Elim. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Elim - Helena Hugo страница 11
“Kan jy hom verkwalik?” vra Elie. “Hier lê die koppe ver, daar is hulle naby.”
“Fonteine ook.”
“En hulle loop, al is dit droog?”
“Ja, ek gaan nog bome plant. Perske.”
“Jy moet hoop jy kry ’n vrou soos tant Hendriena,” terg Caroline. “Haar geelperskekonfyt is die beste. Hier staan bottels vol op die spensrak, alles wat sy my laat erf het. Onthou dat ek vir jou saamgee.”
“Moeder het self ook konfyt gekook.”
Ek het, dink Caroline, geskil en gesnipper om saans besig te bly tot Willem aan die slaap is.
“Jy sal vir jou ’n voorslagvrou moet soek.”
Hy antwoord nie.
“Beter as daai Janse-meisiekind.”
“Moeder, los haar.”
“Goed, ek sal nie weer my mond verbypraat nie.”
“Ek is jammer. Ek wil vergeet, dis al.”
“Jy kan nie alleen boer nie.”
Hy gooi melk en suiker in sy koffie en roer voor hy antwoord. “Ek sal nie alleen boer nie, ek sal ’n vrou vat wat bereid is om saam met my te werk – een wat nie heeldag en aldag dans en sing nie, een wat goed is vir my.”
Prys die Here, dink Caroline. Adrie Janse was lief vir pret, dus het hy tot sy sinne gekom en haar ontgroei. Ja, sy kan die verandering sien. Hy het selfvertroue, hy het planne vir die toekoms, hy het moed.
Voor hy ry, sny sy sy hare, neem sy mate vir nuwe hemde en broeke en probeer hom weer sover kry om met haar te praat.
“Miskien is daar oulike meisies in die katkisasieklas?”
“Ek het klaar besluit.”
“O, en wie is sy?”
“Moeder sal sien.”
“Weet jou pa?”
“Nee.”
Een woord en dis “nee”. Sy verstom haar aan die emosie wat in een woord saamgepers word. Daniël is kwaad vir Willem. Hy wat so goed met sy pa klaargekom het dat hy soos ’n klein hondjie agter hom aangedraf het en elke dag voordag reggestaan het om saam met hom klipkrale te bou en pad te skraap. Die seun wat toegelaat word om op Elim te boer, is kwaad vir sy pa wat die vlaktes deurkruis het en byna van dors omgekom het om hom te soek toe hy weggeloop het. Wat gaan aan?
“Jy is kwaad vir jou pa. Hoekom?”
“Ma weet goed, en kom ons los dit.”
Georgina! Moenie sê Willem het laas toe Daniël saam is Kimberley toe, openlik by haar gaan inkruip nie? O, hy sal betaal vir sy sondes. Die Here laat nie die oortreding van sy gebooie ongestraf nie. Hy het die droogte gestuur, Hy het Willem van sy huis af op die trekpad. Enigiets kan hom te beurt val, en wie sê almal is ewe gretig om hom staning te gee?
Willem-hulle kampeer die nag langs die vlei en is die volgende oggend aan die vuur aanslaan vir koffie, toe storm ’n takhaarboer, sy twee bullebakseuns en ’n verflenterde Hottentot te perd deur die kamp. Die boer is harig, onbeskaaf en onbeskof. Hy val dadelik weg met beskuldigings.
“Wie’t gesê julle kan die vlei kom leegsuip?”
“Dag, broer,” groet Willem ordentlik, maar die man hoor dit blykbaar nie. Hy bly op sy Basotho-ponie se rug en kyk van die hoogte op Willem af.
“Waar kom julle vandaan?”
“Kimberley-distrik.”
“Wat soek julle hier?”
“Weiding.”
“Ek gee nie weiding vir trekboere nie.”
“Ek is nie ’n trekboer nie, ek het grond.”
“Jy lieg.”
Willem steek sy hand uit. “Die van is Basson, ek boer op Mispa. My grond lê tussen Barkly-Wes en Kimberley.”
“Ha! Wat boer jy so tussen die klippe?”
Willem wil hom vererg, maar hy hou hom in toom en grinnik net effens. “Julle Vrystaters,” sê hy, “ken duidelik nie goeie Karoo-veld nie.”
“Nou, wat soek julle hier?”
“Ons reent het weggebly.”
“Hier het ons net genoeg vir ons eie vee.”
“Ons het lank op Melrose naby Ladybrand gestaan. Lombaard het ons toestemming gegee.”
“Niemand het julle hier enigiets gegee nie.”
“Ons soek die eienaar, ek het gister die gebied deurkruis. Waar bly julle?”
“Maak nie saak waar ons bly nie, julle is nie welkom nie.”
“Hoe kan ek seker wees dis jou grond as jy my nie huis toe nooi nie? Ek betaal vir die weiding.”
“Wat maak ek as dit die res van die somer nie reent nie?”
“Jou veld lyk baie goed teen wat ons agtergelaat het.”
“Pak op, en maak dat julle wegkom. As julle more nog hier is, sit ek die honde op julle.”
Willem skud sy kop toe hy die vreemdeling en sy bende agternakyk. “Ten minste het ons een dag se weiding uit hulle,” sê hy vir Danster en Rooivalk.
“Daai manne lyk of hulle in die veld slaap,” sê Danster.
“Hulle sal ons in die oog hou,” sê Rooivalk.
“Ons slaap vannag hier en môre voordag trek ons, die diere moet rus. Ek het waaragtigwaar nie gister ’n opstal in die geweste gesien nie.”
“Hulle is mense wat steel.”
“Veediewe?”
“Hulle lyk so.”
“Vannag slaap ek oopoog.”
Willem is gewoond aan sulke nagte, hier in die veld en op Mispa. Hy is nie ’n goeie slaper nie. Skrik van kleintyd af al in die nanag wakker en dan wag hy vir daglig en soek antwoorde op vrae waarop daar geen antwoorde is nie. Dis hoe Georgina hom gevang het. Sy het by hom in die bed geklim toe hy op sy eensaamste was, sy pyp daardie nag weer sy enigste troos. Iemand het die kamerdeur oopgestoot sonder om te klop, suutjies. Hy dag eers dis Caroline, toe sien hy dis haar suster. Sy het so ’n kort kersie by haar gehad. Sonder ’n woord het sy die deur agter haar toegetrek, die kers doodgeblaas