Ena Murray Keur 8. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray страница 18
Wie is Anton de Woud werklik, vra sy haarself magteloos af. Wat is sy rol in al hierdie vreemde gebeure?
“Irma, glo jy werklik ook soos Carlyle Faure dat ek met al hierdie dinge iets te doen het?” vra hy reguit. En hoewel die vrees ’n knop in haar keel vorm, laat sy oë haar nie toe om iets anders as die waarheid te praat nie.
“Ja, Anton.”
Hy kyk haar stip aan, sy mond meteens streng, ongenaakbaar. “En dit sal seker nie help as ek jou op my woord van eer die versekering gee dat dit nie die geval is nie?” sê-vra hy.
Sy antwoord hakkelend: “Dis baie gevra, Anton. As … as jy my vertel wie jy werklik is en hoekom jy hier is, sal … sal ek miskien jou vreemde optrede verstaan.”
“Maar anders sal jy eerder na Carlyle Faure luister en my verdoem.” Hy swyg ’n oomblik, trek skielik sy arms van haar af weg en staan op. “Nou maar goed, Irma. As jy dan Carlyle Faure se woord bo myne verkies, dan is dit tot daarnatoe. Een ding moet jy my egter belowe, asseblief.”
Sy kyk vraend op, en hy vervolg op afgemete toon: “As die dag aanbreek dat jy besef jy was verkeerd, dat ek nie is wat jy dink ek is nie, moet jy hier plegtig belowe om my vir jou wantroue om verskoning te vra. Is dit te veel gevra?”
“Nee. Ek … belowe.”
“Dankie. Dit kan gouer wees as wat jy dink.”
Sy stem is ongenaakbaar. Hy talm nie langer nie, maar draai kort op sy hakke om en verlaat haar kamer, terwyl sy hom net verslae kan agternastaar.
Sy is byna dadelik spyt dat sy so eerlik aan hom erken het sy vertrou hom nie. Hoewel sy hom vrees, wek sy teenwoordigheid altyd ’n gevoel van veiligheid by haar.
Maar dis nie net háár gedagtes wat om Anton de Woud bly sirkel nie. Carlyle Faure het nie na sy kamer teruggekeer om sy onderbroke nagrus voort te sit nie. Hy het met sy oor teen die muur gestaan en luister na die voetstappe totdat hulle weggesterf het. Toe het hy sy deur op ’n skrefie oopgestoot en gesien hoe Anton de Woud weer by Irma se slaapkamer in verdwyn. Hy het ’n oomblik gewag en toe hy die gedempte stemme hoor, het hy nader gesluip. Met sy lyf styf teen die gangmuur gedruk, het hy die gesprek tussen Irma en Anton afgeluister. Hy het die gode gedank dat Anton, toe hy teruggekom het, blykbaar so ontstig was dat hy nie links of regs gekyk het nie, maar reguit na sy kamer gegaan het – want anders sou hy sekerlik die donker skaduwee teen die muur gewaar het.
Carlyle het versigtig vorentoe begin beweeg en toe vinnig skuiling agter Irma se deurkosyn gesoek, want Anton se kamerdeur het skielik weer oopgegaan …
Carlyle span sy oë in om stip in daardie rigting te staar, terwyl hy sy asem ophou. Hy weet, sonder dat hy hom sien, dat Anton de Woud in sy kamerdeur staan. ’n Lang oomblik wag hy roerloos, terwyl die stilte en duisternis om hulle soos ’n versmorende newel hang. Dan hoor Carlyle hoe die deur skaars hoorbaar toegetrek word en hy waag dit om vinnig om die deurkosyn te loer. ’n Lang, donker skaduwee sluip geruisloos die gang af, in die rigting van die woonvertrek. ’n Oomblik later verdwyn dit, en Carlyle beweeg nou eers weer die eerste keer. Toe hy versigtig die deur oopstoot, gewaar hy dat die voordeur op ’n skrefie oopstaan en ’n flou maanligstreep oor die vloer val.
Hy huiwer. Hy weet dat dit baie gewaag is, en dat Anton de Woud hom heel moontlik aan die ander kant van die deur staan en inwag. Maar hy durf nie langer versuim nie, uit vrees dat hy hom heeltemal uit die oog sal verloor – en vanaand is dit ’n obsessie by hom om homself nou eenmaal ten volle te oortuig dat sy agterdog jeens hierdie man nie net blote antagonisme is nie.
Daarom beweeg hy nou vinnig op sy tone nader na die voordeur. Hy ruk dit vinnig oop, terwyl hy laag buk om ’n moontlike hou teen sy kop te ontduik. Maar daar is niemand nie. Hy kyk vinnig om hom rond en instinktief beweeg hy dan versigtig in die rigting van die toring. Hoewel hy sy lyf so styf moontlik teen die muur druk, weet hy dat hy duidelik sigbaar behoort te wees vir wie ook al in sy rigting kyk.
Hy verwens die flou skynsel van die maan. Toe hy eindelik die hoek bereik, sien hy sowat honderd meter voor hom ’n beweging langs die draad. Hy sug verlig, want hy het net begin dink dat hy die spoor byster geraak het. Maar die stuk aarde tot by die agterste twee ysterhekke, identies aan die twee aan die voorkant, is kaal en onbebos en lê bleekwit in die maanlig.
Carlyle kyk op en sien dat hy kort onderkant een van die vensters in die toring staan, maar die oorhang van die dak werp ’n skaduwee oor die muur. Hy besef dat, al sou Anton de Woud of selfs iemand uit die toring, in sy rigting kyk, hulle hom nie sommer sal opmerk nie.
Met skrefiesoë span hy hom in om die bewegings by die hek te volg. Waarna sou die man soek? wonder hy verbaas. Die gestalte by die hek buk telkens neer op sy hurke, asof hy iets op die grond bestudeer.
Meteens verstyf die spiere in Carlyle se rug toe hy die tweede keer sien hoe die twee swaar ysterhekke, asof deur ’n spookhand, oopgedruk word. Die besef flits deur sy kop dat Anton de Woud weet hoe om die hekke oop te kry, maar dat hy voorgee dat hy net so ’n gevangene hier is as hulle ander. En dit terwyl Carlyle nou met sy eie oë sien hoe hy kalm deurstap en staan en toekyk terwyl die hekke weer op dieselfde geheimsinnige wyse toeskuif.
As Carlyle ooit die geringste twyfel gehad het dat Anton de Woud iets met al hierdie geheimsinnige dinge te doen het, dan is dit nou vir goed die nek ingeslaan.
Van anderkant die hek af begin die kokerbome en bosse in digte ondeurdringbaarheid groei, en toe Carlyle sy oë van die hek af neem en na Anton soek, het hy reeds in die donker skaduwees verdwyn.
Carlyle wag nie langer nie. Weer is hy verplig om die risiko te loop dat iemand hom sal gewaar. Soos ’n weerligstraal skiet hy vanuit die donkerte oor die oop stuk grond. Hy durf nie Anton de Woud se spoor verloor nie, maar die hekke keer hom en sy hande span in magtelose woede om die sterk ysterkrulle terwyl hy na die digte bosse aan die ander kant van die hek staar.
Hy verstyf merkbaar toe ’n sagte, geamuseerde laggie skielik uit die donkerte voor hom opklink. Dan hoor hy duidelik hoe Anton de Woud begin wegstap. Hy maak sy mond oop, maar maak dit dan weer toe sonder ’n geluid. Om dreigemente te uiter sal geensins help nie. Daarvoor is die heer De Woud te seker van sy saak. Om hier voor die hek te staan en raas, sal ook niks help nie. Dit kan bloot veroorsaak dat hul gasheer bewus word van die feit dat een van sy kuiergaste buite aan die ronddwaal is. Benoud wonder hy of Anton hom nie tog sal gaan verraai nie, en hy kners op sy tande terwyl hy van die hek af wegdraai en met onstuimige oë die omgewing bespied. Maar alles is nog rustig.
Carlyle laat sy blik oor die toring hier reg voor hom gly. Miskien lê die geheim daar.
’n Oomblik speel hy met die gedagte om by een van die vensters te probeer inbreek, maar dan sien hy daarvan af.
Hy stamp met sy voet op die grond om ’n bietjie aan sy frustrasie uiting te gee. Hy was ’n gek. Hy moes Anton nie die kans gegee het om deur die hekke te gaan nie. Hy moes hom net daar oorrompel en gedwing het om met alles vorendag te kom. Maar hy besef ook dat dit hom nie sal baat om homself te staan en verwyt oor wat hy moes gedoen het nie. Die hekke sal nie daarvan oopgaan nie.
Hy draai weer om, en die volgende oomblik val sy mond letterlik oop. Dan vee hy vinnig oor sy oë, asof hy bang is dat die maanlignag hom parte speel. Maar toe hy weer stip kyk, sien hy dit duidelik – die twee groot hekke staan wawyd oop, nooi hom byna om deur te loop.
Verward en terselfdertyd onrustig kyk hy om hom rond. Hoe het hierdie hekke oopgekom? Wie het hulle oopgemaak? Dit kon tog nie sommer vanself gebeur het nie!