Louisa du Toit Omnibus 10. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit страница 14
Die bed is nie meer so broeiend soos in hoogsomer nie. Buiteslaap is nie meer nodig nie, die seiltjies sal pakkamer toe gaan en die matrasse en kateltjies ook, regop teen die growwe muur tot volgende somer. Hoe intens het Elzar belang gestel in die drie “spookbedjies” met die wit seil oor. Hoe het hy gewens dat hy dit ook kan doen. Hulle het in enkele minute meer gesels as wat sy woordeliks kan herroep.
Maar sy onthou dat hy gevra het of sy vir hom ’n stukkie wysheid het. Hy het gesê in ’n goeie boek is daar altyd iets wat op die gewone lewe van toepassing gemaak kan word. Hy het sy kommer uitgestort oor ’n toekoms saam met sy aanstaande. Maar hy is tog seker ook lief vir haar. Dalk moet sy hierdie stukkie wysheid van Ilona aan hom oordra: “You didn’t fight the waves that carried you.” Hy moet hom oorgee aan die golwe wat hom voortvoer. En sy moet ook.
Maar as sy ophou veg teen die golwe, wat kan nie dan alles gebeur nie? Tussen haar en Dawid? Sy sou ophou om hom uit haar gedagtes te wil werk. Dit help in elk geval nie. Hoe meer sy probeer ophou dink aan hom, hoe meer dink sy aan hom.
Dalk moet sy eerder aan Elzar dink. Dis veiliger, gemoedeliker. Want dit sal tog nooit verder as gesels gaan nie. Hulle lewe in aparte wêrelde. Maar hulle deel die raakpunt van ’n groot lewensprobleem: sy met haar geheime liefde, hy met sy voortreflike liefde.
Môre sal sy weer winkel toe gaan, want die tyd is nog nie ryp om daar pad te gee nie. Sy sal haar geheime gedagtes diep wegsluit. Sy sal met mense praat, hulle vriendelik oor die weg help. Heel eerste sal Dawid oopsluit. Hy dra ’n oopnekhemp en sy hare wil nie plat lê by die kroontjie nie. As sy skoenveter losgaan, trap hy op ’n paraffienblik en maak dit weer vas. As hy uitreken, krap hy teen sy kop met die agterkant van die potlood. As hy ingedagte is, staan hy en uitkyk na die vaal bult waarteen die groot verandahuis staan. As hy vir Molly sien aankom, byt hy so effens aan die binnekant van sy lip. As hy sy kind optel, hou hy haar met die een arm vas en vee met sy ander hand oor haar gesiggie, ingeval daar klammigheid is.
Sy weet alles wat Dawid doen, sonder om te kyk.
As oom Daan uit die winkel gaan, is sy alleen met Dawid, en dit is vir haar genoeg, al staan hy net ’n entjie van haar af en gesels met sy een hand in die sy en die ander hand op die toonbank. Hy het nooit weer aan haar hand probeer raak nie, al moet hy haar meermale met ’n nuwe blik of sak of kartonboks help.
Sy wil niks meer hê nie, want sy is nie op meer geregtig nie. Maar wat as genoeg nie meer genoeg is nie? Kan ’n mens maar altyd tevrede bly met sulke ou krummeltjies?
Is Elzar Enslin se probleem groter as hare, of kleiner? Hy het lief en sy liefde word beantwoord. Is dit nie die belangrikste nie?
5
Elzar Enslin hou woord, en slaan so tien dae later by Duraan Kontantwinkel uit. Hy kom toiletware soek, en oom Daan vertolk dit op geen ander manier nie as dat hy die dominee tevrede moet stel, terwyl hy hom ook geselskap hou. Nie dat oom Daan anders kan nie, want hy is deur en deur ordentlik.
Bina het gehoop dat hy sal kom, en met haar gesels, selfs lag, sodat Dawid net een keer sal voel hoe dit is om buite te staan. Maar nou is Dawid nie eers hier nie, hy moes dorp toe met die bakkie. Die telefoon lui, en Bina moet vir oom Daan kom roep, sodat hy haar in beheer van Elzar se behoeftes stel. Hy sê net in die verbyloop saggies aan haar: “Vyftien persent, hoor?” Sy brilglase blink van tevredenheid. Dis ’n groot toegewing, want hy gee normaalweg tien persent afslag, om kopers aan te moedig om kontant te koop, anders kom dit op die boek en hy eindig met slegte skuld. Toe hy klaar is op die foon, kom daar mense by die slaghuisdeel in en hy moet soontoe haas.
Elzar vat behoorlik sy tyd om te kies tussen twee soorte deodorant en twee soorte skeerseep. Ewe skielik soek hy kastig ook kouse, en sakdoeke. “En wat is alles in daardie skoenbokse op die boonste rak?”
Toe sy wik en weeg, bieg hy: “Ek soek nie regtig skoene nie, ek hoop net jy gaan op die leertjie klim, dan kan ek na jou bene kyk.”
“Sjt,” keer sy angsvallig. Enigiemand kan instap, of oom Daan se gespitste ore kan die jillery hoor. Sy voeg by, net ingeval oom Daan regtig luister: “Maar as dominee …”
“Eina, hoe seer kry my ore. Maar goed, ek verstaan. Toe maar. Los die skoene. Kan ek van daardie roomtoffies in die fles kry? Verkoop julle dit los, of per dosyn?”
“Het dominee nie vanoggend werk nie,” vra sy hoflik, maar met lag in haar stem. Sy skroef die deksel af en hou die fles skuins: “Die eerste een is gratis, net ’n proefie.”
Hy neem twee, vroetel albei se papiertjies af en druk een in haar mond. Sy kou dapper om te kan sluk voor oom Daan kom. Sy hou van die ontspanne, gemaklike manier wat Elzar het. Sy het al gehoor hy is “minlik” en “sonder aansittery”. Maar hy sal tog versigtig moet wees. Mense laat nie maklik met hulle opvattings bodder nie. Hy moet darem sedig genoeg ook lyk.
“Elke dag as ek in die hoofstraat is, loer ek by die bib in,” skimp hy.
“Ek gaan môre.” Dis die waarheid. Tant Rykie se boeke moet ingegee word. Nie hernuwe nie, was die boodskap aan Bina, sy kry nie tyd om te lees “met die ou kleintjie in die huis en so” nie. Wat die “en so” is, kan Bina net raai. Rusies vreet tyd, sy sien mos maar met oom Kola en Tanna ook.
“Môre is lank. Ek werk met ’n rooster.” Hy haal ’n sakboekie uit sy hempsak en blaai dit oop. Daar pas ’n klein potlood in die spiraalruggie. Sonder dat iemand haar dit hoef te vertel, weet Bina dat sy byna-verloofde dit vir hom gekoop het. Op sy lessenaar sal hy wel ’n groter rooster hê. Daar gaan baie in so ’n gemeente aan. Op Sondagoggende is daar talle afkondiginge.
Sy brand om kerk toe te gaan en hom te hoor preek, maar sy wil ook nie so ewe skielik gaan nadat sy en Tanna so lank laas daar was nie. “As oom Daan my bib toe vat, dan ry ons gewoonlik elfuur, hy kry dan sommer sy pos ook.”
“En as hy jou nie vat nie?” Hy kyk haar vas aan, langsaam kouend aan die sagte toffie. Dis duidelik wat hy wil weet: vat die jong meneer Duraan haar dan?
“Dan gaan ek nie,” sê sy byna kortaf. Sy voel haar wange warmer word. Mag haar verleentheid tog nie sigbaar wees, o asseblief nie.
Hy stip dit aan. En so gaan Elzar Enslin weer, verlaat hy die winkel met sy beskeie aankope. Hy het te kenne gegee dat hy studieskuld afbetaal. En hy spaar seker ook om te kan trou. Die winkel is leeg toe hy weg is. Hy laat mens beter voel as voor jy hom gesien het; of is dit net sy wat dit so ondervind? Nee, selfs oom Kola was meer genaakbaar na hy die aand by hulle was.
Dawid kom eers teen elfuur ingestap. Hy steek hemp in en stryk oor sy hare. “Skuus Pa, Bina, ek moes eers Ma se huisgoedjies ook aflaai.”
“En ek dag jy bring ’n moerkoffietjie,” verwyt oom Daan in sy goedige, fynerige stem. “Ons het net nylonkoffie. Die dominee was hier en ons kon dit tog nie vir hom aanbied nie. Is jou ma se koffiekan dan droog?” Daar is twee groot termosflesse wat gereeld roteer.
“Pa moenie nog praat nie,” sê Dawid. Hy kyk skaars na Bina en die onweer broei in sy oë. “Die duiwel is los daar anderkant.” Die sweet slaan in klam kolle onder sy arms uit, en dit terwyl dit nie eens vandag so warm is nie. Juis vanmôre het Bina daaraan gedink dat die herfs in die lug is, toe sy die wingerde langs die voetpad sien verbruin.
“Nou