Louisa du Toit Omnibus 10. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit страница 16
Toe sê hy dit wat sy reeds gesnap het: “Voorkoming is beter as genesing.”
Sy skud die boeke wat sy uitgesoek het, in haar arm reg. “Jou aanstaande,” sis sy gedemp, “sal niks by jou kan oorvat nie. Wees gerus. Jy sit vierkantig op die stoel. Die preekstoel,” voeg sy by en wys hom haar rugkant.
Eintlik verdien sy ’n sarkastiese antwoord, iets soos “Weet jy ooit hoe die preekstoel lyk, as jy nooit daar kom nie?” Maar sy weet ook reeds dis nie Elzar se styl: sarkasme, vergelding nie. Hy is te gemaklik en menslik.
Hulle is nou naby mevrou De Wet, en hy sê so ewe: “Dankie vir die raad oor die boeke, juffrou Bina. En sê vir meneer Duraan daardie goedjies wat ek in sy winkel gekry het, is kwaliteit.”
Buite die biblioteek haal hy, kastig ongehaas, haar ongemerk in. Oom Daan se bakkie is nog nie daar nie en sy moet in die skaduwee van die boom op die sypaadjie wag. “Dink oor ’n pos in die biblioteek, of hoe?”
“As jy my wil wegkry waar ek is, sê net so. Maar ek sal self weggaan as en wanneer ek wil. Ek het nie nodig dat ’n joppie vir my bewimpel word nie.” Tog sou sy bitter graag hier werk. Heeldag tussen boeke, sien sy dalk eindelik kans om in te skryf vir posstudie. Van haar belofte aan die destydse skoolhoof het nog niks gekom nie.
“Kan ek jou woord hieroor vat?” Nou is hy dalk effentjies sarkasties, want hy het tog al moes aflei dat sy nêrens anders het om heen te gaan nie. Maar hy glimlag tog. En terwyl hy daar staan, moet hy na links en regs knik en groet en waai terwyl hy, so vermoed sy, seker nog sukkel om name onder die knie te kry. Hy staan een keer op die kansel en honderde mense ken hom en verwag dan dat hy hulle ook moet ken.
As die vorstelike byna-verloofde weet wat op haar wag, sal sy liewer nie so gretig wees om te kom “oorvat” nie. Wie sou hom help met die tee as hy die vele vergaderings aan huis het? Sy het gehoor hy het ’n bekwame huishoudster. In hierdie dorp hoor ’n mens ongeveer alles. Wat jy nie hoor nie, is nie die moeite werd nie. So, dalk sal die dorp nie hoor dat die dominee eers in die biblioteek en daarna buite op die sypaadjie ’n paar woorde met Bina gesels het nie. Ag, man, Bina Watsenaam, wat by die ou twee sondaars bly, sy werk by Duraan se winkeltjie, oorkant die rivier, die een wie se pa haar doerie jare weggesmyt het, jy weet mos?
Sy voel die res van die dag so verlate, verstote, weemoedig, op ’n kaal emosionele vlakte. Almal het iemand, net sy nie. Selfs oom Kola en Tanna het mekaar, al is dit net om te skoor. Oom Daan laai haar sommer tuis af vir middagete, aangesien dit amper toemaaktyd is. Ook maar beter, sy sien nie kans om in Dawid se teenwoordigheid te wees nie. Dawid, wat op die dominee se taaklysie staan. En sy self, Bina, het hy iewers iets oor haar neergeskryf, en wat? Hy het ’n volledige stel alfabetiese kaartjies oor al die lidmate. Dalk het hy geskryf: Potensiaal, maar onwenslike omstandighede.
Oom Daan moet aanvoel dat sy besonder teruggetrokke is, want hy praat ewe rustig, terwyl sy brilglase blink – en dit blink altyd, want hy verwerk sy spanning deur hulle op te vrywe, met ’n spesiale vryflappie in sy brilhuisie indien sy sakdoek nie meer skoon opgevou is nie. “Hoekom bly jy nie maar die res van die middag ’n slag tuis nie?” bied hy aan. “Jy gaan nooit eers met verlof of iets nie, ek voel al so skuldig.” Hy voeg by, met wonderbare takt en insig: “Jy is seker ook haastig om jou nuwe boeke te begin lees.” Hy beduie met die kop na die stapeltjie op haar skoot. “Jy hou dit vas of dit kosbare skatte is.”
“Maar dit is, oom Daan,” reageer sy dankbaar. “En goed, ek gaan dan vanmiddag sommer lekker in die kamer lê en lees, die huis is nie meer so warm nie. Sal oom en Dawid regkom?”
“Ja wat.” Effens grimmig, asof hy nie oor sy seun wil praat nie.
Sy lees inderdaad lekker nadat sy effens gesukkel het om te konsentreer. Die gevoel dat Elzar haar op ’n manier verraai het, wil haar nie verlaat nie. Sy probeer oor en oor van bladsy een af, soekend dat die storie haar moet boei. Dis ’n novelle wat uit Frans vertaal is, van die skrywer Georges Simenon. Blind Path handel oor ’n rykmanslewe van verveelde adellikes in afgeleefde herehuise en duur seiljagte teen die Franse Riviera, met die hoofkarakter ’n werknemer wat besonder geheimsinnig gebeeld word. Hy koester ook ’n tevergeefse liefde. Dit moet wees dat hy hom op ’n doodlooppad bevind. Net daarvoor sal sy aanhou lees, om uit te vind wat gebeur het en hoe hy dit hanteer het. Maar sy treur nog oor die boeke wat sy klaar gelees en omgeruil het, soos Ilona, want elkeen het ’n nuwe verlange in haar gesaai.
En so gaan die middag tog om, met oom Kola en Tanna wat bly is om haar die hele middag tuis te hê en kort-kort ietsie kom vra of aandra. Toe dit tyd is om vir Makkie te melk, het Bina se weemoed ’n nuwe tint, ingekleur met die weemoed van vreemde lande en ander tye. Indien sy ooit bles moet word soos die melkmeisies van destyds, sal dit vanaand gebeur, want sy rus haar voorkop teen Makkie se warm flank selfs nadat die spene leeg gemelk is.
Japie kom, tot haar ergernis, nog voor hulle kan eet. Hy loop sulke lang, vooroor treë asof sy kop sy voete wil verbysteek.
“Wat is dit dan wat jy daar in die kardoes het, Japie?” wil Tanna weet.
Want Japie sit met die bruin kardoes se opgewende opening op sy knie, soos ’n verlepte blommeruiker wat jy aan die stele vashou. Die kardoes self is so voos gebruik dat dit eintlik saf is. Dit lyk of Japie skoon daarvan vergeet het, want hy is tot barstens toe vol nuus oor dingetjies wat maar nie “daar oorkant” wil regkom nie. Menende dat hy soos gewoonlik van oorsese nuus praat, steur Bina haar nie verder aan hom nie, behalwe om te probeer raakluister of hy weer by oom Daan Duraan-hulle aan huis kom.
“Ek sal nou-nou van die kardoes vertel, Tanna,” en Japie borrel eers oor van die groter nuus. “Vanaand is die duiwel heeltemal los daar oorkant. Ek wil vanaand weer ’n slaggie nuus gaan luister het by oom Daan, want ek dink die twee oumense mis my ook maar. Maar heiden, Tanna, waar trek daardie Ingelse vroumensie los en sy skel almal dat die see hulle nie kan afwas nie. Ek het maar gou my koers gekry.”
“Nou wat dan nou weer, Japie?” vis Tanna uit. “Sy het alles van die beste daar by Rykie-hulle, sy hoef haar hande nie in die koue water te steek nie.”
“Ja, Tanna. Ma reken die dominee moet nou by oom Daan-hulle gaan ingryp, anders word dit ’n sweer in die samelewing. En Dawid sê nie ‘pap’ om sy vrou in toom te hou nie, sê Ma, ek bedoel, het ek met my eie oë vanaand gesien.”
“Dawid is vir vrede,” sê oom Kola kort. Hy het altyd van Dawid gehou.
“Ja, oom.” Japie is kennelik van stryk af, noudat oom Kola iets gesê het wat hy met sy beperkte denke nie self kon formuleer nie. “Ma bedoel eintlik, oom, ’n man moenie toelaat dat sy vrou so op hom skree nie. Veral nie as hy ’n man vir vrede is nie, soos oom self sê.”
Oom Kola verwerdig hom nie om verder te reageer nie. Net Tanna korrel nog weetsiek na Japie terwyl Bina stilweg vir aandete klaarmaak. Sy sal maar vir die knaende Japie ook ’n plek moet dek.
“Japie, het jy of jou ma dan nou nie gehoor presies wat die vroutjie vir Dawid skree nie?”
“Ons is ook maar versigtig, Tanna. Die vrou kan ’n mens prosedeer vir laster.”
“Is ook so, Japie.” Tanna hou haar oog op die kardoes.