Louisa du Toit Omnibus 10. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit страница 20
“Jy staan op troue, dominee.”
“O ja, ek vergeet.” Hy klap hom teen die kop. “Kan ek nou? Probeer melk, bedoel ek?”
“Behalwe dat dit nie so maklik is soos dit lyk nie, is ek feitlik klaar. Sy begin opdroog.”
“So, sy moet eers weer ’n slag trou en ’n boklammetjie kry voor sy nuwe melk het. Ek het darem familie op plase, hoor.”
“Ja, dalk moet oom Kola, solank ek weg is …” Dit het uitgeglip.
“Ek hoor van die weggaan, ja. G’n wonder jou hare is so blink gewas nie.”
Sy voel selfbewus omdat dit nog nie vasgebind is nie. ’n Redelike boskaas.
“Jou Tanna daar binne is so verhuil dat haar oë soos twee verdrinkte rosyntjies in haar kop sit. Jy kon my darem gister in die bib gesê het.”
“Ek het jou mos gesê ek sal my eie reëlings tref, het ek nie?”
“Jy was baie vaag. Maar toe sê meneer Duraan my netnou jy wil bietjie weg.”
“Jy was daar by hulle?” ys sy. Dinge is juis nou so sensitief. Maar hy wou mos gisteraand al kom, toe oom Daan hom weggekeer het met die storie dat hulle moet slag.
“Ek moes ’n draai maak. Dis my werk. Behalwe preek, doop, trou, katkiseer, begrawe. Nie die lekkerste deel, hierdie vredemakery nie, maar ek doen dit. Soos jy in die winkel kardoesies vul en toffies aftel.”
“So, hy en tant Rykie het nog nie gery nie? Dit word laat.”
“Nee, maar hulle was op die punt. Hulle slaap glo vannag eers by familie op ’n plaas, naby iewers. Ek het belowe om met hulle seun op te volg.”
Hy gaan met Dawid praat. Oor vergifnis. Versoening. Hoe gaan Dawid dit ontvang? Hom dalk vererg? Hy is goedig van aard, maar hy is ’n Duraan en kan sy man staan, en geen mens laat buitendien graag in sy privaatsake krap nie, deur wie ook al.
“Maar hoe kon oom Daan vir jou sê dat ek weggaan? Hy weet mos net dat ek verlof vat so lank as wat hulle weg is.”
“’n Verstandige stap,” knik hy. “Maar nee, dis eintlik mevrou Duraan wat uitgevind het jy gaan weg. Sy het glo vanmiddag jou oom Kola oor haar foon hoor reëlings tref.”
“Geluk, Elzar, jy begin verstaan ons tromme alte goed. Die nuustromme, soos in die oerwoude. Weet jy wat het ek alles van gister af gehoor? Dat ek en jy in die bib saamkoek, dat Tanna ’n galblaasoperasie moet ondergaan.”
Sy begin vertel maar toe sy by Japie en die kardoes kom, lag Elzar so dat hy kantel en omval. Hy bly net daar lê, magteloos – sodat sy, ook laggend, die melkbeker eenkant op die kweek neersit en hom probeer optrek, haar vingers sterk om syne. Die sonbesie het hom stom geskrik. “Ja, toe, stil jy ’n slag,” praat Elzar in die boom in. “Ons het groter probleme hier benede.”
“Jy hou jou aspris swaar,” verwyt sy.
“Nee, ek is so swaar. My hart weeg ’n ton. As ek opstaan, gaan dit deurval op my voete. Dis die vingers van jou.”
“Jy speel met my,” besef sy en los sy hand soos ’n warm patat. “Jy is net ’n ordinêre mansmens, hoor jy?” Maar sy is nie regtig kwaad nie, net ontsteld oor die aangename sensasie van hulle vingers wat so maklik verstrengel het.
Hy staan op, stof hom af, vat die beker by haar, teug daaruit. “Hmm … ek voel hoe die kalsium en vitamines my binnestroom. Amper soos Popeye met die spinasie.”
“Jy het ’n wit snor.”
“Vee jy dit vir my af?”
“O nee, netnou gryp jy my hand, en dan my hele lyf, en wat moet ek dan doen?” spot sy.
“Jy lees my gedagtes.” Hy vee die skuimsnor met sy hand se rugkant weg, lek dit af. Nou sit daar op sy bolip net die donkerige stuwing van stoppels onder die vel. “Nou ja, ek wou nog altyd ’n moestas hê, maar Tanja …”
Indien hy doelbewus die te intieme samesyn wou stopsit, het hy dit reggekry. Bina vind dit jammer. Sy het dit geniet om net bietjie te jil en selfs te flirt, om te vergeet van die wagtende ommekeer van haar afgebakende lewetjie. Met Dawid durf sy nooit so vrypostig raak nie, Japie is te simpel daarvoor.
Juis toe kom Tanna buite die agterdeur staan en roep: “Binatjie, kry dan klaar, Japie het gekom. Dominee sal seker ook bietjie met hom wil gesels.”
Tanna verdwyn betyds, sodat sy nie die dubbele nuwe proesbui op die voorwal hoor nie.
“Wat ís sy storie?” vra Elzar.
“Hy’s maar net sy ma en ole’ pa uitgeknip. Oom Kola sê jy kan nie twee donkies kruis en ’n perd verwag nie. Maar hy’s eintlik ’n goeie siel.”
“Nou ja, dis al wat ek hoef te weet. Die siel is my terrein.” Ernstig nou, byna somber, stap hy saam met haar die paar treë huis toe. “Ek hoor jou pa kom jou haal. Ek het nie geweet jy het ’n pa nie.”
“Alle mense het ’n pa. Waar dink jy kom jou dopelinge vandaan?”
“Ooievaar?” raai hy serieus. “Of hier in julle geweste is dit dit seker rivierapies wat gevang word … pot kookwater, hare afgeskraap, stert afgesny, daai bedryfie.”
“Laat ons maar net sê my pa kon my nie alleen grootmaak nie, my ma is dood toe ek klein was. Hy’t my vir Tanna gebring, en oom Kola het handgegee. Dit sou tydelik wees.”
Sy hoef niks verder te sê nie.
“Nou ja, jy is besig, en ek het net kom groet. Laat ek weg wees. Vergadering vanaand. Een van die swepe wat my op koers hou.”
“Ek is nie te besig om drie eiers vir jou te bak nie.”
“Lei my nie in die versoeking nie. Maar ek moet regtig waai. Ek kom dit eet as jy van jou omswerwinge terugkom. Hoe lank is jy weg?”
“Die idee is een week, maar wie sê ek kry geleentheid terug? So, ek weet self nie.” Dit hang ook af of sy in haar pa se huis in die hondehok sal moet slaap, maar sy sê dit nie. Sy het nou geen ander opsie as om dinge te aanvaar soos dit oor haar pad kom nie.
Japie is besonder stil. Anders hoor jy altyd sy stem soos ’n by wat onophoudelik teen ’n ruit zoem sonder om te vorder. Toe die ander twee die knus beknopte woonkombuis binnekom, spring hy manierlik op en gee vir Elzar hand. “Ek is nou bly om vir dominee op die lyf te loop, ek wou juis met dominee oor aspekte praat. Naand, Bina.”
“Wat se aspekte dan, meneer Kleinveld?”
“Ag, dominee, hy is mos Japie. Net Japie,” onderrig Tanna die onbeholpe gesalfde.
“Nou ja, Japie, wat se aspekte?”
“Dis nou half privaat, dominee, maar nou ja. Tanna en oom Kola kan maar luister, hulle ken my en Bina se sake net so goed soos ek en sy self.”
Elzar moes dadelik gesnap het waarheen die gesprek op pad is, maar hy slaag wonderlik daarin om onkunde te veins: “Maar onthou ek