tree vorentoe toe ’n rotsblok stadig begin beweeg totdat ’n opening soos ’n swart, leë oog gelaat word. Ver, diep agterin die ingewande van die lae rant flits ’n rooi liggie aan en af, asof dit ’n waarskuwing uitsein.

      “Toe dan, man! Roer jou! Ek gaan nie heelnag die deur vir jou oophou nie,” kom die stem van hul gasheer weer, nou ongeduldig.

      Carlyle se bene weier om te beweeg. Dan sien hy hoe Anton de Woud skielik vorentoe stap en deur die donker opening na binne verdwyn.

      Net ’n oomblik aarsel Carlyle. Dan beweeg hy ook vinnig. Op hierdie oomblik is daar by hom geen gedagte meer aan gevaar nie. Hy weet net dat hy ook by daardie opening moet ingaan. Vinnig maar geruisloos gly hy soos ’n donker skaduwee nader. Tot sy ontsteltenis sien hy dat die rots stadig na sy regte posisie terugskuif. Daar is nog net ’n smal openinkie. Hy trek sy maag in en dwing hom dan deur die nou spleet. Toe hy eindelik binnekant staan en die sweet van sy voorkop afvee, sien hy hoe die laaste stukkie maanlignag verdwyn en die rots solied teen die kant vasdruk. Om hom is verstikkende duisternis.

      Dan moet hy sy lyf vinnig so plat moontlik teen die rotsrif agter sy rug aandruk. Daar voor waar die rooi liggie hang, het ’n deur skielik oopgegaan en ’n helder elektriese ligbaan val die lang tonnel binne. Indien daar iemand in die opening verskyn en oor Anton de Woud se skouer kyk, sal hy dadelik raakgesien word. Carlyle hou sy asem op.

      Hiervandaan is Anton se gestalte duidelik in die helder lig afgeteken, en Carlyle sien hoe hy eers ’n oomblik huiwer en dan oor die drumpel stap.

      “Welkom! Jy het so lank gedraai dat ek begin wonder het of jy ooit hier sou uitkom. Maar kom binne.”

      Carlyle sien hoe Anton sy hand uitsteek, asof hy iemand groet. Die tweede persoon is nie hiervandaan sigbaar nie, maar hy weet instinktief dat dit hul gasheer is.

      Sy oë vernou. Dus verkeer Anton de Woud en hul gasheer op vriendskaplike voet. Sy vermoedens was dus korrek. Hy wonder met ’n siniese glimlag wat Irma sal sê as hy haar hiervan vertel. Dit laat hom meteens onthou dat hy op die een of ander manier weer uit hierdie onderaardse kerker sal moet kom. Hy tas met sy vingerpunte teen die rotsformasie agter hom, maar soos die hekke bly dit onbeweeglik. Hierdie rotsblok word dus waarskynlik op dieselfde wyse as die hekke beheer … Hierdie feit laat ’n diepe onrus in hom opstoot en hy kyk soekend om hom. Aan weerskante strek die tonnelmure sowat dertig tree tot by die deuropening. Dis soliede klip en aan die bokant met ’n ruwe vloer geboog.

      Carlyle besef dat hy net in een rigting kan beweeg, en dis vorentoe – daar waar Anton saam met hul gasheer verdwyn het.

      Versigtig, terwyl hy selfs deur sy mond asemhaal om nie die geringste geluid te maak nie, begin hy voetjie vir voetjie in die tonnel afsluip, elke sintuig tot die uiterste toe gespan.

      Hy beweeg sy tong oor sy droë lippe toe hy by die deur tot stilstand kom. Bokant sy kop het die rooi liggie ophou flits. Hy loer versigtig na binne.

      Dan verander hy in ’n soutpilaar van vrees. Anton de Woud staan enkele treë voor hom. Soos dit lyk, is sy oë gerig op iemand wat nie vir Carlyle van hier af sigbaar is nie. Dan kyk Anton skielik om, juis op daardie oomblik dat Carlyle om die hoek loer.

      Nie ’n spier op sy gesig verraai enige gevoel nie. Maar toe Carlyle in sy oë opkyk, weet hy dat Anton de Woud hom gesien en herken het … Carlyle besef: verraai Anton hom, staar hy die dood in die gesig.

      7

      Versteen staar Carlyle terug na Anton. Wat gaan hy doen? Hy is selfs magteloos om uit die gebukkende houding orent te kom en hy staal hom onbewustelik vir wat voorlê.

      Dan kry hy die grootste skok van sy lewe toe Anton se oë terugdraai na die onbekende persoon voor hom. In werklikheid het Anton se blik net ’n vlugtige sekonde op hom gerus, maar vir Carlyle het dit soos eeue gevoel. Hy voel swak van verligting terwyl die besef tot hom deurdring dat Anton hom nie gaan verraai nie. Op hierdie oomblik is sy verligting so groot dat hy homself nie dadelik die rede daarvoor afvra nie. Hy weet net dat hy, vir die oomblik altans, veilig is. Hy voel hoe sy bene onder hom bewe toe hy regop kom, en sy hand beweeg rukkend oor sy voorkop waar die sweet in

Скачать книгу