'n Liedjie vir Anine. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Liedjie vir Anine - Elsa Winckler страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Liedjie vir Anine - Elsa Winckler

Скачать книгу

dan sal Anine seker help. Ons praat weer. Lief vir jou, my kind. Ons sal hierdeur ook kom.”

      “Dankie, Ma. Lief vir jou ook.” Sy hande is styf om die stuurwiel gespan.

      Hy is ontsteld, vies en gefrustreerd oor die tydskrifstorie, maar die oomblik toe sy ma Anine Vos se naam noem, het sy hart na ’n hoër rat oorgeskakel.

      Dit gebeur elke keer dat hy haar naam hoor – die mooi langbeenbrunet met die viooltjieblou oë wie se broer, Evan, met sy suster, Anya, getroud is. Ewe skielik was sy net in die prentjie – by die Sondagmiddagetes, die braaie Vrydagaande, die Kersetes. En toe, om dinge net nog meer bisar te maak, trou sy broer, Stephen, met haar suster, Lizet.

      Anine is mooi, vrek mooi, maar sy is ’n joernalis en dié spesie probeer hy gewoonlik so ver moontlik vermy. Én sy maak geen geheim daarvan dat sy min van hom dink nie.

      Na vandag se storie sal die afkeur op haar gesig seker nog meer prominent wees.

      Maar hy dink aan haar. Wonder oor haar. Baie. Vandat hy haar die eerste keer gesien het, fassineer sy hom. Hoekom weet hy nie regtig nie. Ja, sy is mooi en sexy, maar daar is baie ander girls wat veel minder draadwerk het. En hoekom sal hy nou bekommerd wees oor haar reaksie op die nuutste skinderstorie? Wat sy van hom dink, behoort nie saak te maak nie. Maar om die een of ander rede maak dit wel saak.

      Hy sou graag wou hê sy moet weet hy doen nie die soort dinge waarvan hy beskuldig word nie. Maar hy is bevrees sy het hom lankal in die kategorie geplaas van popsanger sonder ’n brein en met te veel testosteroon, een in wie sy nie die minste belangstel nie.

      Haar opinie oor hom … Hy skud sy kop. Of hy dit nou wil weet of nie, dit maak tog vir hom saak wat sy van hom dink. Vreemd, want sy is glad nie die tipe vrou in wie hy gewoonlik belangstel nie.

      Sy is byvoorbeeld pynlik netjies. Haar hare is gewoonlik styf agtertoe gekam en in een of ander bolla of poniestert vasgemaak. En sy het altyd ’n soort pakkie-affêre aan met ’n baadjie wat styf toegeknoop is. En van wat hy uit gesprekke met haar ma en suster kon aflei, is haar hele lewe netjies in boksies verdeel: elke besluit word haarfyn oordink; sy is nie iemand wat impulsief optree nie. Heeltemal te prim en proper vir hom. Dit lyk of die vroumens nie weet hoe om te ontspan nie.

      Buitendien het hy haar maande laas gesien. Hy frons. Verlede Kersfees om presies te wees. Hy was dikwels weg, sy het ander werk gekry en om die een of ander rede het hy haar nog nie vanjaar te siene gekry nie.

      Hy vryf oor sy gesig. En so sit en dink hy, minute nadat hy haar naam gehoor het, nog steeds aan haar. Hy moet songs skryf, dink aan sy album, nie sit en droom van ’n vroumens en haar lang bene nie.

      Gefrustreerd trommel hy op die stuurwiel. Hy stoei met en roei teen die Here, maar die afgelope paar maande praat en bid hy teen ’n muur vas. Wat die Here vir hom wil sê, kan hy nie agterkom nie, en maak nie saak hoe hard hy probeer luister nie, antwoorde bly hom ontwyk.

      Nou gaan hy maar vir Stephen help met iemand anders se album. Miskien, net miskien, inspireer dit hom om weer musiek te laat hoor.

      Sy foon lui. Charles. Seker nog joernaliste wat gebel het.

      Twee

      “Tannie Anine! Tannie Anine! Mamma, dis tannie Anine!”

      Anine glimlag vir die opgewonde stemmetjie aan die ander kant van die deur terwyl sy op die stoep wag. Sy vryf oor haar nek en kyk nog ’n keer om. Afgesien van ’n wit Mercedes voor die bure se huis, is daar geen ander beweging in die straat nie. Dis nou al ’n paar weke dat sy kort-kort die gevoel kry iemand hou haar dop. Maar sy verbeel haar seker net.

      ’n Neurotiese oujongnooi – dis wat sy word.

      Die voordeur swaai oop. Haar suster, Lizet, het die jaar oue Marina op die heup; haar hare is in krullers en sy is nog in jeans en ’n T-hemp, terwyl klein Soekie opgewonde van die een been na die ander spring.

      “Anine, kom in. Soos jy kan sien, is dit chaos hier,” glimlag Lizet. “Ek sien al so uit na my en Stephen se date-night …”

      “Anine, Anine!” Klein Marina steek dadelik haar armpies uit. Anine neem haar laggend uit haar suster se arms. Sy vee oor die kleintjie se vuil gesiggie.

      “Gaan maak rustig klaar, ek is mos nou hier. Dit lyk vir my ons moet nog bad?”

      “En eet, asseblief, tannie Anine. Alles is reg in die kombuis, as jy net vir klein Marina sal help. Zander het vroeër vandag oorgekom, en hy en Stephen werk nog heeltyd aan een van die ander kunstenaars se songs. Dit klink my of dit baie langer neem as wat hulle gedink het, maar ek het tien minute gelede gehoor hulle is glo amper klaar. ’Skies dis so deurmekaar …”

      Anine ignoreer die skoenlappers wat om ’n onverklaarbare rede op die krop van haar maag begin fladder. Zander is net nog ’n man, aardetjie tog! Een wat sy maande laas gesien het.

      “Dis altyd deurmekaar by jou, Zet. Ontspan. Teen dié tyd weet ek wat om te verwag wanneer ek instem om vir julle te kom babysit. Toe, gaan maak jou mooi, ons gaan solank komb-”

      “Is die babasitter al hier?” hoor sy Stephen se stem en toe sy opkyk, kom haar swaer uit die rigting van sy ateljee. En agter hom, groot, lank en belaglik aantreklik, is sy broer, Zander.

      Anine se hart skop wild teen haar ribbes, ’n sensasie wat sy altyd voel wanneer die ellendige man in die ronde is. Goeiste, is dit nou nodig?

      Sy het hom die afgelope jaar doelbewus probeer vermy, juis oor hierdie simpel reaksie op hom en, sowaar, die eerste keer dat sy hom weer na seker sewe, agt maande sien, skakel haar hart oor na die volgende rat.

      Regtig verspot.

      Ja, die man is aantreklik, onredelik aantreklik om presies te wees, maar hy is ’n bekende popster, een met ’n rits gebroke harte agter hom waarvan die pers gereeld vertel. En as joernalis weet sy van elke storie in die koerante, tydskrifte en sosiale media.

      Nes sy van vandag se storie weet.

      Sy is nog vies vir haarself omdat sy hoegenaamd die ponietydskrif gekoop het. Maar toe sy die banieropskrifte teen die lamppale lees, het sy by die eerste winkel ingetrek en een gekoop.

      In die artikel vertel een of ander vroumens in kleur en geur van haar nag saam met Zander Breedt. In grafiese besonderhede. Baie grafiese besonderhede. Die sosiale media-platforms het ook oor die nuus gegons.

      Platforms waarna sy natuurlik moes kyk.

      Zander se reputasie onder vroumense is geen geheim nie, maar goeiste, het die man geen skaamte nie? Wat van sy ouers? Sy broer en suster? Wat moet hulle van die hele petalje dink?

      Sy optrede is uiteindelik net nog ’n bewys dat die manlike spesie nie vertrou kan word nie.

      Daar is uitsonderings: haar pa, haar broer, Evan, en oukei, ja, Lizet se Stephen is ook heel aanvaarbaar, want hy is ooglopend dolverlief op haar suster.

      Maar dan is daar die Ronnie Smits van die lewe. Die mans wat in plaas van beskerm, seermaak, en in haar sus Marina se geval, sommer doodmaak.

      Hoe weet ’n vrou die man op wie sy verlief raak, gaan haar nie seermaak nie? Hoe weet mens sy liefde grens nie aan besitlikheid nie? Hoe herken jy ’n psigopaat?

      Vandat haar suster,

Скачать книгу