Louisa du Toit Omnibus 11. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit страница 18
“Dalk moet ek die eerste paar keer dan maar daar bo gaan slaap,” korswel hy. “Dankie dat julle vir my ’n boom geplant het.”
“Dis deur die natuur geplant, lank gelede. ’n Kameelboom se saad groei eers as dit deur ’n bees se pens gegaan het. Die huis kry darem dele van die dag ook ’n porsie van sy skaduwee.”
Hy sit sy goed eers op die vloer neer, kyk ongemerk rond. Dis basies, maar toereikend. Hy het vlugtig gemerk dat hy die ander se kamervensters kan sien as hy buite staan. Watter venster is hare? Die middelste, raai hy.
“Die badkamer is sommer hier naby jou op die systoep,” beduie sy. “Hier is in elk geval ’n wastafel met ’n beker water en ’n waskom. Die toilet is ook op die systoep, en dit spoel solank die drukking in die dammetjie hoog genoeg is. Anders val ons terug op die buitegerief.” Sy beduie na die hokkie van sink op die ver rand van die werf. “Ek is bevrees dis dan jou hele habitat.”
“Ek het niks meer nodig nie,” verseker hy haar. “Ek dink ek sal die meeste van my tyd in die skool deurbring.”
Hy is bly oor die stoel en tafeltjie, bed en klerekas. Die boekrak is nie groot nie, maar hy sal nie al sy boeke afbring nie, hy kan bo gaan omruil of haal wanneer nodig. Van nou af sal dit vir hom ook “bo” en “onder” wees.
“As jy wil hande was, ons eet so binne tien minute. My ma lyk paraat, maar sy is nogal tydsaam,” klik sy weer. “Nog iets wat jy wil vra?”
Hy wil vra of Boel vanaand kom, en wat hy moet doen wanneer Boel hier kuier. Soos ’n lastige kind gesien maar nie gehoor word nie, of omgekeerd? In plaas daarvan vra hy: “Ek hoop nie dit pla as ek my klein platespeler gebruik nie. Ek is naby julle kamervensters. Ek sal dit so sag moontlik hou.”
“Ons kan net baat. Ek sal help batterye koop,” belowe sy danig ernstig.
Dan vra hy tog: “Waar is jou opsitplek, sodat ek daar kan wegbly?”
“Boel kom nie in opsittyd nie. Het jy ’n meisie?” skiet sy terug.
“Ja, maar ons sit nie op nie. Ons het ook nie juis plek nie.”
Snaaks genoeg, is nie een van hulle geamuseerd nie.
“Ek hou van die sementtrappie voor my deur,” beduie hy. “Ek sit graag op ’n stoepie, hoe platter hoe beter. Dit gee mens besondere perspektief.”
“Ek glo dit hou jou nederig,” stem sy in, sonder glimlag maar tog met ’n geamuseerde trekkie in die oë.
Toe sy weg is, kyk hy deegliker rond, verbaas oor die ruimte wat die buitekamer bied. ’n Vae reuk laat hom vermoed dat dit tot gister dalk deels pakkamer was, sy het gesê haar ma moes dinge laat indra en laat uitdra. Dalk hoendervoer, paraffien. Die sementvloer is skoon, maar nie gepoleer nie. Ook nie vreeslik gelyk nie. ’n Matvierkant lê die oopte vol. Watter kamer in die huis moet nou sonder die mat klaarkom?
Hy begin ’n warm waardering vir die basiese soort lewe voel. Geen enkele tierlantyntjie nie, behalwe dalk die almanak aan ’n spyker teen die muur. Driekolk Kontantwinkel.
Hy kan later vanaand die nodigste uitpak, en môre die res. Hy moet leer om dinge stadiger te doen en die dae makliker om te kry, veral die res van die vakansie. Hoewel die tempo van arbeid hier vinnig is, is daar tog ’n langsame gedraenheid in die lug.
Hy hoor ’n gedreun, en sien in die groeiende skemer die rooi vragmotor van Boel Meyer met die stofpad verbyry. Hoe intimiderend was daardie lorrie en sy baas net gister nog; hoe vreemd was dit, ’n essens van hierdie geweste waar die onwennige vreemdeling pas sy voete geplaas het.
’n Luide getoeter moet seker Nida se aandag trek. Met ’n nuk van moedswilligheid waai Nelis vir hom waar hy buite die deur op die grondwerf staan. Hy het hom nie verbeel nie: agter die stuurwiel ruk Boel se kop op.
Het hy gisteraand vir Nida die beloofde klapsoen kom gee? Dit klink amper soos die tema vir ’n volksliedjie.
Dan kom Leen op die systoepie uit. “Meneer kan maar kom aansit,” nooi sy plegtig.
’n Mens is in sommige opsigte maar soos ’n dier, besef Nelis toe hy na enkele dae die roetine al so goed ken dat hy wonder hoe hy ooit oor die losiesstorie kon twyfel. Die eerste nag in die huis teen die rant was eensaam en onrustig, en hy sou boonop mettertyd in vuilheid en ondervoeding verval het. Wat weet hy van skoonmaak en kosmaak? In sy lewe was dit nooit nodig nie.
Dis goed om deel van ’n gesin te vorm, al is jy die een op die rand. Hy sien hulle maar rakelings, eintlik net met etenstye, en dalk in die aand ’n rukkie se stoepsit; hetsy op die toegerankte stoepie, hetsy op los stoele op die kaal werf buite die agterdeur, naby die stofpad waar ander Driekolkers af en toe met vegende ligte verbyry.
Dis verbasend hoe besig hy is. Skoolouers ry aan om hom te ontmoet, verkieslik by die skooltjie, waar hy lang ure deurbring. Hy voel soos ’n uitgevrete stalperd, haastig vir die tuig. Al sal dit meermale skawe, hy verlang daarna.
Hy het nog nie sy telegramme aan Reinet en sus Freja opgevolg met die beloofde briewe nie.
Vir Freja moet hy tog maar bel, en hy weet nie hoe om te werk te gaan met die onkoste nie. Gedagtig aan sy hospita se berekeningsgees, neem hy ’n notaboekie en skryf daarop: C. Hoffman – oproepe. Hy bind ’n stukkie lyn daaraan vas, lank genoeg dat Leen dit om haar nek kan dra as sy wil.
“Hoe sal ek weet hoe lank om te praat?” pols hy vir Nida.
“Die sentrale se stem sal insny en sê drie minute is om, en jy kan dan vinnig klaarmaak of voortpraat. En onthou om wanneer jy klaar is ’n kort aflui te gee.”
“En die koste?”
“Ek is seker die posmeester sal jou hooflynoproepe kan uitsif. Ek waarsku net, daar is glo ’n nuweling op die skakelbord. Almal is nie ewe knap nie, party sukkel. Dalk leer sy nog.”
“Leerlinge is my nering.” Met ’n skerp steek van heimwee onthou hy die aand toe hy gesit en kyk het hoe Reinet met die bedrywige skakelbord speel soos ’n kat met ’n muis. Tien muise, twintig.
Hulle is besig om op te ruim na aandete, en Nida weier dat Nelis help. “Jy betaal losies,” is die verweer waarteen hy hom elke keer vasloop. Of wil sy hom dalk nie onder haar voete hê nie? Verplig voel om te gesels nie? Verwag sy vir Boel?
Dis wat hy gereeld wonder, maar Boel is inderdaad nie ’n gereelde aandbesoeker nie. Die moeder se ontevrede gesig verhinder hom waarskynlik. Nelis begin trouens al hoe sterker vermoed dat die uitnodiging tot losies ’n poging is dat hy vir Boel moet uitsit.
Boel kom soms daar aan, maar selde in tradisionele opsittyd. Gewoonlik teen skemer, bokmelktyd, gesels dan staan-staan en loop-loop, met Arno, met Nida veral, en ook skuinsweg met Nelis, altyd so half grappig asof iemand soos die skoolmeester nie waar kan wees nie en dus nie ernstig opgeneem moet word nie. Sulke tye is Leen Thirion besonder aanhalend teenoor haar loseerder, word hy stilweg opgehemel en voorgetrek.
Dis dan dat Nelis wens sy wil dit nie doen nie, sy stook net onrus. Verwag Leen van hom om Boel se hand in die as te slaan?
Hoe en waarmee? Hy is ’n gebroke siel, verswak deur skuldgevoel, en boonop met ’n meisie soos Reinet wat druk op hom plaas. Hy gaan beslis nie nog skuldgevoelens op sy gewete laai nie. Nida gee ook geen aanduiding dat sy op meer as toevallige wyse